Oor Tokkie het ek op ‘n keer ‘n versie geskryf:

Tooi jou in rooi,
my rooibloed-vrou,
om my vir altyd
aan jou voete te hou.

Haar liefde vir enigiets rooi is wyd bekend. Haar rooi hardebol-hoedjie versier dikwels die ouderlingsbanke van die NG kerk Melkbos.

Nou gaan sy ‘n rooi kar kry. Haar tweede – sy het in 1971 die trotse eienares geword van ‘n rooi Mitsubishi Colt, die goedkoopste karretjie van sy tyd. Dit was haar eerste wiele.

Daarna het gevolg twee Renault 5’s (‘n oulike geel-en-swartetjie en daarna ‘n silwer meneertjie), ‘n geel Opel Monza (polisiekar!) en toe ‘n swart C180 – ‘n totale verrassing wat haar sprakeloos gelaat het (en dit wil gedoen wees!)

Johan (ons seun) het die omstandighede van daardie sleutel-oorhandiging as “vulger romanties” beskryf. Vulger romanties of te nie, Tokkie was dolverlief op daardie kar en het vir hom so lief gebly dat sy trane gestort het toe sy nuwe baas hom kom haal.

“Toemaar, mevrou, jy kan vir hom kom kuier – ons woon gelukkig net hier om die draai,” het die ou verlee getroos.

Nou die nuwe kar: sy kleur heet karneool-rooi. Oor die feit dat dit ‘n rooie moet wees – enige kleur solank dit rooi is! – het die egpaar Van Deventer gou konsensus bereik. Al die goed bedoelde advies dat ‘n wit of ‘n silwer kar die beste is vir herverkoop het ons soos ‘n 60-spoedsone ge-ignoreer.

Ons is woordeboeke toe om die oorsprong van die kleur se naam te bepaal. Blykbaar is die karneool die een of ander gesteente – iets soos ‘n robyn. Op die kar lyk dit so donker maroen dat dit amper swart voorkom vir hierdie ou sukkelaar met sy rooi-groen-kleurswakheid.

Die kar kom eers in Februarie, as die agterstand weens die staking dan al ingehaal is. Sal hom vir die lesers van my webjoernaal wys as hy kom. Maar nou eers iets oor die foto hierbo.

Wat maak hy daar? Is dit omdat Tokkie ‘n rooi baadjie dra? Verkeerd geraai. Die werklike rede is – wag daarvoor – kommersieel. Dis tyd vir ‘n handelsflits – of sommer doodgewoon ‘n advertensie. My webjoernaal is nie verniet op Yahoo se Small Business-platform nie.

Ewenwel, daardie wit kar waarby my vrou in April 2002 so ingenome afgeneem is (jinne, Penguin Place 11 was nog nie eens gepleister en geverf nie, sien ek!) kom in die mark.

En dis nuus wat ek met vrymoedigheid in hierdie hopelik geloofwaardige, betroubare en vertroude ruimte versprei. Rede nommer een: daardie wittetjie met die swart leerbekleedsels het maar nog net 53 000 kilometers gedraf. Die gemiddelde vir ‘n 2002-model is 117 000. Die kar is dus spik-splinternuut.

Rede nommer twee is dat hy opgepas is soos net Tokkie ‘n kar oppas, met baie liefde en streng reels oor wat in hom mag gebeur en wat nie. Eet is byvoorbeeld uit. Alle ander aktiwiteite wat die sindelikheid van haar ryding selfs net tydelik ietwat bedreig, bejeen sy met vyandigheid.

Hoeveel passasiers het al agter in haar motor gesit? Buiten die tweeling Jacob en Thomas weet ek van min. En daardie twee woelwaters weet ook al as hulle in Ouma se kar klim, moet hulle hul rooimiere in bedwang hou. Ouma praat net een keer!

Van gister af ry ons met ‘n A4-Te Koop-advertensie teen die agterruit – iets waarvan Tokkie niks hou nie, maar waarvan sy die onvermydelikheid aanvaar. Die feit van die 53 000 kilometers word daar vermeld. En die prys. Dis R143 000.

Vertel maar vir vriende of kennisse wat ‘n goeie kar soek van hierdie ene. Niks verskuilde gebreke in hom nie.

Vir die rekord: dis ‘n Elegance. Buiten vir die swart leer binne, beteken dit die ander binne-afwerking is ook effens deftiger as die gewone. Die ratkas is outomaties. Die wiele onderskei hom van buite van die gewone Classic.

Die prys is bepaal na ‘n deeglike studie van die Auto Trader, ander motoradvertensies in koerante en op die internet, en in oorleg met diverse vriende, kennisse en vriende van vriende wat by Mercedes-handelaars (van Century City tot Witbank) die kitaar slaan. Dis markverwant. Ietwat te laag geteiken met die oog op ‘n maklike, vinnige transaksie. En dis nou nie ydel verkoopspraatjies nie! (HvD)

Deel dit: