
Die romantiek van Balule raak amper oorweldigend as die vuurtjies saans begin brand.
Van ons afskeidskuiertjie vandeesweek by Balule hoef ek kwalik iets meer te rep as om my bure in die rondaweltjies aan weerskante bekend te stel. Soos ons, is hulle weerkommers of keerweders, of wat ’n mens “regulars” ookal in Afrikaans noem.
Ek en Tokkie was soontoe op ons 10de besoek sedert 2011 – weer, glo dit of nie, in rondawel vyf soos daardie eerste keer. Maar moenie dink dat ons skof van 15 jaar enigeen van ons bure kon imponeer nie.
In rondawel ses was Pip (90) en Nan (85) Townshend van Grahamstad en in rondawel vier Brian (75) en Joan (nie gevra hoe oud nie) Mallinson van Johannesburg. Albei pare ken en besoek Balule albei al 30 jaar lank, eers as kampeerders aan die ander kant van die draad.
Kan enige plek ‘n beter getuigskrif verlang: Mense wat kom, kom en weer kom , en elke keer opnuut verlief raak? Dit sê mos alles, meer as elke byvoeglike naamwoord in die woordeboek.
Vir Pip, onderwyser by Kearsney College vir 39 jaar, wil ek die kompliment gee dat hy sy nuwe Toyota Cross Over nader aan sy rondawel kan parkeer as wat dêmmit aan vloek is. Skaars plek vir ‘n flentertjie papier tussen sy linker-modderskerm en die muur gewees. Pip hou vol dit was doelbewus om ‘n klein stukkie skaduwee te benut. Moet dit maar glo. Dankie, Nan, vir die fraai nonnetjiesuil wat jy vir ons gewys het.
Brian Mallinson vertel oor ’n glasie goeie rooi interessante stories oor sy loopbaan as neuro-sielkundige en ekspert-getuie oor breinbeserings in talryke hofsake. En hy en Joan maak langsaan ‘n skaappotjie wat ‘n lieflike geur versprei.Langs hulle, in nommer drie, was twee Australiërs. Hulle het ek net vlugtig raakgeloop, Brian vertel egter een kom elke jaar en bring dan ’n maat saam, Hy is versot op Balule.
Brian vertel ook van buitelandse gaste wat hy as gasheer na die wildtuin moes vergesel, onder meer uit Denemarke. Die uiters basiese Balule was elke keer die gunsteling omdat dit so “authentic” is.
Herinner my aan ‘n sjarmante Franse gesin wat ons in 2014 daar ontmoet het: Didier Charvet, sy vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (toe 10) en Melisse (toe 7).
By hulle het ek met génépi kennis gemaak: ‘n geurige Franse “witblits”. Dit kom van Alpynse kruie wat in die somer op ‘n hoogte van 2 000 meter groei – die hoogste plant in die Alpe (wetenskaplike naam Artemisia, in Engels bekend as wormwood).
Die Franse het oornag Franse vriende geword met wie adresse uitgeruil is. Vir die génépi wat ons uit pragtige vlekvrye staalflessie geniet het, het hulle self die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, aangedurf op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het. Soos ek verstaan, is dit in die omgewing van St. Maurice.
In my Sabieparkse drankkabinetjie is nou nog so ‘n kosbare flessie génépi vir baie spesiale okkasies.
Hoeveel ryker het Balule nie my lewe gemaak nie – ook deur die mense wat ons daar ontmoet het. Balulemense is lekker mense.
(Later ietsie meer oor die besoek. )