By Vergenoegd in die Paarl het twee Volksblad-veterane vandag lang stories gesels. Ek en Tokkie het vir Johan van Wyk gaan kuier waar hy nou ná die mooie Zandra se dood alleen moet klaarkom. Nadat ons saam ‘n broodjie gebreek het, het ons ‘n bankie gevind vir ‘n foto.

Daar sit ons twee oues toe in amperse bewoënheid oor die saamloop vir 60 jaar, en Tokkie neem ‘n foto van ons, arm om die skouer: amper 170 jaar se lewenservaring tesame. (Op 170 jaar se gesamentlike wysheid sal ek liefs nie aanspraak maak nie.)

Die sakke sout wat kollegas in uitdagende omstandighede saam opeet, dryf hulle in later jare weg van mekaar of kweek ‘n hegter verhouding.  .  MIn twyfel dat dit in die geval van my en Johan van Wyk laasgenoemde is. Daarom was vandag se kuier so kosbaar met sy eie onuitwisbaarhede, ook met die tekens van ouer word wat – so moet ons maar erken – by albei al hoe sigbaarder word.

Skryf jy nie meer nie, nie eens met ‘n potlood op ‘n stukkie papier nie? vra  ek.  Nee, skud hy die kop.  Niks. Die outeur van tienduisende woorde wat lesers bekoor het, se pen het onomkeerbaar stil geword. Dis nogal swaar om te sluk. Want watter kranige skrywer was Johan nie en hoe goud werd  was sy bydrae nie tot Die Volksblad nie.

Hoe ‘n vername wapen so ‘n lesersvriendelike rubriek soos Johan se Stop in die arsenaal van ‘n koerant is, kan kwalik oordryf word.  Ek glo vas dat ons geliefde Volksblad in die 70’s en 80’s was wat hy was weens veral twee pilare: sy gebondenheid met sy gemeenskap (waarvoor ek nie omgee om gedeeltelike eer op te eis) en, tweedens, die liefde wat mense vir die rubriek Stop gehad het. Laasgenoemde borrel steeds uit waar Vrystaters gesels.

Die kollega het my daardie tyd persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het dikwels hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my soms ook maar op my tande laat kners.

Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie. Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag kan ons oor sulke insidente lag.

Kollegas weet dat ek die woorde “legende” en ”ikoon” bitter spaarsaam gebruik. Dis gewigtige etikette wat ‘n mens nie ligtelik moet uitdeel nie.  Maar ek wil vandag hier herhaal wat ek al vantevore geskryf het: Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon.

Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue! Hy het ‘n sjarme aan hom gehsd, die “Oom”. Hy het dit steeds.

Oor hom het Die Volksblad doerie jare in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk. Ek staan bankvas by elke woord.

Op pad huis toe deur ’n Swartland waar die groen koring begin opkom, kom ‘n vogtigheid in my oog as ek aan daardie heuglike dae dink.

Deel dit: