Op Oujaarsdag, 31 Desember, is dit presies 41 jaar sedert ek, swetend in ‘n swart wolpak, voor die kansel in die moederkerk op Bultfontein gestaan het met my pragtige jong bruid, Tokkie, aan my sy. Vandag moet ek my hoed vir haar afhaal, want dat sy 41 jaar by my uitgehou het, getuig van haar stamina.

Die laaste tien van die 41 jaar se huwelikslewe is deels op Sabiepark geslyt. Daar in die bos is sy ‘n voorslag. In Olifante Onbeperk, ‘n self-gepubliseerde boekie oor die tien jaar in Sabiepark, diep ek veral ons herinneringe aan olifante en olifant-ervarings daar langs die Sabierivier op. Onthou, dis waar Mayafudi en Mayafudi – memories of an elephant hul ontstaan gehad het.

Die boekie, met dagstukkies en hope olifantfoto’s, is aan Tokkie opgedra in ‘n proloog wat volgens my vriend Chris van Rensburg van Bloemfontein ‘n ode aan Tokkie is. Ek meen dit is gepas om aan die vooraand van die huweliksherdenking daardie “ode aan Tokkie” hier te herhaal – ook die (kenmerkende) foto van haar met verfkwas in die hand, besig om ons bos-Eden se naambord op te knap. Tien jaar se Bosveldson werk met selfs ‘n goeie stuk swarthout se gal!

Hier is dan wat in Olifante Onbeperk oor my vrou opgeteken is – en dit kom uit die hart:

“Tokkie van Deventer is die hart en siel van Tarlehoet. Sy was dit van dag een af. Sy is dit steeds na tien jaar. Hierdie boekie kan aan niemand anders opgedra word nie.

“Om ‘n huis in die ongerepte bos in stand te hou, is geen grap nie. Dis klipharde rugbreek-werk en verg buitengewone bestuursvernuf. Tokkie skrik nie vir werk nie. Sy is die uithaler-nutsman wat alles kan regdokter terwyl haar man met ditjies en datjies poer-poer. Sy’s boonop een van die bekwaamste bestuurders wat ek ken: ‘n raakvatter met ‘n skerp oog, gesonde oordeel en rotsvaste respek vir orde en metodiek.

“Sy is ‘n virtuoos met haar self-geprakseerde “bos-kreepy-krauley”. Ek wonder hoeveel duisend blaartjies (en hoeveel liters onsuiwer swembadwater) sy al deur daardie stuk tuinslang, vasgewoel aan ‘n langerige stok, opgesuig het. Sy weet alles van verwe en vernisse. As die verf te lig is, kleur sy dit sommer met kitskoffie tot die perfekte skakering. As ‘n kraan se wasser die gees gee, tower sy lag-lag ‘n plaasvervanger uit ‘n velskoen se riempieveter.

“Sy bestuur die septiese tenk (‘n sensitiewe affêre) met ‘n ysterhand; hou die slotte ge-olie sodat roes dit nie verteer nie; verdryf die goggas met haar “Doom Foggers” aan ‘n besemstok (om hoog by te kom); hou – soos ‘n wyse “maagd” – die lanterns vol lampolie, voer ‘n ewige stryd teen die miere met passie en geduld, munt uit as slangjagter en is ‘n bobbejaanverskrikker sonder weerga (wat ‘n onaardse lawaai met ‘n braaipan of kastrol kan voortbring).

“Tussenin bederf sy haar nagapies (stapels gekerfde piesang) en Witnek, die bejaarde resident-duikertjie, (hande vol pitjies) met ‘n hart vol moederliefde.

“Sonder Tokkie sou Sabiepark vir ons ander nie só lekker gewees het nie. Trouens, sonder Tokkie sou dit niks lekker gewees het nie. Punt.”

Hierdie is nie die eerste hulde wat ek oor my vrou op skrif sit nie sodat dit as getuienis teen my gebruik kan word. In In kamera word ’n hele hoofstuk aan haar gewy. Die titel, Die beste ding, verklap die kern daarvan.

Toe sy op 15 Maart 2006 60 jaar oud word het ek met behulp van die briljante Ollie Olwagen vir haar ‘n eie webwerfie op die been gebring. Ook daardie hoofstuk oor Die beste ding kom daarin voor, plus ‘n klompie versies en foto’s en wat nog. Die musiek – Ollie se keuse – is wonderlik. Gaan besoek daardie spesiale Tokkie-werf via www.hennievandeventer.com Kliek net op die balkie Tokkie 60 en siedaar: die hele Tokkie60 val voor jou oop. Moenie die luidsprekers vergeet nie!

Op die tuisblad van www.hennievandeventer.com is ook ‘n balkie Nog Tokkie. Dit neem ‘n mens na ‘n foto-album van mev. Van Deventer, van kleintyd op Bultfontein af toe sy nog die rondste ronde gesiggie gehad het.

Op daardie tuisblad is ook ‘n waterverfie van TvD in die gewaad van ‘n engel met ‘n verfblik en ‘n kwas in die hand. Dis ‘n opdragwerk deur my vriend Pierre van Manen vir haar 60ste. Engel met ‘n verfkwas het sy oorsprong in die kinders se spottery dat hul ma, as sy in die hemel aankom, dadelik sal begin rondkyk waar verf nodig is! (HvD)

Deel dit: