My brief in Rapport se meningskolom Sondag 13 April:
Jammer om daardie ballon te prik, maar die Slag van Blouberg in 1806 was nie in Blouberg nie. Om ‘n stryd teen ‘n nuwe hotel in Blouberg aan die veldslag van amper 220 jaar gelede te koppel, kan oulik klink, maar is histories geheel onjuis.
Met sy berig “Inwoners van Blouberg veg hand en tand teen nuwe hotel” (6 April) trap Rapport ongelukkig in ‘n slaggat waarin vele voor hom al getrap het.
Die slag van Blouberg was inderdaad op Melkbosstrand, eers net op die strand en later op ‘n koppie buite die dorp waarvan die naam Blaauwberg grootliks vir die verwarring oor locus verantwoordelik is.
Die koppie is sowat 15 kilometer van Blouberg en kanonne staan nog daar rond. Gereelde uitstappies word deur die Vriende van Blaauwberg-bewaringsgebied aan die berg met sy ryke biodiversiteit, manjifieke uitsigte en klinkklare spore van die veldslag gereël.
Om redes wat ‘n stuk geskiedenis op sy eie is, was Melkbosbaai doerie tyd bekend as Lospersbaai (soms ook genoem Losperdsbaai). Dis hier waar Sir David Baird in 1896 met 6 000 manskappe op 63 skepe opdaag met die doel om die begeerlike Kaapse halfwegstasie na die Ooste van Nederland af te vat en vir Engeland in te palm- ‘n klipgooi van waar gaste deesdae in die Melkbos Kitchen, die Damhuis of Orca rustig seekos geniet.
Op genl. Jan Willem Janssens van die VOC het amper ‘n onmoontlike taak gewag. Tot sy beskikking was net ‘n raap-en-skraap leërtjie van iets soos 2 200 man: Hollanders, Kapenaars, Duitsers, Franse, Hottentotte (Koikois), Maleiers en slawe. Boonop het ‘n regiment bangbroek-huursoldate, die Waldekkers, wanordelik op die vlug geslaan,
Tog is hardnekkig weerstand gebied, plek-plek selfs heldhaftig terwyl die artillerie- en geweervuur ure lank aan die Weskus weergalm. Uiteindelik was die oormag en die omvang van die aanslag eenvoudig te groot. Ondanks eie probleme soos uitputting weens hitte, die warm sand, te min water, te min kos en te min perde het die Engelse die oorhand gekry. Janssens en sy troepe moes bly terugval. Daarna was die Kaap nie meer Hollands nie. Sir David Baird het militêre goewerneur geword en dit gebly tot 1807
‘n Moderne Slag van Blaauwberg (sic) speel hom inderdaad op die oomblik in die wyke af. Die gemeenskap van Melkbos sluit geledere op indrukwekkende skaal teen die plan om ‘n reuse-stortingsterrein vir gevaarlike afval by sy voordeur te kom plaas, in die skadu van die kragsentrale Koeberg as’t ware. Die drywer van die bose plan is Wesco (Interwaste).
In ‘n omvattende fondsinsameling is R500 000 ingesamel om weerstand te bied en ‘n petisieveldtog is in volle gang. Selfs in die NG kerk Melkbosstrand word Sondae teen die potensiële terugslag vir die bekoorlike vakansiedorp gebid.
Die onvermydelikheid van erge lug- en waterbesoedeling met gevolglike gesondheidsgevare is maar enkele van die ernstige besware wat geopper word.
Geweldige verkeersontwrigting word voorsien met die byvoeging van 300 tot 500 afvaltrokke, sewe dae per week , 365 dae per jaar, Die uitwerking daarvan op gewone daaglikse verkeer en veral op Koeberg se noodontruimingsplanne kan katastrofaal wees.
Oorstromings en lekplekke is onafwendbaar en permanente besoedeling van grondwater, boorgatwater, riviere en die nabye see word gevrees. Seisoenale winde sal die stank en gesondheidsbedreigende besoedeling wyer versprei.
Dit is na my oordeel nie net ‘n Melkbos-probleem nie. Die hele streek se belange kom in die gedrang, onder meer die uitgestrekte Atlantisgebied met sy nywerhede en woonbuurte. Atlantis se water is waarskynlik die kwesbaarste. Ek wonder of die gemeenskap dit besef.
Die aanleg gaan 50 miljoen liter water per jaar gebruik. Dit is genoeg water vir byna 400 gesubsidieerde huishoudings. Wat gaan gebeur as daar weer droogtes kom?
Die hele Kaapse metro staan met die risiko gekronfronteer.
Kom oor na Masedonië (Melkbos) en help ons!
(Vir ‘n kortbegrip van hierdie geskiedenis raadpleeg Pieter Geldenhuys se “Die ontstaan van Melkbosstrand”. Vir dieper grawe kan DW Krynauw en GSJ Möller se “Blouberg – ons beroemde strand” aanbeveel word, Om werklik die tande in te slaan, is daar Ian en Barbara van Oordt se “The battle for the Cape 1778 – 1806″”. Elke moontlike vraag oor die slag word beantwoord in ‘n formidabele boek. Die boek van 548 A4-bladsye – ja, dit weeg 2,3 kg! – het 15 jaar se intensiewe navorsing geverg. )