Van die reise in die natuurskone Amerikaanse ooskus in 1976 saam met my oorlede skrywervriend Hans du Plessis het ek gister vertel. Een van daardie reise was na die eilandjie met die tongknopernaam Chappaquiddick by Martha’s Vineyard aan die Cape Cod-kus van Massachusetts. Vandag vertel ek graag van die verloop van daardie ekskursie – en die afloop.
Chappaquiddick het toe minder as 200 permanente inwoners gehad. Dit was skaars ’n spikkeltjie op die kaart van die Amerikaanse New England-gebied. Twee keer kort ná mekaar was sy naam egter wêreldwyd op die voorblaaie.
Op 18 Julie 1969 het ’n insident op die eiland die VSA se geskiedenis waarskynlik oornag in ’n ander koers gestuur. ’n Lieflingseun, senator Edward (Ted) Kennedy, het in skande tot ’n val gekom.
Ted (37), broer van die charismatiese JFK (pres. John F. Kennedy) wat deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet is, het met ’n mooi verpleegster, Mary Jo Kopechne (28), van ’n jolige huisparty weggery en met sy deftige 1967-model Oldsmobile Delmont 88, van ’n bruggie af in ’n getypoel geplons. Hy het uitgeswem; sy het in die Olds verdrink (net agt dae voor haar 29ste verjaardag). Die skandaal het die land geruk.
Ses jaar later, in 1975, het rolprentmaker Steven Spielberg sy skrikmaak-rolprent Jaws op Martha’s Vineyard kom vervaardig. Die storie is van ’n fiktiewe monster-mensevreterhaai met verskriklike tande wat ’n ewe fiktiewe vakansiedorpie, “Amity Island”, terroriseer. Daardie haai het verskrikte rolprentkykers hul speedo’s en bikini’s liewer ’n ruk laat wegpak.
Die befaamde Cape Cod-kus – dus ook die eiland Martha’s Vineyard met sy tweeling-eilandjies, Nantucket en die in-die-nuus Chappaquiddick, was van Cambridge af maklik bereikbaar vir ‘n naweek. Van die universiteitsdorp – net oorkant die Charlesrivier van die makrostad Boston – is dit iets soos 120 kilometer. Die laaste been van die reis tot by Edgartown 11 kilometer van die kus, behels ’n vaart van twee uur met ’n groot veerboot. Van Edgartown is Chappaquiddick net ’n klipgooi met ’n heelwat kleiner model.
‘n Naweek in September in die Amerikaanse “Fall”, terwyl die laaste herfsblare van die akkerbome en essenhoute nog skouspelagtig aan die bome hang, is ons en graswewenaar Hans op ’n “speurtog” die verlede in.
Eerste op ons naweekprogram was die spore van Spielberg en sy monstervis op “Amity Island”. Die buurdorpe Edgartown en Oak Bluffs, bekend om sy gekartelde “gemmerbrood”-houthuisies, vorm saam die fiktiewe eiland.
Daarna is die onuitwisbare spore van Ted en Mary Jo gevolg op Chappaquiddick, ’n lappie grond wat van tyd tot tyd ’n skiereilandjie van Edgartown is wat met kragtige vier-by-viers bereik kan word. Orkane en ander ekstreme weerverskynsels sorg dat dié oorlandse besoeke nie gereeld kan gebeur nie. Amptelik is Chappaquiddick dus ’n eiland.

Opstaantyd.
Vir ’n eiland-inspeksie in loco het die veerbootjie On Time II in die hawe gewag om ons die laaste 160 meter tot daar te bring. (Daar is ook ’n On Time III wat somermaande bykom.) Soos uit die naam blyk, was die On Time altyd “betyds”. Geen vaste skedule het bestaan nie. Daarom kon die “veerboot” nooit vroeg of laat wees nie.
Die diens was na behoefte, buiten laataand. Sodra drie motors wag, kies ’n “On Time” koers. Mense, fietse en motors is elke dag dosyne kere vir ’n skamele paar dollar droogvoets by hul bestemming besorg. Die plaaslike troetelnaam was die “Chappy”. Dit kom natuurlik van Chappaquiddick.
In ’n koffietafelboek, The Chappy Ferry Book, wat oral op Martha’s Vineyard trots uitgestal was, beskryf die outeur, Tom Dunlop, die tweeling-bote dalk ietwat hiperbolies as “the most unusual, hardest working, and best known ferries on earth”.
Die “Chappy” se aansprake op sulke lof sluit in dat dit 37 jaar deur ’n blinde besit en bedryf is; al deur ’n ligte vliegtuig getref is; op die water in vlamme uitgebars het, en tydens ’n orkaan gesink het. ’n Baba is amper op die kort vaart gebore en ’n motor het al van die dek gerol. Al hierdie boeiende en merkwaardige inligting kom uit die Ferry-boek.
Op ’n Saterdag in September 1976 het die Gideonsbendetjie uit die verre Suid-Afrika die “most unusual ferry” bestyg. Nooit tevore was een van ons met ’n motor so ’n oop, klein veerbootjie op nie, en almal was nogal senuweeagtig, veral die bestuurder. ’n Man wil nie in die vreemde skande maak en skielik à la Kennedy in die water beland nie!
Ba-a-a-i-e versigtig en ba-a-a-a-i-e stadig het ek my Amerikaanse Japanner met sy linkerstuur oor die laaste hobbeltjie voor die luierende vaartuig bestuur. Vriend Hans moes beduie: bietjie links, bietjie regs.

Slaapplek in ‘n agterplaas.
Hy was ons navigator. Met ’n padkaart in sy hande sou ons daarna die eiland deurkruis op soek na die gehuurde partytjiehuis waar Kennedy en Mary Jo die aand om 23:05 weg is, sogenaamd dat sy nog die laaste veerboot kon haal (onverklaarbaar sonder haar handsak!); na die enkelbaan-bruggie waar Kennedy (raaiselagtig!) verkeerd sou gedraai het; na die plek waar haar lyk die volgende oggend ná tien ure uit die wrak in die vlak water geduik is; asook na die plek waar Kennedy, volgens hom, oor die kanaal geswem het voordat hy om 02:00 “gedaan” by sy hotel in Edgartown opgedaag en in ’n “diep slaap” geval het.
Oor die partytjiehuis was ek onseker. Op Chappaquiddick was, klein soos dit was, geen tekort aan herewonings nie. En in 1976 was GPS’e natuurlik nog nie eens ’n vonkel in iemand se oog nie. Die ander bakens is almal opgespoor, glo ek. Dowwerige foto’s is geneem, byvoorbeeld van die kinders by die Dikebrug waar die kragtige Olds afgestort het
Vir die spannetjie Suid-Afrikaners het die uitstappie onplesierig geëindig. Die vorige aand het ons in die Nickerson State Park op Martha’s Vineyard ’n aangename staanplek vir die Corona uiters billik te hure gekry. ’n Netjiese ablusieblok was byderhand. Op Chappaquiddick was ons harte gou in ons stapstewels. By elke moontlike slaapplek was ’n teken op: “Closed for the winter”.
Nou ja, Amerikaanse winters kan ysingwekkend wees. Hier moes ons aan ons eie lywe voel hoe vroeg party Amerikaners hulle vir die lang, bitter koue sneeuseisoen begin regskud. Daar sit ons toe soos pietsnotte, onseker oor die “Chappy” se kom en gaan, maar ook ongretig om ons “speurtog” vroegtydig af te las.
Parkering was oral dreigend verbied: “Don’t even consider it.” Ook die volgende onaangename waarskuwing was op ’n kennisgewing: “Violators will be towed”. Toe moet ons maar rondry totdat dit goed donker is. Onder ’n akkerboom langs ’n leë houthuis het ek die Corona parkeer – nogal met ’n lekker omheinde agterplaas vir nagtelike lopies.
In die middel van ’n diep slaap het iets hard geknal. Dit was soos ’n geweerskoot. Die polisie! Dit was my eerste gedagte. ’n Ekskusie in my beste Amerikaanse Engels is vinnig voorberei. Niks het egter gebeur nie. Die skuldige is deur ’n ondersoek aan die lig gebring: ’n moedswillige akker!
Die gesin Van Deventer krul ons toe weer sardientjiestyl op agter in die stasiewa, trek ons gordyntjies toe en slaap onrustig voort todat die lus vir boeretroos ons vroegoggend kaai toe dryf. Hans agter die stuurwiel kon, volgens sy misnoegde mededeling, geen oog weer toemaak nie. Dit was sy laaste aand in die Merk II. Daarna was dit ‘n motel vir hom.
So het die voordelige sisteem ontwikkel dat ons die wiele verskaf, Hans die badkamer. Soos ek gister gemeld het, daardie Merk II was die enigste stasiewaentjie met ’n badkamer en suite waarvan ek nog gehoor het.