Almal ken ‘n storie of ses van die kaliber wat as stedelike legendes of stadsprokies bekend is en soos ‘n veldbrand kan uitslaan. Dit is gewoonlik oor die een of ander vreemde insident, verknorsing of verleentheid waarin “ ‘n vriend van ‘n vriend” of die “dogter van ‘n niggie se vriendin” gedompel is.
‘n Kenmerk is dat presies dieselfde ding op dieselfde tyd hier, daar en oral gebeur – vir ‘n Kapenaar in die Kaap, vir ‘n Pretorianer in Pretoria, vir ‘n Bloemfonteiner in Bloemfontein, ensovoorts.
‘n Redelike nuwe stadsprokie is van die tannie wat ‘n aspirant-kaper by ‘n verkeerslig se tjank so aftrap. Toe hy sy skietding by die kar se venster inforseer om haar tot oorgawe te dwing, antwoord sy verontwaardig: “Nee, vat weg, man, ek wil nie die ding koop nie!” Hier is Kaapse mense wat sweer dit het met ‘n lid van die Strand-rolbalklub gebeur. In Pretoria was die insident glo naby die Menlyn-sentrum….
Toe ek nog koerantman was, is die storie by my aangedra van ‘n Kroonstadse vrou wat op ‘n skivakansie in die Alpe vinnig wou “neus poeier”. Sy het haar skiklere afgestroop – ‘n ys-like operasie. Gestroop tot by haar knieë, kom die ski’s onder haar in beweging, al hoe vinniger en vinniger. Feitlik kaal het die oorblufte vrou glo ylings teen die hang af geblits – totdat sy genadiglik deur ‘n boom gestuit is.
Heerlike voorbladstorie. Die ongeluk was net dat niemand haar identiteit kon vaspen nie. Toe ons begin grawe, hoor ons eers: nee, dit was die skelmpie van ‘n Randse sakeman. Later het dit glad nie meer in die Alpe gebeur nie, maar in Amerika by ‘n ski-oord in New England. En die slagoffer was ‘n Franse mademoiselle!
Hoekom ek juis die ou storie opdiep? Dis oor die sleutelwoorde “ski” en “pie”. Blykbaar gaan die twee saam soos “portret” en “raam”. In Amerika het ‘n vrou pas groot geld gewen met ‘n ware storie wat ooreenkomste met ons stadslegende het. “Benoude boude” is bekroon as loshande-wenner in ‘n wedstryd oor skreeusnaakse eerste afsprake.
Wel, sy en haar metgesel het gaan ski in Utah. Die aand op pad terug Salt Lake City toe, begin haar blaas noodseine uitstuur. Kriewelend maak sy alarm. Maar die vlokkies sif neer en die kêrel raai aan dat sy probeer vasbyt. Later kan sy nie langer hou nie. Hy stop en sy skrop ‘n hurkplekkie in die sneeu oop, haar agterstewe styf teen die motor se modderskerm gestut vir groter gerief. Die mannetjie kyk anderpad soos ‘n ware jintelman.
Dit raak lank en sy bly weg. Hy doen versigtig navraag en val amper op sy rug toe hy ‘n benoude piepstemmetjie hoor pleit : “Help, asseblief, ek sit vas.” Sit vas? Ja, dis haar boud. Dié het sowaar in die bittere koue aan die modderskerm vasgevries.
Teen wil en dwang moet hy gaan ingryp. Die situasie lyk amper onoplosbaar. Maar toe kry hy die jong Yank ‘n ingewing. “Kyk weg,” beveel hy, en begin wikkel doelgerig aan sy broek se rits.
Die warm straal kom tot hul redding. Skaam-skaam (maar uiters dankbaar) droog sy haar agterstewe af, skud haar terug in haar onderkleertjies en gaan sit in ‘n klein, verleë bondeltjie op die passasiersitplek.
Of dit ‘n ramp was of ‘n mirakel hang seker van jou ingesteldheid af. Feit is: die ou wat die stomme meisie se boud so vernuftig ontvries het, was die aand in die televisiegehoor toe sy haar prys kry. Hulle is ou getroudes.
Die Van D’s het hul eie ski-en-pie-storie. Dit kom uit die jare 1976/77 toe die gesin van vier dikwels in die VSA hul nagrus opgekrul soos sardientjies agter in n Toyota-stasiewa geniet het. Om doeltreffend te funksioneer, moet so ‘n sardientjieslapery liefs nie deur onverwagte krisisse ontwrig word nie. Maar so n krisis tref wel een nag, toe die sneeu net-net lekker dig begin lê en ons ‘n naweek koers vat New Hampshire toe om ons onbehendigheid op ski’s aan ‘n geamuseerde skaretjie Amerikaners te demonstreer.
Seker van die ongewone opwinding kry sussie daardie nag doer in die White Mountains ‘n ongelukkie. Die glipsie kring uit tot onplesierige nat kolle waar geen slapende Christenmens skielik nat kolle verwag nie. Dié skok gee ‘n kettingreaksie af waarin die eienaar van die voertuig eers sy kop teen die dak stamp, en daarna sussie se moeder met sy elmboog teen die neus tref.
Dit sit haar aan die praat, nie juis in sitkamertaal nie, en die res van die nag verloop bra gespanne met huilende kinders, nat komberse en ‘n bytende winterkoue wat skielik deur elke ondigtheid in die bakwerk insypel.
Toe die son die volgende oggend oor die sneeubedekte kruin van ons naweekberg uitloer, sien hierdie man nie die skoonheid van die toneel raak nie. Hy strompel net moeg, vies en vaak uit die stasiewa, bedel ‘n flessie kookwatertjies by ‘n barmhartige buurman en geniet sy koppie “latte” (Amerikaanse boeretroos) of dit sy laaste op aarde gaan wees.
Algaande leert men. Toe ons die volgende keer in ‘n swaar sneeuval agter in die Toyota ons koppe neerlê, waarsku ek die kroos ernstig: “Vannag hou julle jul kraantjies toe.” Met ‘n wysheid veel groter as hul jare gehoorsaam hulle toe hul vader. (HvD)
