Liewe Thabo

In die jare negentig het jy in ‘n stadium via ‘n swart Naspers-kollega laat weet dat ek in jou oë nie ‘n “slegte Boertjie” is nie.Ek het nie juis spitsvondig nie, maar sonder enige kwaadwilligheid. gereageer dat jy volgens my “nogal ‘n oulike kaffertjie” is. Ek glo ons het in daardie stadium iets vir mekaar gevoel. Kort daarna het ons paaie, soos dinge maar gebeur, uiteengeloop. Later het ek afgetree en op Melkbos kom skoene uitskop.

Toe ek jou gisteraand op die TV-skerm op die verhoog in Polokwane so hangskouers sien – broos, eensaam, verslae en verlate, verslaan deur ‘n verterende monster wat jy self help skep het – het my hart na jou uitgegaan. My gedagtes het ver-ver teruggedwaal….

Thabo Mbeki. Die naam het vir my min beteken toe ek jou, die aanstaande president van Suid-Afrika, 18 jaar gelede, in Maart 1988, die eerste keer in Londen ontmoet het. Dit was my eerste proe aan die lank verbode vrugte van kontak met die ANC. Die geleentheid was ‘n seminaar met die tema South Africa: Controlling the News, wat natuurlik die tafel behoorlik gedek het vir harde woorde oor die Regering van die dag.

‘n Middagmaal vir die deelnemers — Suid-Afrikaners, Amerikaners en Britte in die media — is aangebied deur die Britse redakteurs. Die plek: die London Room van die Royal Commonwealth Society in Northumberland Avenue. Jy – toe net 44, die bloedjong “Director of Information and Publicity van die ANC” – was die spreker.

Wat jy daardie middag te sê gehad het, het hierdie Afrikaanse koerantredakteur uit die Vrystaat plek-plek laat wurg, onthou ek. Agterna gesien, was jou toespraak (en meer bepaald die voordrag) egter verbasend onmilitant. In ‘n stadium het jy uitgewei oor P.W. Botha se berugte humeur. Jou oë het oor die etegaste gespeel. “Where is Mr. Dievender? He knows how P.W. Botha is.” Ek het hand opgesteek, en lughartig geantwoord: “Yes, he gets very angry.”

Die aand was ‘n deftige skemerparty en dinee in die beroemde Lancaster House, die plek waar die ou Rhodesië (nou Mugabe se Zimbabwe) se toekoms uitgetimmer is. Die gasheer: Sonny Ramphall, destydse direkteur-generaal van die Statebond. Die Afrikaanse redakteur en die uitgeweke ANC-propagandis het bymekaar uitgespoel asof dit in ‘n draaiboek ingeskryf was. “Sien mekaar môre,” het ons na die eerste kennismaking gegroet.

Daar beland ons toe die Sondaggoggend op jou voorstel in die ruim voorportaal van die Hotel St. James Court, Buckingham Gate — ‘n hanetree van die paleis af. ‘n Kan koffie tussen ons. Later ‘n tweede. Twee kanne koffie pleks van twee sakke sout! Jy (“noem my Thabo”) was nuuskierig oor politieke ontwikkelinge in Suid-Afrika en het my veral gepols oor die nuwe generasie Nasionaliste wat aan jou onbekend was, die Leon Wesselse, Stoffel van der Merwes, Roelf Meyers. ‘n Mens kan met hulle praat, was my advies.

Ons het ook gepraat oor Nelson Mandela. Oor verskeie klandestiene boodskappe oor sy moontlike vrylating wat op niks uitgeloop het nie. Vanselfsprekend is oor meer verskil as saamgestem. Veral oor die ANC se verbintenis tot geweld was ons myle van mekaar verwyder. Maar tog — dit moes ek so half onwillig aan myself erken — was dit ‘n stimulerende intellektuele avontuur. Ons is op goeie voet uiteen.

Vir vriende het ek kom vertel van die buitengewone kennismaking met die rustige, pyprokende Mbeki — ‘n man wat maklik is om van te hou. So het ek jou beskryf: Eersteklas geselskap. Fyn humorsin. Aansteeklike laggie. Goeie luisteraar. Gepoleerde diplomaat. Nie ‘n valk nie, hoewel ‘n oortuigde Afrikanis met vaste beskouinge oor hoe ingrypend Suid-Afrika uiteindelik verander sal moet word. In geheel: ‘n sjarmante man wat vinnig warmte met ‘n gespreksgenoot bewerkstellig. So heeltemal “anders” as die Suid-Afrikaanse stereotipe van ‘n ANC-leier wat ook op sy persoonlike kerfstok ‘n kwota geweldsdade het.

Einde November 1989 was ek en jy saam in Parys, by ‘n konferensie wat deur mev. Danielle Mitterand, Franse presidentsvrou, gereël is. Vir my was dit ‘n aangename weersiens. Van waar ons laas opgehou het, het ons soos ou kennisse verder gesels en gekorswel. Op persoonlike vlak het ek my besorgd verklaar oor jou chroniese kuggie. Jy het belowe om minder te probeer rook, en terstond vir my sy sigaretaansteker present gegee: ‘n groene met die logo van Umkhonto we Sizwe. Max du Preez, destyds Vrye Weekblad-man, het die plegtige oorhandiging opgemerk, en het geskerts hy gaan my by Doeane verklap. Ek bring ‘n ontstekingsmeganisme van die ANC die land binne!

Met die groetslag, die oggend van 2 Desember, het ek en jy lank intens gesels, onder meer oor hoe jy brand om weer voet op Suid-Afrikaanse bodem te sit. Die ontslape Kaapse weekblad South (redakteur: Moegsien Williams, later van die Cape Argus en The Star) het selfs berig ons afskeid was “n tranerige en emosionele” een — wat dit darem nie regtig was nie.

Kort daarna, op 28 Februarie 1990, het Die Volksblad op sy middelblad ‘n profielberig uit my pen gepubliseer onder die opskrif Thabo Mbeki, pragmatiese strateeg. Groot foto by van jou met jou pyp. Ek het die lesers o.m. ingelig oor wat ek as jou krag as diplomaat sien: nie net jou vermoë om jou eie saak sonder opgewondenheid te stel nie, maar ook jou gewilligheid om aandagtig te luister, selfs na die skerpste kritiek. (Later sou ek rede hê om hieroor te twyfel!)

Sulke positiewe publisiteit aan ‘n voorste ANC-leier in ‘n Afrikaanse dagblad was ongehoord. Daar was egter vele oproepe van waardering, ook uit die verligte vleuel van die Vrystaatse Universiteit se akademiese gemeenskap, mense soos proff. Frederick Fourie (nou rektor) en Elwill Beukes.

Op 3 Januarie 1991 het ek 50 geword. In ‘n stadium het sprake bestaan dat jy vir die verjaardagparty saam met Kobie Coetsee na Bloemfontein sou vlieg. Die plan het deur die mat geval. Net voordat ons die aand sou wegval aan die hoenderpastei en bobotie lui die telefoon: “Just to wish you well, Hennie, my friend.”

Vier maande later, op Vrydagaand 18 Mei 1991, was wel in Bloemfontein ‘n herontmoeting — in omstandighede wat in ‘n stadium nogal taamlik gespanne geraak het. Die geleentheid was ‘n unieke, private byeenkoms met die redakteur van Die Volksblad as gasheer (Foto: gas en gasheer). Die senaatsaal van die universiteit was gepak met leidsliede van die Rosestad: politici, NG-moderator, rektore, president van die Vrystaatse rugby-unie en andere. Jy het die woord gevoer.

Temas van die aand was onder meer die ANC en die SAKP en die ANC en die boere. Een standpunt wat jy gestel het, was, raar maar waar, dat die ANC en die SAKP se weë sal moet skei; hul ekonomiese beleid verskil heeltemal. ‘n Ander was dat die ANC en die boere moet praat. Die ANC wil nie die landbou afbreek nie.

Kort daarna swaai die deure oop, en ‘n peloton verslonste AWB’s, sommige kousloos en met velskoene, marsjeer die saal binne, so 25, 30. Onthou jy? Die voorbokke het dreigend tot by die verhoog gestap; ander het in die gange stelling ingeneem. Hulle soek nie die “kaffer” op die kampus nie — en dan nog boonop ‘n “Kommunis”!

Daar was uitroepe van ontsteltenis en verbasing. Na ‘n lang onderbreking en uitgerekte onderhandelinge is ‘n ooreenkoms bereik. Die ongenooide gaste moet asseblief buite gaan wag. Jy praat net eers hier klaar, dan kom praat jy met hulle. Die AWB’s het in die voorportaal gaan koukus. Later besluit hulle toe: nee, as hulle na jou luister, sal dit op erkenning van die ANC neerkom. Toe gee hulle maar pad.

Genl. Tom Erasmus van die SAP, een van die gaste, was nie gerus nie. Hy laat kom toe sy manne, wat in geel onlustevoertuie opdaag. Hulle vergesel ons toe ook later na my huis in Dan Pienaar waar jy sou eet. Toe een van die geel gevaartes oorkant my motorpad in die boomryke Kmdt. Senekalstraat op die sypaadjie parkeer, het verskeie bure gaan navraag doen. “Wat gaan dan by die Van Deventers aan?” “Kraai van Niekerk eet daar,” was die antwoord. Hoekom juis hy, weet ek nie.

Net voordat ons om 12:30 hotel toe sou vertrek, weer onder polisiebegeleiding, het jy net gou eers in ons gasteboek geskryf: “ Very happy to have spent this short time in this happy home. Many thanks.”

Daarna het ek jou min gesien; vlugtig hier, vlugtig daar. Nadat jy al adjunk-president was, het ek na ‘n lang gesukkel jou kantoor in Tuynhuys oortuig om vir my ‘n kansie in te ruim vir ‘n persoonlike gelukwensing. Die gesprek — vreemd genoeg, of dalk nie — was gou oor die media en dié se gebreke. ‘n Luitenant is ontbied om te kom vertel hoe sleg die SABC sy baas behandel het met ‘n toespraak in Maputo. Deja-vu. Dit was asof die P.W.-era voor my oe rëinkarneer.

Daarna het ek weer en weer probeer. ‘n Uitnodiging na ‘n middagete saam met Naspers se Koerantedireksie is aanvaar, maar op nommer 99 gekanselleer omdat ‘n Kabinetsvergadering te lank aangehou het. Jy het ten minste self gebel om ekskuus te vra. ‘n Voorstel vir ‘n informele vleisbraai om Afrikaanse persmense beter te leer ken, is met geesdrif begroet — en dit was die einde daarvan.

Die aand met die bekendstelling in Kaapstad van Mathews Phosa se eerste Afrikaanse digbundel, Deur die oog van ‘n naald, was jy ook daar. Ons het soos ou vriende gesels. Verder het dit egter nie gekom nie. Wat nogal jammer is, nie net uit ‘n vriendskapshoek nie, maar ook omdat goeie, opbouende kontak met Afrikaanse persmense vir jou vrugbaar kon gewees het.

Nou na al die jare, nadat ons paaie heel geskei het, jy vir twee termyne president was en internasionaal baie roem verwerf, maar ook ‘n bose boel weerstand in eie geledere gegenereer het, het dinge vir jou lelik skeefgeloop. Ek het hierbo geskryf dat jy die slagoffer is van ‘n monster wat jy self geskep het. Jacob Zuma was jou man wat jy teen Nelson Mandela se advies in tot jou ajudant bevorder het. Baie van jou verstandige sienswyses wat jy daardie aand in Bloemfontein verkondig het, het ingrypend verander. Jy het wilde perde opgesaal, Thabo, en nou ontdek jy hoe moeilik dit is om hulle te ry.

Maar ek soek nie baklei nie. Wie is ek in elk geval om jou te kapittel? Ek sou verkies om bande op te tel. Dalk het jy al vergeet wie Hennie van Deventer is. As jy behoefte het vir ‘n broederlike geselsie oor die Polokwane-ramp of wat ook al met ‘n “Boertjie” oor twee kanne koffie – selfs iets sterker – is jy egter welkom. Die sonsondergang op Melkbos is hemels.

Groete.

Hennie van Deventer

Deel dit: