Hier is nog vyf heerlike voorbeelde van “senior oomblikke” n.a.v. die Jack Russell-blog wat ‘n rukkie gelede hieronder opgesit is. Glimlag saam, almal wat al deur die grysheid bekruip word:

Een: BIELIE VAN ‘n KIELIE

Doer in die Dorsland tussen Broekafval en Gorragas staan ‘n ou boer met sy steeks perd. Die perd se baas probeer alles. Hy raas en skel. Hy trek ‘n paar skote af met sy .22. Die perd roer nie. Die son vat dooierus op die twee. Dit voel of net ‘n sifdraad daardie plek en die hel skei – boonop ‘n stukkende een vol gate.

‘n Daglank duur die staking. Toe kom ‘n meisie verby in ‘n spoggerige nuwe 4 x 4. Mooi, soos ‘n voorbladnooi. Uitgevat vir goeie ventilasie op so ‘n snikhete dag.

“Wat skort?”

Die boer verduidelik sy droewe lot.

“Toemaar,” se die meisie. Sy klim met ‘n swaailyfie uit die 4 x 4, fluister in die perd se oor, stap na sy agterkant en kielie hom waar ‘n steeks perd waarskynlik nie verwag om deur ‘n mooi meisie gekielie te word nie. Hy trek weg of hy ge-turbo is.

“Hoe op dees aarde?” vra die boer.

“My geheim,” glimlag sy liefies. “Ek weet net waar en hoe om te kielie.”

Die oom trek sy skouers reguit, en maak keel skoon. “Juffrou,” se hy, “dan moet ek jou nou vra om my ook dadelik so te kielie, want ek moet daardie verdekselse perd gaan vang!”

Twee: GELUKHOU

‘n Jong fisioterapeut speel ‘n potjie gholf en tref die balletjie skrams. Dit trek windskeef. Sy hoor ‘n man gil en storm nader. Dis ‘n ouerige gryskop heer. Hy lê met sy hande tussen sy bene en krul van die pyn.

Besorgd buk sy by hom en sê sag in sy oor: “Oom, ek is verskriklik jammer. Maar ek is ‘n fisioterapeut. As ek jou masseer, sal die pyn bedaar. Wil jy dat ek dit doen?”

“Asseblief,” knik hy.

Sy laat hom op sy rug lê, maak los wat losgemaak moet word, en begin masseer, terwyl hy doerie kant toe kyk.

“Voel jy al beter?” vra sy na ‘n rukkie.

“O, dis wonderlik,” sê hy. “Maar my duim is nog net so seer waar die bal dit getref het!”

Drie: KROKODILWATERS

Op n familiefees gaan swem die jong meisies kaalbas in die swemdam by die perskeboord. Die eienaar, redelik bejaard, stap af boord toe om te gaan perskes pluk vir sy gaste.

Die meisietjies gil, hou toe en drom in n hoekie van die dam saam. Die water raak koud. Enetjie waag dit later: “Oom, gaan jy lank bly?” Die oom: “Nee, ek voer net gou die krokodil, dan gaan ek huis toe.”

Toe sien jy net kaal lyfies soos hulle uit die water spring!

Vier: NAAKTE WAARHEID

Die bejaarderige buurman van ‘n bloedjong kat druk die voordeurklokkie pas nadat sy uit en haar man in die stort geklim het. ‘n Stryery ontstaan oor wie die deur moet gaan oopmaak. Uiteindelik gee sy bes. Sy gryp die handdoek en draf voordeur toe.

Sy maak die deur oop en daar staan hul gryse buurman, oom Arend de Waal. Voordat sy ‘n woord kan rep, sê die buurman: “Ek gee jou R500 as jy daardie handdoek laat val.”

Die jong vroutjie huiwer ‘n oomblik. Maar R500 is R500. Toe laat val sy die handdoek. Sy staan daar voor hom in haar volle jeugdige glorie. Hy versit sy bril om beter te kan sien. Toe oorhandig hy die R500 en loop weg.

Uit die veld geslaan maar baie in haar skik met die geldelike gelukkie, bedek die vrou weer haar bates met die handdoek en sit af badkamer toe.

“Wie was by die voordeur?” vra haar man uit die stort

“Dit was die oom hier langsaan.”

“Bly om te hoor,” sê haar man. “Het hy iets gesê van die R500 wat hy my skuld?”

Vyf: WINDLAWAAI

‘n Selfingenome eerstejaar-student verduidelik aan n sestig-plusser waarom die die ouer generasie nie in staat is om sy generasie te verstaan nie.

“Julle het in ‘n ander wereld grootgeword, eintlik ‘n baie primitiewe een,” deklameer hy hard genoeg sodat almal kan hoor. “Die jong mense van vandag het grootgeword met televisie, spuitvliegtuie, ruimtereise, ‘n maanlanding, kernenergie, rekenaars, selfone, en …..” Hy bly n oomblikkie stil om aan sy bier te teug.

“Jy’s reg, ou seun. Ons het nie daardie dinge gehad toe ons jonk was nie,” antwoord die 60-plusser. “Daarom het ons dit uitgevind Nou, jou arrogante klein windlawaai, wat doen julle vir die volgende generasie?”

Die applous was oorverdowend. HvD roep weer: Hoor-hoor!” (HvD)

Deel dit: