Onontdekte juwele kan ‘n mens, hulle nie werklik noem nie. Geheime ook nie. Vandag deel ek egter graag met joernaal-vriende vyf juwele in die sentrale Kruger-wildtuin wat hoog op my lys van MOETE is. Dit is plekke waarheen ek en Tokkie graag besoekers bring, en waarop van hulle so versot geraak het dat hulle telkens terugkeer.

Onder die vyf is twee piekniekpekke, Nhlanguleni in die weste en N’wanetsi in die ooste (hoekom die een “n” n afkap-komma kry en die ander nie, weet ek nie). Die ander drie is ‘n voëlskuiling, Lake Panic, naby Skukuza, die Skukuza-gholfbaan (heerlike ontbytplek) en die NG gemeente Krugerpark. Drie van die vyf is ‘n klipgooi van Skukuza – dan is daar mense wat nie by Skukuza dood gesien wil wees nie! Een is nader aan Satara, maar die pad van die suide af (d.w.s van Skukuza) is sterk aan te beveel. Die vyfde moet jy van Satara af nader – die pad is amper ‘n groter genot as die bestemming.

Nhlanguleni het ons ontdek na die sterk aanbeveling van ‘n amptenaar van die gewese ou Parkeraad se vrou. “Dit is waarheen ons Parkeraadmense altyd gaan. Dis nie juis op ‘n toeristeroete nie,” het sy verklap. Die eerste besoek was ver van die laaste!

Buiten dat Nhlanguleni so afgesonder, stil, aards en ongerep is –

“unspoilt by human hands!” – het ons al op pad daarheen van die beste leeu-, buffel- en olifanttonele gesien. Die leeufoto hierbo is op pad na Nhlanguleni geneem.

Die skilderagtige Lugmagdam net voor jy Nhlanguleni bereik, is uit ‘n wildoogpunt ‘n Wildtuindam sonder weerga. Groot samedrommings sebras, waterbokke, blouwildebeeste, rooibokkies en seekoeie kom voor. As jy gelukkig is, kry jy kameelperde, koedoes en buffels op die koop toe. Verskeie ander damme op die roete lewer ook verrassings.

Hoe kom jy daar? Ry noordwaarts Tshokwane toe. Draai links af na die Mantimahledam. Bly dan op die grondpad verby N’watindlopfu, Jones se dam en die Manzimhlophedam noordwaarts. Dit is die S36, die Nhlangulenipad. Na so 30 km sien jy die piekniekplek (aan die linkerkant) se watertenk. Die natuur in daardie geweste is nie waffers nie en as jy ‘n goeie selfoonsein soek, bly weg. Maar kanse is dat net een of twee ander motors – of geen – die bosatmosfeer daar met jou deel. En jy kan braai met ‘n uitsig op ‘n pannetjie waar enigiets kan kom drink.

N’wanetsi trek hope besoekers. Sy netheid, knusheid, eersteklas-geriewe en lieflike ligging aan die Swenirivier en die N’wanetsidam maak dit egter die moeite werd om die gegons maar filosofies te trotseer terwyl jy jou wors en eiers gaarmaak. Vat daarheen die S100 wat 2 km suid van Satara oos swenk. Dit is bekend as die N’wanetserivierpad. Op daardie pad het die Van Deventers al groot troppe wild gesien – ook heelparty leeus. Om die Vyf Grotes op een rit raak te loop, is nie onmoontlik nie.

Moenie by die Gudzanidam verby ry nie. Daarvoor draai jy noord aan die einde van die rivierpad. Die kilometer of twee wat jy ekstra ry, beloon jou met een van die mooiste water-uitsigte in die Wildtuin.

Die voëlskuiling Lake Panic is digby Skukuza. Jy kry die afdraaipaadjie na links so 10 km van die Krugerhek af. Herman en Rina le Roux wat Lake Panic deur ons ontdek het, maak nou soveel reklame vir die plek onder hul aansienlike vriendekring dat die toeloop eenvoudig moet groter word! Op die oomblik is die kanse egter nog goed dat daar vir jou ‘n stilhouplek (net agt motors word toegelaat) en ‘n paar sitplekke in die skuiling self sal wees. Moet net nie jou kamera en verkyker vergeet nie. Watervoëls is gek na die plek. Jy sien ook gereeld pragtige bosbokkies, hope seekoeie, krokodille en skilpadjies. Ons het al buffels daar gekry. Ons kinders het olifante afgeneem wat deur die water ploeg.

Aan dieselfde meer lê die Skukuza-gholfbaan. Die is al geruime tyd oop vir die publiek – jy moet net n vrywaringsvorm teken, want jy kan jou enige tyd in

‘n leeu, ‘n wildehond of ‘n ander gevaarlike ding vasloop. ‘n Bruidegom het sy naam krater gemaak toe hy net voor sy swaai vir ‘n trop wildehonde skrik, sy bruid omtrent onderstebo spring om in ‘n boom te kom. Van sy veilige tak raai hy haar toe luidkeels aan sy as wapen moet gebruik: “Vat die nine iron! Vat die nine iron!”

Jy hoef egter nie gholf te speel nie om die gholfbaan, sy ruim grasdak-klubhuis en die prentjiemooi uitsig oor die negende setperk aan die oewer van Lake Panic te geniet. Die klubhuis is bekend vir sy ontbyte (en die kroeg is altyd oop). Groot porsies, smaaklik en niks duur nie. Trouens, vra my wat is die beste kopie in die Wildtuin. Daardie ontbyt, sal ek dadelik antwoord.

As jy op ‘n Sondag in die Wildtuin is, doen jouself ‘n guns en gaan kerk toe. Dit is in Skukuza se personeeldorp aan die N’waswitshaka. Dienste is om 08:30 en jy kan maar met ‘n oopnekhemp gaan. Ek het al in die hoogsomer ‘n ouderling met kortbroek en tekkies uit die konsistorie sien kom! Die rustige atmosfeer in die intieme kerkie spoel behaaglik deur ‘n mens se gemoed. Die leraar, ds. Carl Louwrens, het altyd n boodskap wat tref, en die klein Skukuzagemeenskappie is buitengewoon gasvry.

Iets baie spesiaal is die gemeente se stilte-nagmale waarheen jy jou by geleentheid op ‘n weekmiddag vir ‘n uur of wat kan onttrek vir ongejaagde meditasie en bepeinsing terwyl die vlakvarke die grasperk omdolwe en die voëls in die reuse-koorsboom voor die kerk ‘n eie koor vorm.

Ek sou vir Renosterkoppies graag ‘n plek in my eie Vyf Grotes wou vind. Of vir die Sunsetdam by Onder-Sabie in die laat middag. Of vir een baie spesiale suipplek langs die Salitjepad – ene wat na my wete nie ‘n naam het nie, maar waar die Van Deventers al gesien het hoe leeus van die een kant en ‘n luiperd van die ander kant rooibokkies bestorm. Uiteindelik misluk die roofdiere, maar gryp ‘n opportunistiese krokodil wat uit die Sabie verrys, enetjie aan die nek en sleur hom blêrend die dieptes in. Maar dis ‘n ander storie vir ‘n ander tyd en plek. Genoeg vir een dag. (HvD)

Vir ‘n 20-stuks relevante foto’s klik op die volgende skakel: www.picasaweb.google.com/hennievandeventer Klik dan op die omslagfoto van die tydelike album HvD se blogfoto’s (die sebras).

Deel dit: