Titel: Wag-’n-bietjie
Skrywer: Hennie van Deventer
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234737
Hennie van Deventer het al ’n welbekende naam onder lesers van Afrikaanse koerante, tydskrifte en boeke geword. In die joernalistiek (as redakteur van Volksblad en as koeranthoof by Naspers) het hy diep spore getrap.
As afgetredene het hy verskeie boeke oor die koerantwese geskryf. Uit sy aantekeninge en verstommende geheue het ’n wesenlike, kenmerkende en onmisbare bydrae gevloei oor die politieke toneel en stryd in Suid-Afrika in soms veelbewoë en onstuimige oorgangstye.
Sy seereise na verskeie verre hawens prikkel liefhebbers van reisverhale en as natuurliefhebber is van sy bosboeke oor en uit Sabiepark, neffens die Krugerwildtuin, suiwer prosa.
In Wag-’n-bietjie, stories wat gryp deel hy van sy herinneringe in dit wat hy sy “laaste-laaste” boek noem. Die naam van die boek ontleen hy aan die bosveldboom, wag-’n-bietjie.
Op sy eie “herinnering se wei” stap hy op ’n nostalgiese reis van agt skofte of episodes of bakens:
- ’n Bietjie koerant: oor van die groot nuusstories in sy loopbaan by Volksblad en Beeld, en veral die scoops. Maar ook oor die einde van tradisionele koerant scoops wat saam met koerante verdwyn het. “Een van die swaar verliese wat papierverknogte Afrikaanse koerantlesers wurgend moes sluk,” skryf hy.
- ’n Bietjie doodslag: oor onder meer die TV-reeks, Niggies, “te veel moord en doodslag” en ander moordstories wat in sy tyd die voorblaaie gehaal het.
- ’n Bietjie persgalery: oor groot hoogtepunte in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis wat hy uit die persgalery van die Parlement aanskou het, of as hoofsubredakteur en nuusredakteur daaraan deel gehad het. Ook oor talle politici wat sy pad gekruis het.
- ’n Bietjie mense: oor “foei” vir sekere “goeters”, oor bekendes soos Gé Korsten, Boet Troskie en Vladimir Tretchikoff, oor ’n 81-jarige oupa wat in die see watertrap en “die siel van die mier is nou hier”.
- ’n Bietjie eie huis: oor padkos-plesier, ’n pratende olifant, onthoubare valle en minder onthoubaar – op die TV saam met Nelson Mandela.
- ’n Bietjie Melkbos: oor hul verblyf van baie jare en salige en heuglike ure met verruklike uitsigte op Tafelberg en Robbeneiland en skilderkwas-sonsondergange.
- ’n Bietjie bos: oor onder meer die vraag of prinses Diana en JK Rowling van Harry Potter-faam ook as gaste in Sabiepark was, waar Van Deventer se boshuis is.
- ’n Bietjie kerk: oor hoe hy eredienste van dekades gelede onthou, oor die waardige koster wat voor die kansel gly en val en Tant Hester wat “Satan!” gil.
Elke episode bevat dus ’n keur uit stories en anekdotes wat oor baie jare sy herinneringe vasgegryp het soos ’n wag-’n-bietjie-boom se dorings wat haak en steek. Baie van die vertellings is outobiografies en gekleur met baie humor en selfspot.
Van die inhoud is voorheen gepubliseer in koerante, tydskrifte en webblaaie en vir hierdie boek herwin of verwerk.
Die meeste van hierdie memoires of herinneringe is aan my bekend, maar die herlees daarvan, of die herontmoeting, is ’n heerlike verfrissing van my eie bejaarde en verslete geheue.
Wag-’n-bietjie is uitgegee deur Naledi en is in boekwinkels beskikbaar.