Tower die beeld in jou verbeelding op: jy ontwaak en waar die vorige aand Karoovlaktes rondom was, is nou hektaar op hektaar vir kilometers ver tot by die gesigseinder ‘n see van springbokke wat rondmaal en ‘n reuse-stofwolk opskop wat oor die dorp hang.Dit is die jaar 1849 en presies hierdie scenario wag een oggend op die inwoners van Beaufort-Wes. Duisende dring die dorp met ‘n hoewegedreun binne en vat die strate oor. Mense gryp hul skietgoed en skiet blindelings om huis en haard te beskerm.
Op hul plase aanskou boere verslae die ongekende verwoesting soos veld, heinings, watergate, skape, waens en selfs osse vertrap word, Elke groenigheidjie verdwyn in derduisende gulsige bekkies. Dis soos ‘n sprinkaanplaag – net erger. Vir party beteken dit die einde van hul boerdery.
Oor die ganse Noord-Kaap en Karoo tot aan die kus het sulke tonele hulle daardie tyd jare herhaal: bevolkingsontploffings in geil jare en massiewe trekke op soek na weiding wanneer droogtes toeslaan.
Op die trek het troppe verenig. Honderde het duisende geword, duisende tienduisende. tienduisende honderdduisende en so aan. Selfs skattings van miljoene word gehoor.
Dit kon tot weke duur voordat so ‘n enorme trop verby beweeg het. Selfs doringdraadheinings kon hulle nie stuit nie. Die verwoeste landskap was kaal en leeg tot die volgende reëns. Dit was asof dit deur ‘n brand verteer is.
Ek het oor die “springbokplaag” gaan nalees na ‘n wenk van Johann Bekker op Nagkantoor. In antwoord op ‘n vraag het hy o.m. vertel hoe die polisie aan dorpenaars op die trektroetes ammunsie uitgedeel het om skadebeheer toe te pas en hoe van die bokke wat dit tot aan die kus gemaak het, seewater gedrink en in hul duisende op strande gevrek het.
Die skrywer Lawrence Green het die verskynsel uitvoerig opgeteken in sy boek “Karoo”. Hy vertel hoe swaar gewapende gesinne op waens in konvooie die trekbokke ingewag en voor die voet bly skiet het, soms sommer twee of meer bokke met een koeël. Die vroue kon nie voorbly om biltong te maak nie.
In 1880 het een boer 68 springbokke platgetrek wat op een plek gestaan het. ‘n Jaggeselskap se oes was 750 bokke op ‘n enkele jagtog, skryf hy.“This was hunting on a gigantic scale, and nowhere else in the world has such slaughter been known.”
Die laaste reuse-migrasie wat opgeteken is, was in 1896. Daarmee was een van suider-Afrika se skouspelagtigste natuurverskynsels – groter en grootser as Serengeti op sy beste – iets van die verlede.