Vir Johannes Moses het ek goed leer ken in my laaste vyf jaar by die Nasionale Pers in Kaapstad. Hy was om die beurt kelner en motorbestuurder en was in albei rolle die toonbeeld van ‘n netjiese, vriendelike, pligsgetroue en bekwame amptenaar.

Enkele dae gelede het ek Johannes weer gesien. Hy was op ‘n sending na Melkbosstrand.  Vir my lyk hy nes die Johannes wat ek 25 jaar gelede gegroet het. Hy dra sy jare goed. Dat hy al 41 jaar by Naspers is, sal jy nie sê nie.

Vreemd soos dit klink – en ietwat van ‘n verleentheid vir my – is dat ek nou, in Mei 2023, in een lekker gesels met hom meer oor die gewaardeerde kollega te wete gekom het as in die vyf jaar (van 1992 tot 1997) dat ons saam op die 18de verdieping van die Nasperssentrum werksaam was.

Ek het geweet hy is ‘n gebore Vrystater.   Nou weet ek eers dat hy van Gumtree  kom, ‘n gehuggie  tussen Ficksburg en Clocolan in die Oos-Vrystaat; dat hy op ‘n plaas grootgeword het en kleintyd koeie gemelk het, asook ‘n knap perderuiters en ‘n jokkie was.

Nou eers weet ek dat op 14 saam met ‘n oom Kaap toe gekom het wat hom opsluit in ‘n loopbaan in die boubedryf wou dwing.  Pleks van skool gaan, moes hy in sy oom se agterplaas bakstene rondgooi.

Nou eers weet ek dat hy by ‘n Moslemgesin in Somerset-Wes ‘n heenkome gevind en in hul winkel uitgehelp het, dat hy op ‘n eerste grootoog-besoek aan Seepunt by die ou Arthur Seat-hotel ingestap het om vir enige werk aansoek te doen; dat hy hom opgewerk het tot ‘n gewilde sjef vir die personeel  en dat hy later by die luukse-hotel Heerengracht ‘n kelner geword het.

Nou eers het ek gehoor hoe hy agter ‘n vriend aan na Die Burger is om aan  die veeleisende nag- en naweek-skofwerkery van ‘n kelner te ontsnap en ‘n bode vir bekendes geword het, soos vir Sakkie van Zyl van die advertensie-afdeling.

Met die trek van  Keeromstraat 30 na die huidige gebou in die Heerengracht – rondom 1980 as ek reg onthou – het die Nasionale Pers ‘n deftige eetkamer vir onthale gekry. Johannes se talente en ervaring  is vir Andrew Marais, nuwe skakelhoof, in die oor gefluister.

Aanvanklik het Johannes op leengrondslag kom uithelp.   Almal was verras oor sy kundigheid, tot met die dek van tafels en die skink van wyn.  Gou wou Marais hom afrokkel. Van Zyl het egter vasgeskop: “As julle hom vat, sal ek twee mense in sy plek moet aanstel”.

Maraais het die toutrekkery gewen, en Johannes het nooit weer omgekyk nie. Hy was oornag in ‘n pos met ‘n beter salaris en met pensioenvoordele. Hy het boonop sy werk geniet.  Net aanvanklik was daar ‘n klein komplikasie. Wanneer hy die aand laat moes werk, moes ‘n motorbestuurder ook laat aanbly om hom huis toe te vat.  Hy is aangesê om te leer bestuur. ‘n Persmotor is tot sy beskikking gestel.

So gou was hy tuis agter die stuurwiel dat hy tussen sy kelnerpligte deur senior amptenare begin rondkarwei het.  Vandag is dit sy nering. Hy ry die base rond in ‘n elektriese model Volvo – die eerste van die aard wat ek met my eie oë sien.

Wat ‘n ver pad het die kaalvoet-outjie van Gumtree nie gekom nie: van trippelpassies maak op ‘n plaasponie in die Oos-Vrystaat tot  woerts-warts in die Moederstad met ‘n ultra-moderne spogkar.  Al waaroor ek spyt is, is dat ek Johannes nie gevra het om my net een keer om die blok te vat nie.  Nou sal hierdie mede-Vrystater daardie kringloop waarskynlik nooit self ook voltooi nie.

FOTO:  Ek en  Johannes poseer op Melkbos vir Tokkie

Deel dit: