Die byvoordele van oud word is bra minnerig. Jy kry (ook net soms) afslag by nasionale parke, by flieks en hier en daar by ‘n toeriste-attraksie; jy kry winkelkaarte vir inkopies op spesiale dae vir pensioentrekkers; jou versekering kos effens minder … en dis omtrent dit.
Nee wag, hier is nog ‘n besonderse bonus: die uitnogings na vriende se feesdae soos hulle toenemend 70 jaar of 80 jaar oud word, goue bruilofte vier of ander mylpale op ‘n geseënde lang lewe gedenk. Die viering van sulke gevorderde bakens op die lewenspad is meesal sjarmant, heuglik en stylvol – al stem dit ook tot ‘n bietjie hartseer omdat jy weet: met die water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.
Margot Asquith (1864 – 1945) het op haar oudag gekla: “All I have to live on now is macaroni and memoral services.” Arme ding. Hopelik was dit ‘n oordrywing en gelukkig is dit gewis nie vir alle ou mense waar nie. Die “memoral services” is wel onvermydelik, maar die “macaroni” word darem afgewissel!
Saterdag by ‘n verjaardagfees op die skilderagtige Lourensford-landgoed by Somerset-Wes was op die spyskaart byvoorbeeld ‘n voortreflike eend-voorgereg, daarna vir hoofgereg ‘n keuse tussen geurige salm-forel en lamsrak, heerlike malvapoeding vir nagereg en ‘n ekskwisiete kaasbord. Al dié heerlikhede is afgesluk met net die beste Lourensford-wyne: merlot en sauvignon blanc. Bra ver van macaroni af, me, Asquith!
Die geleentheid was my oud-kollega Danie Krynauw se 80ste. Die immergroen Danie was hoof van Naspers se tydsklrifte toe ek in 1992 by die Naspersentrum ingestap het as hoof van koerante. Ons was bure in ‘n kantoor-suite. Ons het een buitedeur na die gang gedeel en het ons onderskeie domeine betree deur die gemeenskaplike kwartiere van ons twee P.A.’s, Willa (Danie) en Lizette (HvD).
Ek beskryf die ruimtelike opset in detail omdat dit geen geringe rol gespeel het in die gawe verhouding wat tussen die twee bure ontwikkel het nie. Die ligging van my kantoor het aan my terselfdertyd ‘n verkwiklike uitsig gebied op die verkeer na Danie se kantoor, wat ingrypend verskil het van die verkeer na myne. Die meeste van Danie se besoekers was elegante dames uit die tydskrifte-omgewing. Koerantredakteurs en –bestuurders was minder sag op die oog. Maar dit daargelaat. .
Feit is dat die fyn jintelman Danie en ek heelwat van mekaar gesien het. Ons samesyn was vir my ‘n ekstra plesiertjie van my nuwe pos. Op die eerste dag, 1 April 1992 (Gekkedag!), was hy my gasheer op my eerste besoek aan die kafeteria Van Alle Kante met die prentjiemooi uitsig na alle kante. Danie het vir my ‘n ete gekoop en vir die groentjie ‘n broodnodige blitskursus in hoofkantoor-kultuur gegee. Hy het my nogal verras met openhartige uitsprake oor sekere persoonlikhede. Ja, hy kon nogal brutaal eerlik wees, dié Danie, maar hy het ook die geheim geken om elke mens spesiaal te laat voel. In ‘n sekere sin was hy meer ‘n ou vleier as ‘n bakleier.
Mettertyd het ek agtergekom Danie was selde verkeerd in sy oordeel oor mense. Hy kon hulle haarfyn raak takseer – seker een van die redes waarom hy die uitsonderlike Kathleen in Oktober 1989 as bruid gekies het. Sy bederf hom tot vandag toe tot in die aarde, en hy aanbid na amper 20 jaar nog die grond waarop sy loop.
Meer as een keer het ek in sy kantoor ingewals om oor, noem dit maar, die eienaardige optrede van dié of daardie koerantekollega te skinder. Hy het altyd gereageer met ‘n kenmerkende Krynauw-kwinkslag. Dan lag ons saam in ons moue. Nóg Danie nóg ek had ‘n aptyt vir ‘n opgeblase ego of oordrewe selfbeeld.
Danie was in verskeie opsigte bewonderenswaardig. Ek het sy talent beny om selfs in die uitdagendste omstandighede koel en kalm te bly. Na die uwe se eerste paar direksievergaderings het ek aan hom gebieg hoe ek sidder dat ‘n bepaalde direkteur my (wat geen M.B.A. was nie!) oor geldsake sou vasvra. Sy advies was pront: moet nooit dat hulle agterkom dat jy nie weet nie; ‘n ingeligte raaiskoot is altyd beter as ‘n erkenning van onkunde.
Ek het sy raad een keer op die proef gestel. Later het ek ontdek my raaiskoot was ver van die kol. Dit verklaar seker die verwarde uitdrukkling op die betrokke direkteur se gesig. Hy was ‘n skrander man wat met syfers kon toor en deur kafpraatjies kon sien. Hy was seker maar die jongeling Absalom genadig!
Na Danie se aftrede het hy soms op die 18de verdieping kom inloer vir ‘n vinnige: “Haai, hoe gaan dit?” In 1997, aan die vooraand van my eie aftrede, was Danie weer op besoek. Ons is na die kafeteria vir koffie en hy het vertel van sy en Kathleen se salige leefwyse: somer op Hermanus, winter in die Laeveld.
‘n Vrugbare saadjie is daardie dag geplant. Kort daarna was die Van Deventers die trotse eienaars van ‘n eiendom in Sabiepark by die Krugerhek, ‘n plekkie wat diep in ons harte gekruip het. Dankie, Danie, jy was vader van die gedagte. Ek sal jou rol altyd in dankbaarheid onthou as ek in die bos ‘n vuurtjie aansteek.
Hazyview en Sabiepark is net 40 kilometer uit mekaar. Nog ‘n gesellige Krynauw/Van Deventer-reëling het sedert 1998 ontwikkel. Op besoek aan Sabiepark is die Van Deventers meermale genooi na die Krynauws se spogplek aan die Sabierivier in die manjifieke Kruger Park Lodge, elke deftige vertrek spierwit van A tot Z. Middagetes was op die houtdek onder ‘n grasdak met onweerstaanbare kos en wyn, die gulste gasvryheid en wonderlike natuurskoon.
Wanneer ons die Krynauws na Sabiepark genooi het, moes hulle maar inval by die Van Deventer-patroon van tjops en wors met pap en sheba. Tot hul krediet was hulle altyd galant en vol lof, al was die vleis dalk ‘n raps te gaar.
Die laaste jare woon die Krynauws in Helderberg Village – nog net so sjarmant en onberispelik stylvol soos altyd. Daarvan het ook Danie se 80ste getuig. Alles was eksie-perfeksie.
Die kreatiewe Kathleen het ‘n gedugte boek oor Danie se lewe (tot dusver!) laat saamstel waartoe elke gas ‘n bydrae gelewer het – klaarblyklik ‘n kosbaarheid vir die verjaardagkêrel. ‘n Buurman het gesorg vir ‘n “power point”-skyfievertoning, Ton Vosloo het met ‘n spitsvondige en waarderende toespraak die gaste om die beurt laat proes en hande klap. Daar is geëet, gedrink en gesels en in die algemeen sommer lank en innig gekuier. Lourensford se sjefs kan maar daardie kos vir die fynste fynproewer voorsit, en die wyne … engeltjiepiepie, glo my.
Die spyskaart se omslag was die voorblad van Die Burger van 26 September 1928 – Danie se geboortedag. In ‘n groot advertensie kondig die afdelingswinkel Sonnenberg’s die “eerste 1/11-uitverkoop (minder as twee sjielings per artikel dus!) in Kaapstad” aan en adverteer Cleghorns die “beroemde Kayser-handskoene” teen 5/11 per paar.
Pryse van daardie kaliber stimuleer in 2008 ‘n aanval van nostalgie. Nie net oor die kopies van 80 jaar gelede kon ‘n mens egter Saterdag nostalgies raak nie. Ook oor die stuk lewe wat jy bevoorreg was om met so ‘n ware heer te deel. Weet net nie hoe kry die bokker dit reg om op 80 minstens 20 jaar jonger te lyk nie – en nog ‘n toespraak af te steek waarin hy elkeen van sy gaste by die naam noem sonder ‘n flentertjie papier in die hand.
Ek wonder nou al stilletjies oor hoe Danie se 90ste verjaardag gevier gaan word. Maak maar die sitplekgordels vas, vriende en familie. Daardie twee uithalermense se name is nie verniet Danie en Kathleen Krynauw nie! (HvD)
