Die “bostelegraaf” bring Woensdag die nuus tot in die poorte van Sabiepark: ‘n trop leeus hang uit ses kilometer van die Krugerhek op die Doispanepad na die Phabenihek.
Soos altyd, is dit ‘n tyd vir aksie. Ons gryp gou ons Wildkaarte en sit af hek toe vir ‘n vinnige verkenningstog om vir die kleinkinders vuilbaard se kind op kort afstand te gaan wys.
Toe kom die teleurstelling: die Krugerhek is agter slot en grendel. Die kwota vir dagbesoekers is ‘n uur gelede, om 10:00 al, bereik. Daar sit ons toe voor ‘n toe hek, met leeus ‘n paar minute ver. Dis nou Wildtuin-frustrasie hoor.
Vir dagbesoekers aan die Wildtuin is die beste advies wat ek kan gee: roer vroeg!
In die verlede is die hekke slegs gesluit in uiters druk vakansietye soos oor Kersfees/Nuwejaar en in die Paasnaweek. Toe brei dit uit tot langnaweke in die winter (Suid-Afrika het mos nou ‘n hele hand vol!). Hierdie winterskoolvakansie het die praktyk alledaags geword.
Van Maandag tot Sondag. Hier rondom 10:00 is die kwota vol. Dan is dit basta vir die res van die dag. Mense wat wel deur die oog van die naald kom, kan hulle boonop klaar maak om in lang toue te wag terwyl motors opdam en die hekbeamptes swoeg om permitte uit te reik.
Miskien sien ek voorspooksels, maar ek sien hier ‘n nuwe patroon kom wat dagbesoeke in skoolvakansies – alle skoolvakansies – en langnaweke – alle langnaweke- toenemend ‘n kopseer gaan maak. ‘n Dag in die Wildtuin is immers nie net meer vir natuurliefhebbers ‘n lekker uitvlug nie, maar ook vir ‘n diverse klomp piekniekmakers en plesierjagters. Mense met Wildkaarte word al hoe meer. Vakansieplekke binne bereik van die Wildtuin se hekke neem toe.
Nou-ja, dan maar Sabiepark toe vir ‘n uurtjie of twee voor die rekenaar. Maar watwou! Ook hier is frustrasie my voorland, want MTN se sein bly weg. Amper ‘n dag lank is daar “No network coverage”. Vriende met Vodacom kla ook. Dis egter ‘n skrale troos.
Ongelukkig moet ek eindig op ‘n nog treuriger noot. Oor die Byl in die bos. Die kappery het die laaste week soos nog nooit voortgewoed. Vier gewaardeerde vriende is die een na die ander heen: George Holloway (vertaler van Mayafudi) van Melkbos, ds. Jan Slabbert en dr. David van den Bergh van Bloemfontein, Japie Dreyer van Somerset-Wes. ‘n Vyfde, prof. Wynand Mouton van die Strand, is voor ons kom al oorlede. Maar sy roudiens was verlede Donderdag. ‘n Mens vrees amper die klingel wat ‘n nuwe SMS aankondig.
Nie elke dag in die bos is ‘n perfekte dag nie! (HvD)