‘n Skielike bevlieging neem ons op ‘n herinneringsrit via Olifants en Balule na Letaba (rondawel D58) en besorg ons ‘n onvergeetlike 24 uur. Het ons al ooit in 24 uur in die wildtuin meer gesien en beleef?

Die aksie begin met ‘n solovertoning deur ‘n leeu by die laagwaterbrug oor die Sandrivier.  Sy draf ligvoets oor sand en teer voor ons uit en laat haar nie aanjaag nie.

Net af van die teer by Olifants op pad na Balule sien ons ’n kameelperd-karnaval  soos nog nooit. Tokkie tel vinnig tot 15 nekke wat by ‘n lieflike klein watergat saambondel en in spanverband drink.

Op pad terug ry ons ons vas in ‘n indrukwekkende trop buffels wat van Timbavati se kant aantou – honderde der honderde. Dalk ‘n duisend of meer. Ongetwyfeld een van die wildtuin se grootste troppe, indien nie die grootste nie.

‘n Ent van Satara was ‘n leeuvangs. Ons sien net die mannetjie wat vlak langs die teer lê en eet  (baie lig van kleur, dalk ‘n witte van Timbavati?) maar wat ‘n parade van gulsige hiënas wat skrik vir niks. Hulle kom uit elke windrigting.

By Leeupan geniet ons ‘n olifant-skouspel.  Dertig of meer,

groot en klein, drink, rol in die modder, skop stof op, blaas stoom af, trompetter en treiter mekaar.

Van sebras en blouwildebeeste was daar troppe. Koedoes, waterbokke – en natuurlik rooibokkies – het gewemel. Steenbokkies was volop. Vlakvarke was hier, daar en oral.

Onder die groter gevleueldes was gompoue, boskorhane (baie) en volstruise.

Ook sierlike bome. Vir ‘n sambokpeul naby Letaba die goue medalje as wenner van die Laeveldse lentewedloop vir 2023. Reeds oortrek met sy briljante donkergeel bloeiselprag, kondig hy vroeg-vroeg al die koms van die naderende lente aan – sommer ‘n hele ent voor sy ritse mededingers van dieselfde spesie langs die hoofpad noorde toe. Wat ‘n pragtige boom in die blomtyd is die sambokboom nie. Ongelukkig is die duur van sy intense skoonheid maar kort – net vier fleurige weke of so.

Oor en oor die moeite werd, al vind ons amper R1 800 vir ‘n afgeleefde  rondawel bra styf.  Geen warm water om te stort. Die ysbakkies in ‘n yskas wat lyk of dit op ‘n rommelhoop opgetel is, is leeg. Op die stoep is ‘n kennisgewing met raad vir die hantering van ‘n gewapende roof, maar die sifdeur het geen skuifslot nie.  Die badkamer is Apachestyl geteël:  “patchies” wit tussen die groenes. So kan ek aanhou.

Lekker om dan by Skukuza tekens waar te neem van daadwerklike pogings om weer te begin tuin maak.

 

 

 

 

Deel dit: