‘n Bekende Engelse omroeper wie se naam my nou ontgaan het, het vir hom ‘n monumentjie gebou met sy kreatiewe “verengelsing” van die Latynse spreuk tempus fugit – die tyd vlieg.
Hy (was dit dalk Eric Egan?) het dit omskep tot “tempus is fugitting like mad”.
Die tyd vlieg inderdaad dat dit bars. ‘n Dekade vlieg daarheen asof dit maar ‘n kort skoffie is.
Op 19 Februarie 1998, tien jaar gelede, is ‘n dinee in die Mount Nelson gehou om afskeid te neem van Hennie van Deventer, uitvoerende hoof van koerante.
Die Drie Tenore het gesing – so hard gesing dat Jeff Malherbe, ‘n direkteur van die Pers, later versoek het hulle moet nou ophou, asseblief. Ek was vieserig vir Jeff. Dit was tog my aand.
Ton het gepraat en mooi dinge oor die uwe kwytgeraak. Ek bere daardie toespraak iewers in ‘n laai vir ‘n huldeblyk wanneer dit nodig raak. Toe praat ek. Toe gee hulle my ‘n skildery van Tafelberg deur Dale Elliot (met ‘n boom op wat ek nie ken nie). Daarmee was ‘n loopbaan van 35 jaar iets van die verlede.
Agterop die spyskaart het ek geskryf: Ek was gelukkig om op die regte tyd op die regte plek omring deur die regte mense te wees. Daardie woorde geld my hele loopbaan. Dit geld veral my 12 jaar as redakteur van Die Volksblad en vyf as hoof van koerante.
Dit geld ook die span wat in my laaste jare die topbestuur van Naspers gevorm het. Wat ‘n voorreg om met manne van die stoffasie van ‘n Ton Vosloo, Eric Wiese, Salie de Swardt en Helgaard Raubenheimer in die Nasperssentrum aan die Heerengracht in die tuig te staan.
Dit was ook die span wat die aand saam met my en Tokkie in die Mount Nelson aangesit het.
‘n Rukkie gelede kry ek die idee om hulle weer saam te trek vir die herdenking van my tien jaar as los … los … wat sal ‘n mens dit nou noem om nie politiek inkorrek te wees nie?!
Gelukkig kon almal die datum op hul programme inpas. Dis nogal ‘n wonder want die klomp is gedurig op reis na eksotiese plekke, Dis net ou Hennie en ou Tokkie wat met Jan Tuisbly se karretjie ry.
Op Dinsdag 19 Februarie 2008 kom ons toe saam by Penguin Place 11, Melkbosstrand. Die foto hierbo is daardie middag op ons stoep geneem. Van links is Helgaard, HvD, Eric, Salie en Ton. Die gades is op ‘n aparte foto.
Nog ‘n foto van die geleentheid is van Tokkie met twee skottels Weskuskreef – sulke dieprooi knewels. Ons het heerlik daaraan weggele saam met my knap vrou se ander lekker kos. Die Mount Nelson kan maar kom!
Voor die tyd en aan tafel het ons lekker gesels, baie gelag en vele “onthou-jy-nog-stories” gedeel. Koerantsake was hoog op die agenda. Ek gaan nie geheime verklap nie.
Een geskenk wat ek ontvang het, is ‘n bottel KWV-brandewyn 10 jaar oud – ‘n gewaardeerde simbool van my eie tien goue jare. Dankie, Salie.
Die immer kreatiewe Anet het uit Mayville, die Vosloos se herewoning in Oranjezicht, ‘n versie gebring met die titel ‘n Ode aan Hennie. Dit lui:
Daar was ‘n man met die naam van Hennie
hy’s nie ‘n ou wat aftree ken nie
Hy is ‘n man wat sy se wil se,
wat nie sommer maklik gaan le,
en wat nie glo die swaard is magtiger as die pen nie.
Dankie, Anet, dis woorde wat sterk aanklank vind by ‘n snaar in my hart.
In elk geval, die tyd drafstap inderdaad al hoe vinniger. In my geval is dit al op ‘n sterk galoppie – al lyk tien jaar vorentoe – 19 Februarie 2018 – nog ver-ver in die verskiet. Reken, dan sal ek al 77 wees. (HvD)
