Wees gewaarsku dat hierdie storie sommige kan verveel. Alledaagshede kom voor soos ‘n oorstroomde wasbak, gestorte wyn en ‘n kierie wat op ‘n ongemaklike plek beland.

Daar is darem ook seekoeie, koedoes, waterbokke en ‘n luiperd betrokke wat aan die gegewe kleur gee.

Dis sommer net ‘n  storie oor ‘n Sondagmiddag in Sabiepark.

As dit ‘n spanningsverhaal was. sou dit so kon begin het: ‘n Kreet klink uit die badkamer op (kies self ‘n byvoeglike naamwoord). Die kreet het gekom van gade Tokkie. Dit was een van ontnugtering en frustrasie.

Die wasbak se kraan het sterk bly drup (verdagte die uwe) en die uitvloeipyp was deur die prop geblokkeer. Die vloer was ‘n see, die matjies druipnat en die onderste blad van die wasbakkassie besig om vinnig toiingrig te raak.

Mev. Van D moes dadelik ingryp en al kruipende omvattend opruim terwyl die verdagte staan en wonder hoe om vir sy skuldgevoelens te kompenseer.

Die blink idee skiet hom te binne van ‘n rustige glasie wyn by die piekniekplek – altyd ‘n kalmerende invloed op ‘n versteurde gemoed.

Tokkie sien dadelik uit die uitkykplek ‘n klomp seekoeie wat lui in die water skommel en ‘n troppie waterbokke op die oorkantste oewer.. My oog val op ‘n paar koedoes.

Algou is harmonie herstel.

Ek sit die wynsak op ‘n bankie neer om die toneeltjie in te drink. Ongelukkig skeef.  Volgende oomblik vorm op die houtvloer onder die bank ‘n poeletjie: die wyn. Die pop was nie deeglik teruggesit nie. Alles het uitgeloop.

Moedeloos oor die pynlike verlies, sak ek op die bank agteroor en probeer om die beskuldigende blik van my gade te vermy. Volgende oomblik hoor ons: kadoef. Dis my kierie – die ene van Transvaalse kiaat met die spoggerige vlakvarktand wat wyle Jan Scholtz vir my gemaak het. Het dit ietwat te agtelosig neergesit en daar gly dit uit die uitkykplek oor die elektriese heining tot op ‘n klipwering in gevaargebied waar die spore van luiperds en slange duidelik in die omringende sand te bespeur is.

Al genade is dat ek Craigen Ncube by die hek gaan roep en hom mooi vra om die waardevolle kierie te gaan herwin. Op pad na sy kantoortjie by die hek skuur ek by ‘n mede-Sabieparker verby. Het julle die luiperd gesien, verneem hy, en verduidelik waar die dier agter die gras verdwyn het. Dis waar die koedoes nou rustig wei.

Craigen onderneem die herwinning van die kierie. Net toe roep iemand: luiperd! Daar’s hy, roep Tokkie opgewonde. Maar ek sien niks – net oewerbos, die Sabierivier en die koedoes.

Daar’s hy weer, roep Tokkie. Sy beduie na ‘n groot wit klip ooswaarts naby die Krugerhek van die wildtuin. Jou wrintie, toe hy regs swenk bos toe, vang ook my oog beweging. Vir ‘n oomblik sien ek die pragdier in sy volle glorie. Al die pyn is skielik vergete.

Ons kan terugkeer huis toe waar die badkamer droog is en gelukkig nog koue wyn in die yskas wag – boonop met die baie spesiale lekker gevoel wat Sabieparkers ervaar as hul luiperds of leeus by die piekniekplek gewaar het.

Nog ‘n Sondagmiddag langs die Sabierivier eindig met die son wat die westerkim helderrooi laat gloei.

Ekskuus as my storie te doodgewoon is. Daar gebeur nou maar een maal nie altyd opspraakwekkende dinge om oor verslag te doen nie. Veral nie op Sondagmiddae nie.

Deel dit: