‘n Fiere MT Steyn op ‘n Vrystaatse koppie – die standbeeld by die stasie in Deventer.

Die sjarmante stadjie Deventer in die provinsie Overijssel in Nederland is, soos ‘n mens van die naam kan aflei,  die plek waarvandaan die stamvader van die Van Deventers, Gerrit Jansz van Deventer, in 1687, net 35 jaar ná Jan van Riebeeck, Kaap die Goeie Hoop toe verskuif het.

As ‘n latere Van Deventer op iets wil roem van die stad waarvan die familie oubaas Gerrit Jansz se van dra, is die keuse vir Deventenaars amper voor die hand liggend. “Wie Deventer segd, noem ook de koek,” sê hulle.

Die koek, Deventer-koek, nog meer presies Deventer-kruidkoek, is ‘n lekkerny met ‘n geskiedenis van vyf  eeue plus.  Die bakker, JB Bussink, bak dit al sedert 1593. Voor 1593 al is tienduisende koeke na onder meer Noorweë, Duitsland, Portugal en Engeland uitgevoer.

By die gesellige Deventer Koekhuisje aan die Brink (een van die mooiste stadspleine in Nederland) is altyd volop Deventer-koek te koop en te proe. Heuning, rog, lemoensnippers, kruie en speserye sorg vir die ietwat vreemde smaak.  Die presiese resep word geheim gehou.

Die Koekhuisje beveel dit sterk aan omdat “Deventer Koek een product is dat enorm lekker is, praktisch geen VET bevat en een delicatesse is om te krijgen, maar ook te geven.” ‘n Spesiale “tractatie” is die volgende: “Besmeer een plakje Deventer kruidkoek met roomboter. Snijd het plakje diagonaal door, en leg de besmeerde kanten tegen elkaar. U hebt dan een Deventer Koeksandwich, waarmee u eer inlegt bij uw huisgenoten en gasten.”

Net jammer hierdie Van Deventer vind die roemryke produk van sy moederstad “niet zo leuk”! Wat vir hom aansienlik “leuker” is, is die buitengewone verwelkoming wat by die stasie Deventer op Suid-Afrikaanse besoekers wag. Net buite is naamlik ‘n kosbare brok eie geskiedenis. Dit is in die vorm van ’n prominente standbeeld wat veral Vrystaters se harte warmer sal laat klop; ‘n groter as lewensgroot  Marthinus Theunis Steyn, eerste gebore Vrystater wat die amp van president beklee en  ‘n leier wat ‘n sleutelrol gedurende en ná  die Anglo-Boere Oorlog (1899-1902) in die Vrystaatse republiek en in die landspolitiek gespeel het.

Die treffende sandsteen-standbeeld – die eerste vir Steyn ter wêreld – staan in die Rijsterborgherpark by die stasie-ingang. Dit is in 1922 daar opgerig. Antoine Dupuis (1877-1937), ’n beeldhouer van Den Haag, het die Vrystaatse president uitgebeeld waar hy, “ongesteurd, ongebuk” sy burgers in die veld toespreek, bandelier om die lyf en sy hand op die Bybel. Die voetstuk van rotsblokke stel ’n koppie in die Vrystaat voor. Onder Steyn se voete, amper in die middel van die monument, staan die teks Aan president Steyn / Het Nederlandsche volk. Heel onder, op die onderste steen, staan die wapenskild van die Oranje-Vrystaat.

Wat tref, is hoe goed hierdie spesiale huldeblyk onderhou word. Die sorgsame onderhoud is ook die rede waarom ‘n foto daarvan pas weer op die internet rondgeblits is en in die proses uit verskeie oorde onder allerlei Van Deventers, onder wie ek ook, se aandag gebring is. In die hooggety van anti-apartheidsaktivisme was dinge anders. In daardie tyd was die beeld telkens die teiken van vandale. Dit is herhaaldelik met rooi verf beklad. ‘n Keer is Steyn se gesig selfs met soutsduur geskend.

By die Steynbeeld.

Die beeld is in 2015 omvattend gerestoureer deur die  stadsraad van Deventer wat ook met die oprigting die grond goedgunstiglik beskikbaar gestel het. Net die skade aan gesig is doelbewus nie herstel nie, as simbool van die anti-apartheidstryd wat deel van sy geskiedenis geword het.

In 2017, ná ‘n wêreldwye debat oor dekolonisasie van openbare ruimtes en die algemene verwydering van standbeelde, is die beeld van binne enkele dae twee keer opnuut gevandaliseer. Dit is sommer die volgende werkdag al deur die munisipalieit skoongemaak. Sedertdien word dit met rus gelaat.

Die provinsiale openbare uitsaaier RTV Oost het ná die laaste aanslag ‘n peiling gehou: Moet  die standbeeld verwyder word of nie?  ‘n Soliede 93% (of 3100 mense) was gekant teen verwydering, wat die jammerlike geskiedenis van die Steyn- standbeeld op die kampus van die Vrystaatse Universiteit in nogal skrille kontras plaas.

Laasgenoemde beeld van amper twee en ‘n half ton is in 2020 onseremoniëel van sy ereplek op die kampus verwyder omdat dit deur die universiteit as politieke verleentheid beskou is.  Opgeklitste studentebetogers is hul sin gegee. Hulle had min respek vir die die feit dat hul universiteit sy ontstaan aan hierdie leier se idealisme te danke het. (Die beeld pryk nou by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein.)

Die spesiale band tussen Steyn en Deventer het nie sommerso uit die lug geval nie. Tussen 1877 en 1879 het die jong Marthinus aan die gimnasium in Deventer matriek gemaak, voordat hy na Leiden gegaan het om in die regte te studeer en toe na Londen waar hy by die sogenaamde Inner Temple lid van die balie geword het. In Deventer het hy ‘n kamer by ’n kruidenier (dalk nog Bussink?) gehuur en was hy aktief betrokke in die verenigingslewe.  Hy was een van die mede-oprigters van die sokker- en krieketklub Koninlijke UD, oudste veldsportvereniging in die land.


Deventer-kruidkoek: kroonjuweel van die Bussink-bakkery.

‘n Kwarteeu later, in die Anglo-Boereoorlog. het die lot van die Boere en hul heldhaftige stryd teen die magtige Brittanje, baie Nederlanders se verbeelding aangegryp. Toe Steyn en andere ná afloop van die oorlog Europa besoek, is hulle soos helde ontvang. Sowat 2 000  Nederlanders het as vrywilligers aan die kant van die Boere geveg. Een van hulle J.C. Kakebeeke, ’n inwoner van Deventer, het Steyn op kommando ontmoet en het die bal aan die rol gesit om ’n standbeeld in Deventer te laat oprig om hulde aan die president te bring.

‘n Gesamentlike komitee van die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging en die Algemeen Nederlands Verbond onder leiding van Hendrik Müller het uiteindelik die taak onderneem. Muller was tussen 1896 en 1902 die Nederlandse konsul in die Oranje-Vrystaat.

Op 6 Julie 1922, ’n eeu gelede, is die beeld deur Steyn se dogter, die politikus Gladys, onthul. By die seremonie het Muller verklaar dat Deventer “liefdevolle herinneringe” by Steyn gelaat het; dit is daarom gepas dat die eerste standbeeld vir die “onbaatsugtige, nederige” man daar staan. (Die beeld by die UV het eers vyf jaar later gevolg.) Die hoop is uitgespreek dat die beeld bande tussen Nederland en Suid-Afrika sou versterk.

Die seremonie is in die nabygeleë St. Lebuïnuskerk voortgesit, waar onder meer ’n telegram van genl. JBM Hertzog voorgelees en die Vrystaatse en Transvaalse volksliedere op die orrel gespeel is. ’n Onthaal het gevolg in ’n saal wat met die Vrystaatse vlag versier is.


Op besoek aan die stad van sy vadere in die 90’s.

In die 90’s het hierdie afstammeling – reeds van die agtste geslag – die stad van sy vadere besoek om in sy  smal, krom keisteenstraatjies iets van sy wortels na te speur. Dit was vir hom ‘n ontroerende ervaring. Stap jy in Deventer se sogenaamde Bergkwartier of op die stadsplein, die Brink, hoor jy die suiwer klank van die 47 klokke van daardie einste indrukwekkende Lebuïnuskerk – die oudste in Nederland – gemeng met die geloei van koeie wat in die aandstilte oor die Ijssel aangesweef kom. Op daardie oomblik beleef jy op ‘n baie pertinente manier ‘n onsigbare band met die verre verlede.

Dit word ‘n speletjie om na die jaartalle op die gewels te kyk en te wonder: Het Gerrit Jansz voor sy vertrek in 1687, MT Steyn twee eeue later (en nog later ook Hendrik de Graaff, stigter van Die Volksblad!) dalk op hierdie selfde hobbelrige keisteentjies in dieselfde strate as jy rondgestap en na dieselfde gewels opgestaar? Die historiese ketting stuur ‘n rilling langs jou ruggraat af.

( Hendrik de Graaff, stigter van die nuusblad Het Westen waaruit Die Volksblad gegroei het, was ‘n Deventenaar.)

 

 

 

 

 

 

 

Deel dit: