
Kyk daai tong!
Vir ‘n vlermuis gril ek tot in my tone. Daar is vir my iets sinisters aan hierdie swiepende skimme van die nag. Vir ‘n klein vlermuisie so groot soos die eerste lit van ‘n vroulike duim en met “toontjies so dun soos garingdraad” gril ek selfs ‘n graad of twee meer.
Tokkie tel enetjie op langs ons swembad in Sabiepark. Skynbaar pas gebore. Die outjie se “oortjies roer nog”, maar is klaarblyklik op die punt om sy laaste asem uit te blaas. ‘n Kolonie miere het al gretig begin toesak op wat binne minute ‘n kadawertjie sal wees.
My vrou bring die affêretjie na haar onwillige man toe vir ‘n nie-vrywillige les in dierkunde. Die garingdraad-toontjies word as ‘n primêre kenmerk uitgelig. Daarna word een vlerk versigtig opgetel . Dié is volgens haar oordeel buitengewoon groot in verhouding met die res van die lyf.
Steeds keer ek my rug afwerend. As toegewing gee ek haar vonds net ‘n vinnige, tersluikse blik oor die linkerskouer.
Nadat die sterwende diertjie die veld ingeskiet is vir die natuur om sy gang te gaan, word ek oor my afwysende houding gekonfronteer. Ek moet toegee dit is die eerste waarneming van die aard in ‘n verbintenis van 25 jaar met die reservaat aan die Sabierivier langs die Krugerhek van die wildtuin; ‘n historiese moment.
Ná nadenke moet ek ook toegee dat ‘n fotogeleentheid verbrou is. So ‘n foto van die toontjies en so sou ons inderdaad selfs vir Weg kon gestuur het. Ek, arme drommel, het hy my skoon uit ‘n scoopfoto gegril.
ANGSRIT VAN ‘N SPINNEKOP OP ’N DRYWENDE ‘EILAND’
Bedink die paniek van ‘n spinnekop as die drywende chloorhouer waarop hy hom tuisgemaak het, deur skielike aktiwiteit in die water tot in die middel van ‘n swembad gevoer word.
Trap-trap hy na voor, agter, links of regs tref sy pote net water. Hy bevind hom as magtelose gevangene op ‘n onvaste “eilandjie” met geen redding in sig nie. Sy lyftaal spel angs en verslaenheid.
Die klein drama’tjie speel hom af terwyl eggenote Tokkie ons swembad in Sabiepark skoonmaak. En onthou nou: hier is nie elektrisiteit nie. Vir operasie skoonmaak word ‘n self-geprakseerde bos kreepy-krauley ingespan. Dié bestaan uit ‘n stuk swembadpyp wat met kabelbinders aan ‘n lang stok vasgewoel is. Daarmee word onsuiwerhede uit die water gesuig.
Die longe word eers leeg geblaas. Dan volg die suigaksie. Dis iets om te hoor en aanskou.
Terwyl Tokkie haar patent in bedryf stel, gewaar sy die spinnekop op die chloorhouer wat met ‘n eensklapse vaartversnelling van die rand begin wegdryf. Dis ‘n groot bruin meneer, amper so groot soos die kop van die houer. Hy klou vir dood en soek alkante toe veiligheid. Vergeefs.
Sy kry die ou intens jammer. Haar eerste reaksie is om hom te red. Sy los dus die kreepy-krauley en gryp die skepnet. Daarmee stuur sy die houer tot teen die rand aan die oorkant. Ta laat ook nie op hom wag nie. Hy raap homself op, spring vervaard na terra firma en skarrel so vinnig soos sy agt pote hom kan dra, na ‘n veilige hawe ver van die water.
Later besef mev. Van Deventer, soos die uwe tevore met die sterwende vlermuisie, die verbroude fotopotensiaal van die situasie. Kon selfs ‘n YouTube-treffer gewees het: die yslike gogga op sy angsrit oor die “onstuimige” waters van ‘n bos-swembadjie terwyl die kreepy-krauley sy taak verrig.
Instink het egter oorgeneem, en dié was nie om fotomateriaal te versamel nie, maar ‘n mede-bewoner van die planeet uit sy angs te verlos.
Al het haar teenwoordigheid van gees haar in dalk die steek gelaat, het sy ten minste ‘n mooi gesindheid geopenbaar.

Malans en hul skerpioen
NAGTELIKE ESKAPADE MET ‘N SKERPIOEN
Van die nagtelike eskapade met ‘n skerpioen onder ons dak raak ek en Tokkie eers bewus toe ons die oggend op die agterstoep ‘n rustelose knewel in ‘n diep, langwerpige plastiekbak aantref.
Waar en hoe hy daar gekom het, verneem ons later toe ons gaste, skoonsuster Dalene Malan en broerskind Marcus Malan, hulle vir brekfis by ons aansluit. En wat ‘n gedoente was dit nie.
Dit blyk dat Dalene wat nogal ‘n sekere lugtigheid vir skerpioene en soortgelyke bronne van pyn en lyding openbaar, bed-toe-gaan-tyd die gevaarlike rooi knypers onder ‘n bedkassie sien uitsteek het. Met die bejaarde gashere se kamer reeds donker vir ‘n noodsaaklike nagrus, was Marcus die aangewese redder.
Sy is haastig die trappies op om hom na benede te ontbied. Een kyk was genoeg om sy ma se identifisering te bevestig: inderdaad ‘n skerpioen wat dreigend daar sit, daarby ‘n grote lummel met knypers soos ‘n draadtang.
In die kombuis tref Marcus ‘n skoppie aan wat nuttig aangewend kan word in ‘n skerpioen-offensief. Maar hy wil darem graag dat Oom Hennie en Tannie Tokkie die indringer sien. Hy krap toe verder in die kombuiskaste en kom op die bak af wat normaalweg as houer van toebroodjies dien.
Onder sy ma se toesig werk hy die skerpioen – toe reeds duidelik omgekrap oor die versteuring – in die toebroodjiebak in. Sy is tevrede dat die gevaar afgeweer is, en hy met sy doeltreffende hantering van die komplikasie in die kamer.
Deur die hele operasie slaap ek en Tokkie rustig voort, onbewus van die rondsluipery in die huis, ligte wat aan en af gaan, gekrap in die kombuiskaste en aktiwiteite in die gastekamer.
Foto’s: Ma en seun en die yslike skerpioen wat hulle in die nag laat skarrel het.
LIKKEWAAN STEEL DIE KALKLIG
Die knaap sal hom wat verbeel. Terwyl duisende Saterdagmiddag voor TV se sportkanale vasgenael was, het hy in Sabiepark ‘n gehoor van vier se volle aandag vir langer as ‘n uur geniet. Broerskind Marcus Malan van Pretoria het die effense geritsel in die gras die eerste gehoor waar ons op ons stoep sit en ietsie koel geniet.
Likkewaan se kind vat koers na ‘n uitgeholde boomstomp naby die watergat. Dis blykbaar sy domisilium, Hoop so. Soek hom nie in my dak nie!
‘n Vertoning soos min volg. Hy loer met sy kraalogies vir ons terwyl hy akrobatiese toertjies met sy ellelange tong (bloedrooi op die agterste punt) uithaal. Toe’s hy woerts kop eerste in by een van die gate in die stomp en uit by ‘n ander. En weer. En weer. Lyk of hy die kalklig nogal geniet het. Hoeveel foto’s geneem is? Moet dosyne wees.
REDDING UIT NOOD VAN NIGGIE TOT NIGGIE
Om jou in ‘n padblokkade in die Krugerwildtuin vas te ry sonder ‘n rybewys in jou besit, is moeilikheid soek. Propperliese moeilikheid het ek gekry toe ek dit per ongeluk oorkom. Rybewys is op Melkbos vergeet. Maar vergeet is geen ekskuus nie, al is jy ‘n rype 82.
Die potjie met die gereg loop ek op die pad tussen die Paul Krugerhek en Skukuza waar die Doispanepad aansluit. ‘n Yslike vloot polisiemotors is daar saamgetrek, waarskynlik op soek na stropers of annerlike kwaadoeners.
My onvermoë om ‘n rybewys te produseer, word met onbehae begroet. ‘n Kwaai vroulike beampte lyk sommer lus om my op te sluit. My voorstel dat ek en Tokkie, wat wel haar rybewys by haar het, bloot plekke ruil, word summier verwerp. Smak na bedrog, meen sy.
Gelukkig roep sy ‘n manlike gesagvoerder om die wetsoortredende oubaas te kom regsien. Hy is toe redeliker, verstaan hoe die vurk in die hef steek en laat die omruilery toe.
‘n Dringende SOS word daarop na Melkbos afgeblits. Die rybewys kom per Pep se koerierdiens waarvoor ek agting het. Prys is redelik en kommunikasie met klante voortreflik. Die SMS’e reën behoorlik van begin tot einde.
Gelukkig kom skoonsuster Dalene Malan van Pretoria af by Pep op Hazyview verby. Sy pik die pakkie op. Ek kan weer wettig agter die Honda se stuurwiel inskuif.
Eers later besef ons die toeval. Pakkie is op Melkbos ingegee deur Esme le Grange – Dalene se niggie. Hulle is twee Terblanche’e van George se kontrei.
So van niggie tot niggie kom die kosbare kaart in ‘n yslike plastieksak binne dae uit Melkbos tot in Sabiepark. Dankie, julle twee vir die redding uit nood.