Toe ek vanoggend my kruisie trek, kom die gedagte onwillekeurig op: Is dit dalk my laaste?
Miskien is die gedagte gestimuleer deur die wete van my vriend Pièrre Theron wat in die waakeenheid op Mosselbaai is en so graag “vir oulaas” wou stem. Ek en hy is ewe oud: 83.
Vanoggend was ons by die Melkbosse biblioteek ‘n handjie vol seniors wat vir spesiale stemme geregistreer is. Van net een party was daar buite ’n teenwoordigheid. Die DA het ‘n blou tentjie opgeslaan, beman deur twee jong vroue van Atlantis. In ‘n bottel op hul tafel was ‘n hoop blou lekkertjies. Daar was ook ‘n blou ballon of twee.
Woensdag sal dit ongetwyfeld anders lyk, maar voor my siel weet ek ‘n gedoente soos my eerste verkiesing 63 jaar gelede sal dit nie naastenby wees nie. Kulture het te veel verander.
Daardie verkesing was op 18 Oktober. Dit was die eerste ná Republiekwording.
Omdat ‘n mens brandstofkoepons (en iets te ete) verwerf het, het ek die dag klasse afgegee en met my Peugeot 203 (1953-model) vir die Nasionale Party gaan kiesers aanry. Van my passasiers was duidelik verras met die toestand van hul rytuig.
Watter miernes was dit nie nie by die stembus nie. Die NP, Verenigde Party, die Progressiewe Party en die Nasionale Unieparty van Japie Basson en oud-regter Henry Fagan het elk ‘n goed bemande tent gehad. Oral het mense met groot party-rosette op die bors geparadeer.
Vroue het lustig pannekoek gebak, en dalk ook worsbroodjies gemaak, maar oor laagenoemde is my geheue vaag.
Die NP onder dr. HF Verwoerd het ‘n groot sege behaal. Van die Japie Basson-party was dit net hyself wat verkies is. ‘n Betekenisvolle ontwikkeling in die opposisiepolitiek was die verrysenis van Helen Suzman wat tot 1974 die enigste Prog-LV sou wees.
Die Nasionale Party het ‘n borsbeeld van CR Swart, eerste staatspresident, uitgeloof aan die Tukkie-koshuis wat hom die beste ondersteun het. Kollegetehuis het gewen.
Dr, Nic Diederichs, minister van finansies, het die beeld die aand met die huisdinee kom onthul, Magtie, maar die man kon nie ophou praat nie. Die keelvol Kollegemanne het later uit frustrasie met hul vingers op die glasies se rande begin vryf. Al hoe luider het die glasiemusiek opgeklink, maar dr. D laat hom nie van koers bring nie.
Van Deventer neem die aand oor as huisvoorsitter by Vos Grey. Die gedrag van my mede-Kollegemanne ontstem die nuwe voorsitter. Hy is op en af tussen die tafels en pleit om stilte.
Dr, D kry uiteindelik tog die boodskap en gaan sit vies. Mev. Marga D – altyd maar “high” en “mighty” – lyk of sy wil moord pleeg. Die Kollegemanne skink dat dit klap en drink hul heildronke op al wat roer.
Wat my Sapvriende van die hele besigheid gedink het, het ek hulle nie gevra nie. Nou leef net een van wie ek nog weet.
Foto: Die aand van die woelige huisdinee. My meisie is Donelle du Toit. Voor is Daan van der Merwe, SR-voorsitter, en Oom Chris en Tannie Rina de Wet, huisouers. Daan het mettertyd politikus geword, eers LV van die NP en later LV van die KP.