Daar sit die aangename jong kerel toe voor my op my stoep in Sabiepark in absolute ongeloof dat ek twee maande lank in die bos kan kom sit en “niks doen” en – nog erger – al langer as tien jaar onproduktief afgetree is.
Ek hoor uit sy mond die verbaasde vraag waarmee elke afgetredene telkens maar weer gepeper word: “Maar hoe hou oom oomself besig?” Sy blik is amper verwytend. Hoe op aarde kan ‘n mens so ‘n nuttelose niksdoener wees?
Hoekom die onbegrip van mense soos die vriendelike gespreksgenoot gryskoppe soos die uwe gereeld skuldig laat voel en laat kriewel om te antwoord, weet ek nie. Ons skuld immers vir niemand verduidelikings nie. Ons het vir dekades ons brood in die sweet van ons aanskyn verdien, en kan darem seker met reg in die herfs van ons lewens ‘n bietjie agteroor sit, nie waar nie?
In elk geval, ek trap in die strik om ‘n antwoord te probeer formuleer. Ek vertel van ‘n bietjie skryfwerk hier en daar en van die eise van chroniese rekenaar-verknegting soos die een wat my beet het. Maar ek sien ek verloor hom. Webwerf? Blog? Picasa-albums? Watse bog is dit tog nie op die oor van ‘n energieke jong entrepreneur met kontrakte wat ophoop en geldjies wat steeds vinniger en vinniger inrol nie?
Toe ons groet, weet ek ek het hom nie oortuig nie. Wat hom betref, doen ek niks – “sweet all” soos die Engelse se. Ek sit by die see en speel met my vingers. Dan kom ek bos toe en sit die tydverkwistende vingerspelery net in ‘n ander habitat voort.
Aan hom sit ek die laaste paar dae wrewelrig en dink terwyl ek gebukkend voor die rekenaar sit en “werk” inhaal. Buiten vir die wavrag pos wat altyd wag as ‘n mens jou nes te lank verlaat, genereer elke vakansie mos maar sy eie verpligtinge.
Neem die verwerking van foto’s byvoorbeeld. Dit verg sorg, tyd en baie geduld, alla kragtie.
Danksy die wonder van die digitale kamera – nogal ‘n luukse waarteen hierdie ou lank vasgeskop het – is die klik van die se sluiter nou amper ‘n onwillekeurige aksie in elke vakansiefotograaf se arsenaal. Jy neem te veel foto’s, kort en klaar. Nou moet jy selekteer (en die weggooi is tog so pynlik), rangskik, in albums verpak en wat nog vir ‘n vale. Die vrees pak jou dat jy nooit betyds gaan klaarkry nie. En die volgende vakansie kom nader…
As ‘n mens ‘n vakansie agter die blad het soos die Van D’s hierdie winter in Sabiepark is daardie vrees des te meer geldig. Die oes aan foto’s is bepaald ver bo gemiddeld. En dis nie net te wyte aan ‘n ongedissiplineerde jeukvinger nie.
Twee maande lank het die leeus gereeld hier vlakvoor jou kom jag, die olifante in hul hordes kom afkoel, die buffels die riete swart gespikkel, die renosters kom drink, selfs ‘n vorstelike luiperd meer as een keer soos ‘n standbeeld op ‘n klip in die son kom bak. Dit was maar net enkele fasette van ‘n dierefees soos min.
Wie kan nou sulke wonderlike boservarings by hom laat verbygaan sonder om so ‘n bietjie kamerakoors te kry? Ek moet bely dat ek sukkel met die selfbeheersing; dat ek hopeloos te veel foto’s neem en dan later sit en swaarkry om orde te skep.
Pas het ek ‘n albumpie klaargemaak met foto’s wat ek een oggend vroeg in Augustus by Lake Panic naby Skukuza geneem het. Oor daardie twee uur van betowering het ek ‘n blog geskryf waarna lesers kan terugblaai as hulle wil. Die datum is 12 Augustus.
Dit was ‘n oggend van olifante wat in die water baljaar, klein olifantjies wat swemlesse kry, twee njalabulle wat paradeer, krokodille, seekoeie en hope watervoels van elke denkbare soort. Een ou seekoei was onder ons voete onder die houtvloer van die voelskuiling. Hy is – as ‘n soort toegif na die oggend se aksie – al proesende daaruit.
Net 24 foto’s het uiteindelik die snippermandjie oorleef. Hulle moet nog onderskriffies kry Die album met daardie foto’s kan egter solank besoek word deur op die volgende skakel te klik:
http://picasaweb.google.com/hennievandeventer/LakePanic#
Op die foto bo die blog grawe een van die njalabulle met sy horing in die modder. Dit is glo ‘n vorm van “grimering” met die oog op ‘n bietjie liefde, hoor ek. Die grimmige groenrugreier op die stomp is ene wat deur die olifante van haar nes af geboender is op die eilandjie voor die skuiling. (HvD)
