As jy nie so gelukkig is om self vakansie te hou nie, kan jy darem aan vakansies terugdink.My helderste onthou is ‘n Kersvakansie van amper ‘n ‘n halfeeu gelede, in Desember 1976.  Die Van Deventers is met hul werkesel, ‘n 1972-model Toyota Merk II-stasiewa, op ‘n tog van 5000 km heen en weer van Boston af al die pad af na die “Sonskynstaat” Florida toe.

‘n Onvergeetlike reis was dit met besoeke aan Disney World in Orlando en die John F Kennedy Space Center by Cape Canaveral besonderse hoogtepunte.  Daaroor en ander ervarings aan die positiewe sy rapporteer ek in hierdie aflewering. Aan die meeste vakansies kleef egter  positiewe en negatiewe herinneringe. Later sal ek ter wille van balans die sluier lig oor goedjies wat op die vakansie minder of meer skeefgeloop het.   Daar was helaas.

Ook hoog in die positiewe kolom was twee sogenaamde “great American road adventures”. Asemrowend is die tog van 180 km op die sogenaamde Overseas Highway op die US1-snelweg van Miami na Key West. Jy steek 42 brue oor wat 34 eilande verbind . Ewe skouspelagtig is die skilderagtige Chesapeake Bay Bridge–Tunnel: ‘n avontuurlike rit van 28 km oor die Chesapeakebaai in Virginia deur lang ondersese tonnels, indrukwekkende brûe en mensgemaakte eilande van derduisende tonne beton.

Disney World het ons op Oujaarsdag 1976 besoek – saam met ‘n rekord-getal besoekers van oor die 80 000 wat rondom jou druk, beur en maal.  Maar tog, watter onuitwisbare indrukke het Micky Mouse se Magic Kingdom nie op die hele gesin gemaak nie! Die aand was ons uitgeput maar blinkoog-verwonderd.

Die omvang is iets ysliks. Iets soos 11 000 hektaar.  Groot genoeg vir ‘n stewige beesboerdery. Die plek het selfs sy eie “vloot” – destyds al ‘n armada van 200 skepe. In die hart van die koninkryk was (is seker nou nog) ‘n mensgemaakte meer van 80 hektaar. Saam met Mickey en Minnie Mouse, Goofy, Winney the Pooh en andere wat kuier-kuier tussen die die skares rondloop (foto), het destyds al 12 000 mense daar gewerk – die inwonertal van ‘n billike dorpie.

Die meer se koraalriwwe het ons uit ‘n duikboot verken (foto).  Ander rygoed het ingesluit outydse rooi brandweerwaens, Noag-karre, ’n kabelspoor, allerlei perdekoetse en ‘n stoomtrein. Die kinders was versot op ‘n mallemeule met klein olifantjies.

By die Space Center (foto) is alles groter as lewensgroot. Vuurpyle toring oral die lug in soos geil onkruid. By die besoekerskompleks is foto’s geneem van ons kamma met ruimtepakke aan, by ‘n verskeidenheid slanke vuurpyle, op ‘n maankarretjie en wat nog.

Van die unieke geriewe is die 160 meter hoë voertuigmonteringsgebou vir van die grootste vuurpyle van NASA en ‘n 4.8 km (korrek!) lange landingstrook vir pendeltuie. Ek glo my mond het plek-plek werklik oopgehang.

Op die Overseas Highway is die beroemdste van die 42 brûe bekend as die Seven Mile bridge. Sy naam sê dit alles. Die brug is net oor die 11 km lank. Nogal ‘n fris ent om net die uitgestrekte Atlantiese oseaan om jou te sien!

Die eksotiese Tropiese eilandjies spog met van Florida se lekkerste strande, ‘n duisternis palmbome, ryk koraalriwwe, binnelandse waters vol Amerikaanse krokodille en kaaimans (“alligators”), asook heerlike kampeer- en piekniekplekke. Natuurlik het ons snags agterin die Corona geslaap.

Key West, ‘n eiland van ses kilometer by twee kilometer, is die suidelikste punt van die enorme land; soos die kraai vlieg skaars 155 kilometer van Havana, Kuba, af. Was nogal ‘n sensasie om op die suidelikste punt van die suidelikste Amerikaanse stad te staan. Die historiese Key West, ‘n seerowernes in vergange tye, is ook bekend as die tuiste van Ernest Hemingway. Van sy bekendste werke is hier geskryf, en sy huis een van die top-toeriste-attraksies in daardie geweste.

Die Chesapeake Bay Bridge–Tunnel word as een van die sewe wonders van die moderne wêreld beskou.   “Go to sea in your car”. So nooi die brosjures.   En dit is presies hoe dit vir jou voel as jy jou op hierdie meesterlike stuk ingenieursvernuf dan in ‘n diep-diep tonnel onder die water bevind, dan weer op ‘n hoë brug voortsnel met die oseaan doer ver onder. In die proses sny jy die 150 km tussen Norfolk/Virgina Beach en New York uit jou reis. So spaar jy 90 minute se rytyd.

In Florida het ons onder meer ook kans gekry om die beroemde Daytona Board Walk van amper 2 km te stap, om ons te verstom aan die plaat luukse-seiljagte by Fort Lauderdale, om met die kleurryke papegaaie in Parrot Jungle, later herdoop tot Jungle Island,  kennis te maak (foto) en om ‘n skool visse uit glasbodembootjies by Silver Springs te voer. ‘n Gunstelingfoto is van die uwe by die kleinste funksionerende poskantoor in die VSA in daardie stadium.  Die opslaangeboutjie by Ochopee is skaars ses vk. m. groot. Grootte is werklik nie als nie!

Deel dit: