A, dag ek toe Die Burger sy natuurlewe-fokompetisie aankondig. My beste foto’s is wel in Sabiepark. Maar hier het ek darem ook oorgenoeg. Ek begin dadelik uitsoek en instuur. Maar verrassing, verrassing, Van D. se foto’s sit in die hek op ‘n yslike skaal.

Hiertdie enetjie het darem DB se webwerf gehaal – met die sittende bokkie se bors en die maat se voetjies afgesny. In die koerant self is nog geen gepubliseer nie. Lyk my daar’s ‘n definisieprobleem: ek dink oor goeie natuurfoto’s onmiddellik aan onderwerp (luiperd wat gaap op ‘n gapende boomtak, ‘n hiena wat ruik aan die vlammetjies in ‘n braaier se bak, ens), DB se beoordelaars dink in terme van tegniese uitmuntendheid en kreatiwiteit (slim beligting, ens). “Never the twain shall meet.”

Die bokkie is nogal sjarmanterig, ne? Maar tot nou sou ek dit nie juis as een van die keur uit die uwe se Bosveld- versameling beskou het nie.

Terwyl Sabiepark aan die beurt is: die kinders (Johan en Mariza) is nou daar met M. se familie uit Perth. Die diere sit hul beste voetjie voor: olifante en buffels by die piekniekplek, kameelperde in die strate, ‘n verskeidenheid besoekers by die watergat en die voels se drinkbak. Eergisteraand beleef hulle toe ook die skouspel van ‘n (“elektriese”) donderstorm oor die Bosveld.

Mense kan maar praat oor Johannesburg se weerlig. In my eie ervaring is die verblindende flitse en oorverdowende gedonder van ‘n Bosveldstorm in ‘n liga van sy eie. So beleef hulle dit toe ook (en het Brent en Mariza dit ook al beleef). Mariza stel toe net almal gerus: “Toemaar, ons het ‘n paal.”

(Ja en ene wat ‘n pakkie kos om die SABS-stempel te kry wat die versekeraars vereis – HvD).

Maar ek onderbreek myself. Die volgende oggend hoor hulle by Gerard van Niekerk, parkhoof, ‘n huis het geheel afgebrand. Ene in Wildevy. Nie ver van ons af nie. Laat ‘n mens se keel toetrek. As Tarlehoet darem moet afbrand… ‘n Stukkie van my hart sal saam in vlamme opgaan.

Terloops, terwyl die jong Van D’s daar die wildlewe geniet, kuier hul honde, Intwa en Manzi hier. Eers Sasha, nou Intwa en Manzi! Die drie se gedrag demonstreer iets oor jeug en ouderdom – Sasha is ‘n regte storm-en-drang hondjie ; Intwa en Manzi vertoon die groter rustigheid van die ouderdom. Net as ek die kierie vat om te gaan stap, raak hullke skoon oorhoeks. Arme honde! Want nee, ek het nog nie geswig nie.

Aan die eie gesondheidsfront is dinge wel. Ek het net nie oral myself met glorie bekroon deur op nommer 99 kleinkoppie te trek vir my geskeduleerde sinusoperasie nie. Tokkie se as die sinus weer lostrek, moet ek nie by haar simpatie soek nie. Maar my entoesiasme vir die operasie het oornag tot op so ‘n lae vlak getaan dat ek eenvoudig nie kon voortgaan nie, verleentheid of te not. Nou grap ek maar: ek het my neus opgetrek vir die operasie! (Lag iemand?)

By kollegas en vriende is die nuus nie oral so goed nie. Alf Ries is gister Johannesburg toe om sy behandeling (bestraling) daar by sy kinders voort te sit. Ek het hom gaan groet by die Panorama Medi-Clinic waar hy vir ou laas bestraal is voordat hulle lughawe toe is. Dit was ‘n emosionele oomblik. Chris Moolman is 12 uur vroeer in die C. Louis Leipoldt-hospitaal geopereer. ‘n Gewas so groot soos ‘n tennisbal en kleiner gewassies is verwyder. Dit is weggestuur vir ontleding. Die vrees is dat dit ‘n melanoom is wat hervat het. Die is twee jaar gelede uit sy rug verwyder.

Ek, Alf en Chris is middagete-maats. So elke paar maande eet ons saam. (Het ons saam ge-eet?)

Besoekers aan Melkbos sal die HvD-muur in die woonkamer onthou: ietwat oorbevolk met foto’s en sertifikate. Wel, kom kyk nou nadat Rina Koen dit beetgehad het. Minder rame, meer spasie, alles waterpas. Tokkie moes selfs ‘n waterpas gaan koop vir die oefening. Die stomme Rina het ‘n dag lank gemeet en gepas. Haar rug was af. Ek was skoon uitgeput net van kyk. Wat ‘n job! Maar dankie, Rina, dis ‘n muur met karakter en styl – al moet ek dit self se.

HvD

Deel dit: