By ‘n lewensviering wat in elke betekenis van die woord werklik ‘n viering was, het ons vandag vir Koos Myburgh van Melkbos, voorheen wynboer van die Agter-Paarl, gegroet.
Kyk, dit vat ‘n man op ‘n perd om twee maande duskant 80 ‘n kerk op ‘n Sondagmiddag om 12:00 vol te pak vir jou gedenkdiens. Koos s’n het mense uit elke windrigting gelok. Hoeveel honderd? Nie getel nie. ‘n Hele paar – almal gedrewe deur hul innige liefde/bewondering vir hierdie groot gestalte met ‘n hart van goud.
Dr. Marius Falck se boodskap uit Fillipense 4: 4-9 het herinner watter prediker van stoffasie die oud-leraar van Melkbos is. Toe sing hy , nes hy kan, “Voete van ‘n Gemsbok”.
In die huldeblyke deur familie en vriende is ramshoring geblaas, oor heerlike anekdotes geskater, drukkies uitgedeel en vertel, vertel van hierdie uitsonderlike man wat sonder ‘n enkele vyand die aarde kon verlaat.
Gemeentesang was twee geliefde ou liedere wat nou stof vergaar, “Wat ‘n vriend het ons in Jesus” en “Blye versekering. “ Jy kon die blydskap in die mense se harte aanvoel.
My huldeblykie uit vriendegeledere het ek gehaak aan CJ Langenhoven se vonkelversie oor die vrolike vuurtjie:
“Dis die vrolike vlam wat klap en kraak
dis hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak
en sy swaarkry
met lekkerkry klaarkry.”
Kom ons speel ons moet daardie vrolike vuurtjie ‘n naam gee, het ek voortgegaan. My voorstel: Ons noem hom die Koos Myburgh-vuur. Daar was eenstemmigheid. Raker kan ‘n naam kwalik.
Hoekom sê ek so? Omdat ek nie weet van een taak wat daardie vrolike man nie tot vermaaklikheid gemaak het en met lekkerkry klaargekry het nie. Trouens die indruk is dat sy hele lewe vir hom een lang lekkerkry was.
Dit was heelwat oor een toe Tielman Rossouw sy klawerbord-verwerking van “Il Silentio” op die draaitafel oopdraai en die jubelklanke van beuels die kerk vul – wat ‘n glorieryke einde vir ‘n onvergeetlike diens. Niemand het ooit op sy horlosie gekyk nie.