Die penarie van ‘n dringende draai loop sou ‘n mens dit kon noem: die hele moles wat in fases – soos beurtkrag – ontvou het nadat ‘n bejaarde vriend onwyslik sy gade se aanbod om op ‘n lang reis vir die doel by ‘n vulstasie stil te hou van die hand gewys het.

Die vriend is op die drumpel van sy honderdtal in jare. Omdat hy sy tyd deesdae hoofsaaklik in die slaapkamer deurbring, is sy daaglikse uniform pajamas onder ‘n netjiese kamerjas. Aan sy voete is pantoffels. So reis die egpaar ook waar hulle gaan, mevrou natuurlik agter die stuur.

Minstens een keer per jaar, pak hulle die lang tog aan van hul tuiste iewers in sentraal Suid-Afrika tot iewers aan die Suid-Kaapse kus waar hulle ‘n vakansiehuis besit. Sy bestuur die motor – en bestuur ook die reis as’t ware.

Op die vorige reis op Graaff-Reinet aangekom (al leidraad wat ek oor hul adres of bestemming gaan verklap), oordeel sy dat dit ‘n uitstekende aandoenplek is om te doen wat gedoen moet word en dan voorbereid die volgende been reis aan te pak. Nee, deel hy oortuigend mee, so ‘n stop sal wat hom betref, totaal onnodig en dus sommer net tydmors wees.

‘n Entjie anderkant die dorp begin hy sterk aanmanings kry dat sy uitspraak ‘n mistasting was. Die behoefte wel vinnig by hom op. Al raad is om langs die pad af te trek. Toe tref die ongeluk. ‘n Pantoffel gly op los gruis en die waardige man ploeg neer. Plat langs die pad.

Die gade, nog hups, snel hom te hulp, kry hom onder die arms beet en probeer hom oplig. Maar pure verniet. Dit word ‘n groot en onsuksesvolle gesukkel. Taamlik wanhopig, probeer sy naderhand armswaaiend ‘n motor voorkeer. Drie of vier dreun eenvoudig verby.

Skielik daal ‘n rustigheid in haar gemoed. Sy herwin ‘n kombers uit die kattebak, sprei dit net daar langs die pad oop en help haar hulpelose eggenoot skuif-skuif tot op die geblomde oppervlak.
Vervolgens bring sy ‘n warmfles en twee koppies te voorskyn, sak langs hom neer, strek haar bene uit en skink vir hulle twee stewige koppies boeretroos. Verbygangers vergaap hulle uit hul motors aan die rustige toneeltjie langs die pad.

Dis of die koffie haar krag gee. Sy kom orent, begin weer beur aan die prostate liggaam langs haar en kry hom eindelik tot by ‘n vashouplek aan die bakwerk van hul voertuig. Al stoeiende hys die twee hulle orent. Hy doen sy ding, natuurlik nou eers aangewakker deur die koffie-kapitaal. En daar is hulle weer vort – met vol harte en ‘n leë blaas verder see toe.

Ek pen hierdie neer nadat ek pas met mevrou in gesprek was. Die strekking van ons kommunikasie vind ek nogal verrassend. Die twee staan aan die vooraand van hul gewone somervakansie in hul vakansiehuis by die see.

Binne enkele dae vat hulle die pad; hy weer in sy kamerjas.

Ek skryf toe vir haar ‘n e-pos: “Julle is prysenswaardig ondernemend en onblusbaar lewensbly. “Stop hierdie keer tog maar op Graaff-Reinet (terwyl dit nog sy naam is) vir die nodige.”

Deel dit: