wat ek as seuntjie by die skool ingepalm het. Die naam was – as ek reg onthou – Slaaptydstories. ‘n Storie oor ‘n storm het by my vasgesteek tot vandag toe. Ek onthou tot die illustrasies. Die ander stories het ek al lank vergeet.
In daardie storie tref ‘n woeste storm ‘n plaas. Die boer hôl beangs rond en skud ergerlik die nuwe jong werker wakker wat dwarsdeur die loeiende wind, donder en blitse rustig slaap. Die seun antwoord iets soos: “Ek kan maar slaap as die storms kom.†Daarmee bedoel hy: “My werk is deeglik gedoen – ek hoef nie bekommerd te wees nie.â€
By die seun se woorde wil ek vandag aanknoop. As koerantmens vir amper vier dekades en steeds ‘n lojale leser van die papiermedia, wil ek my nek uitsteek en waarsku: “Koerante kan nie slaap as die storms kom nie.†Hulle sal moet uit in die wind en reën.
Die koerant wat nie wawyd wakker is nie, gaan nog deur die internet bloedneus geslaan word – nie net met die onmiddellikheid van laasgenoemde se oombliklike inligting nie maar ook met sy vermoë om massas visuele materiaal blitsvinnig en amper onbeperk uit te blits.
In my e-pos-inmandjie het indrukwekkende stormfoto’s die laaste klompie dae absoluut gereën: uit die Strand, Kalkbaai (die Brass Bell is skoon platgevee!), die Kaap se eie Atlantiese seekom, Port Elizabeth, Plettenbergbaai, noem maar op. Elke e-pos wat jy oopmaak, moker jou tussen die oë met sy skouspelagtige visuele impak.
Telkens staan jy opnuut verstom oor die hemelhoë reusebranders, die berge bibberende bruin skuim, die wier, seewater en klippe wat die malende waters in strate en op geboue, motors en mense stort….
Geen koerant wat ek in hierdie dae gesien het, het ‘n fotobeeld gebied met dieselfde trefkrag nie. Geen voorblad wou jou onwillekeurig laat uitroep nie: “Sjoe!†Trouens, van koerante se beste foto’s – in baie gevalle beter as die in dié koerant – was in galerye op hul webwerwe. Enigiemand – ook nie-lesers – kan dit kosteloos gaan besoek.
My opmerkings kom in die konteks van die slot van my loopbaanboekie Kroniek van ‘n Koerantman wat in 1998 – ‘n jaar na my aftrede – gepubliseer is. Dit is geskryf toe die protagoniste van die sogenaamde “nuwe media†as’t ware al (baie prematuur) op die grafte van die koerante wou begin dans.
Stadig, stadig, het ek gemaan. “Hoe magtig die internet ook al is, en nog kan of gaan word, bestaan by ten minste hierdie kroniekskrywer, na veertig jaar in die enjinkamer van die koerantwese, min twyfel dat dit langs die koerant , en versterkend van die koerant gaan wees – nie as ondersteboloper van die koerant nie. Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.â€
Krabbel ek dan vandag na tien jaar se aftrede terug? Nee, gelukkig darem nie. Ek dink eerlik nie koerante is skielik steierend of op hul laaste bene nie. Maar ek moet bely: ek het die gevaar en die uitdaging van die internet ietwat onderskat. Niks het daardie onderskatting tot dusver sterker beklemtoon as die Septemberstorms en die stortvloed e-posse daaroor uit alle oorde nie.
Koerantkollegas van die nuwe generasie moet asseblief nie dink hier op Melkbos sit ‘n vitterige, beterweterige en oorkritiese ou man, oorgehaal om hulle te kap hoe hulle hullself ookal teen daardie aanslag verweer nie. Trouens, gekonfronteer met die duisternis wonderlike digitale fotomateriaal niks verder as die klik van ‘n muis nie het ek self bra magteloos gevoel.
Ek is maar te dankbaar is ek is nie meer ‘n koerantmens nie, het ek teenoor my vrou, Tokkie, opgemerk. Dit sou my mal maak om soveel skitterende foto’s tot my beskikking te hê – voorbladfoto’s te kus en te keur – en nie herwaarts of derwaarts daarmee te weet nie.
Maar as ek alles klaar gesê het, en ek ook my eie onmag bely het om presiese advies te gee, wil ek tog waag om n knaende persepsie in ‘n vraag om te skep. My vraag is of ons koerante nie so effens die kuns verloor het om met ‘n groot storie – soos ons dit in die ou dae gestel het – die “skouers oop te maak nieâ€. Is die storms van 2008 nie te doodgewoon, amper pedestriaans, hanteer en die terrein vir die internet-kompetisie as’t ware braak gelaat nie?
Miskien sal ‘n goeie beginpunt vir enige nabetragting tog wees om die seleksie van foto’s vir publikasie krities te gaan evalueer, en ten tweede ruiterlik vir mekaar te sê daar was darem altyd blaaie met nuusies van sulke verbygaande aard dat hulle gerus skoongemaak kon word vir foto’s, foto’s, foto’s.
Onthou die slagspreuk: “Slaan die groot storie hardâ€! Onthou ook: een goeie foto is meer werd as ‘n duisend woorde! (HvD)
