‘n Storie in Vrye Weekblad (10/8)) oor ’n pypaansteker uit Noord-Korea laat my terstond in ‘n laai in my kroegie krap. Daaruit grawe ek ‘n groen aansteker met sy eie storie en twee verrassende raakpunte, weliswaar ietwat verroes, maar in goeie werkende orde.Max du Preex, redakteur, vertel in sy blad van ‘n onderhoud 20 jaar gelede met prof. Pieter de Lange, oud-voorsitter van die Afrikaner-Broederbond, volgens my een van die belangrikste, maar ietwat miskende, figure in die vreedsame politieke oorgang van die land.
Duidelik het de Lange se realistiese insigte en mededelings ook vir Du Preez getref. Sy weergawe is onbesproke ewewigtig. Maar dit daar gelaat.
De Lange het Du Preez vertel van ‘n ontmoeting in Junie 1986 met Thabo Mbeki in New York by ’n konferense van die Ford Foundation. “Ek en Thabo het goed klaargekom. Ons is albei pyprokers. Ons kon toe ons pype opsteek.”
De Lange se pypaansteker wou nie werk nie, en Mbeki het sy pyp aan die brand gekry – met ’n aansteker wat pres. Kim Il-sung van Noord-Korea vir hom gegee het.
Die storie was die sneller wat my na my aansteker gaan laat soek het – so ‘n groenetjie met die logo van Umkhonto we Sizwe en ‘n 75 daarop, my present van die nimlike Mbeki. Die 75 is ter herdenking van die ANC se verjaardag. (Vanjaar is hy al 113!)
Ons was in November 1989 by ‘n konferensie in Parys wat deur Danielle Mitterand, Franse presidentsvrou, gereël is. By ‘n deftige onthaal – daar was elke aand een in ‘n ander paleis – staan ek en Mbeki en korswel. Hy kug-kug aaneen, en ek verklaar my besorgd oor die chroniese hoesie.
Dadelik belowe hy toe om minder te probeer rook, en gee vir my sy aansteker present: die groene.
Die einste Max du Preez het die plegtige oorhandiging opgemerk. Hy skerts toe hy gaan my by Doeane verklap. Ek bring ‘n ontstekingsmeganisme van die ANC die land binne!