Nou ook al amper 57 jaar gelede, op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, is Jakob Hendrik van Deventer (25) en Gesina Susara van Wyk (20) op haar tuisdorp, Bultfontein, in die huwelik bevestig. Dis ‘n tipiese plattelandse NG kerk, ‘n netjiese, soliede siersteengebou met ‘n tradisionele hoë toring. Die klok lui elke halfuur.Neffens die kerk is die ou begraafplaas waar Tokkie se vroeg gestorwe pa, Kotie, begrawe lê en waar later ook vir haar ma, Marietjie, ‘n mooi steentjie aangebring is. Die rye grafstene diens as dekor op verskeie van ons troufoto’s. Die plek lyk nou ongelukkig taamlik verwaarloos. Van die grafstene het omgeval. Party grafte het sleg ingesak
Nes sommige misdadigers, veral sosiapate, graag terugkeer na die misdaadtoneel om hulle te verlustig, is die egpaar Van Deventer verlede Sondag saam met ‘n klompie van die bruid se matriekmaats weer die steil trappies van daardie kerk op vir die oggend se erediens. Darem nie om ‘n “misdaadtoneel” te herbesoek nie, maar uit ‘n sentimentele drang.
Laat ek maar erken: ‘n roering van emosie in my 82-jarige hart was fisiek voelbaar toe my oog op die formele houtkansel val waar ek daardie middag, swetend in my houtskoolswart pak met die fyn wit strepies, angstig op my skone jong bruid staan en wag het. Tokkie (net 20) was vir my eteries mooi toe sy net ná 15:30 stralend aan die arm van haar weduweema, Marietjie, die kerk ingesweef kom.
Wyle Lenie Mostert kon die orrel ooptrek met Felix Mendelssohn se Troumars. My neef wyle Bertus du Plessis – ’n goeie man wat later ‘n leraar van die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) geword het en van wie tot my spyt ‘n politieke vervreemding was – kon sy spreke plegtig spreek.
Wyle Margot Luyt, stemkunstenaar, ‘n mede-Bultfonteiner, het in haar volryp stem vir die bruidspaar Psalm 121 (ou vertaling) voorgedra: “Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom….” Ons het aan mekaar trou gesweer en mekaar die regterhand gegee. Ek het die bruid liggies gesoen.
In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega wyle Kas Dreyer, ‘n knap fotograaf, Tokkie gelukkig op pakke pragfoto’s verewig. Ek het pas weer met behae die spierwit trou-album uit sy boks gehaal. Die foto’s lyk so vars of dit gister geneem is. Hier is ‘n paar.

Ek het my vrou van 56 jaar en 9 maande ná Sondag se diens weer afgeneem by die breë stel trappe by die kerk se voordeur waar die trougaste op 31 Desember 1966 met hul hande vol konfetti op die verskyning van die bruidspaar gewag het. Dis die vars foto hierbo.
Om die NG kerk Bultfontein te herbesoek, het om meer as een rede vreugdevolle herinneringe gebring. As aflos-orrelis was Tokkie as skoolmeisie dikwels ook in daardie kerk agter die orrel, wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Sy het ook daar belydenis van geloof afgele.
‘n Herinnering om oor te proes, is aan skoonma Marietjie se onderonsie met ‘n verdekselse meerkat in die jare 60. Soos ek dit het, was sy – ‘n diep gelowige kerkmens – in die gewyde stilte voor die begin van die diens diep in gedagte versonke toe sy ‘n ongewone gevroetel by haar voete ervaar. Toe sy afkyk, sien sy net waaierstert. Die kreet wat haar lippe ontsnap het, was ‘n hulpgeroep na Bo. Meerkat se kind het vreesbevange laat spat.
Later kon skoonma nie glo nie dat sy van alle mense – iemand in wie se woordeskat nie vir kragwoorde plek was nie – so groot kon skrik dat sy haar sulke oneerbiedige vrymoedigheid veroorloof het.