Dalk is dit onwys om die saak aan te roer terwyl ek in ‘n toutrekkery met Incredible Connection gewikkel is oor die snelle ineenstorting van die letters op my drarekenaar se sleutelbord.
My Acertjie is skaars ses maande oud. Sy e, r, i en n is egter al klaar koebaai wrede wêreld. Ander letters loop meedoënloos dieselfde pad, net ietwat stadiger. Incredible noem dit “normal wear and tear”, ofskoon die spoed waarteen die agteruitgang geskied darem ook daar wenkbroue laat wip.
Onse ridders van die tikmasjien uit ‘n vorige era dra hiermee blykbaar ‘n spesiale kruis. So kom ek agter toe ek iewers iets lees – op sosiale media by oud-joernalis Albe Grobbelaar dalk? – van ene se onvermoë om die ou gewoonte af te te skud om die klawers so hardhandig by te kom soos vanouds.
Ja-nee, ons kon. Ons kon ‘n masjientjie laat rittel en beef soos ‘n hond wat gif gevreet het, soos kollega Johan van Wyk ‘n keer in ‘n seldsame kompliment aan die uwe opgemerk het– ‘n pluimpie waarin hy, kloeke man wat hy is, moes erken het dat van aanslae hom vreesbevange gelaat het.
Daardie getroue ou werkesels kon dit vat. Hedendaagse toerusting soek egter om geliefkoos te word. Hoe teerder die streling, des te langer die gewilligheid om diens te lewer. Die komplikasie is net: Al weet ‘n mens dit, kan jy absoluut niks daaraan doen nie. Jou styl is jou styl. Finis en klaar.
Immers: As jy ‘n “aanrander van ‘n tikmasjien” was, is jy soos ‘n gewoontemisdadiger of ‘n drankverslaafde. Jy kan jouself nie help nie ondanks die reinste voornemens. Helaas.
Die makers van rekenaars weet natuurlik van ‘n tikmasjien niks, ook niks van die weerstand wat in sy toerusting ingebou moes word teen ‘n outydse joernalis wat vaart optel met ‘n storie. Die vervaardigers, verskaffers en almal in die rekenaarbedryf sal moet terug tekenbord toe, soos sommige rugbyspanne telkens.
Hiermee dan ‘n noodoproep aan hulle. Vind tog asseblief ‘n manier om daardie letters te pantser dat dit nie so vinnig verweer nie. Gee vir ons ‘n keuse as ons ‘n rekenaar koop soos motorvervaardigers al lankal leer doen het. Gee ons ‘n tipe stadsbuks of ‘n robuuste veldvoertuig, asseblief.