In die Bosoorlog in die 80’s is mediamense gereeld grens toe gebring met die verhewe doel om hulle “eerstehands van die terrein, die gevegstoestande en heersende weermagdenke te vergewis”. Die herinneringe aan ligte oomblikke op sulke uitstappies is dalk talryker as die militêre insigte wat verkry is.My eerste grensdas het ek verwerf in 1980, met gasheer genl. Marthinus du Plessis, bevelvoerder van die Kommandement OVS. Van hom lees ek vandag op bladsy drie van Die Burger dat hy Vrydag sy 91ste verjaardag in Bloemfontein gevier het. Die rateltaaie Doep – ”vergeet van die general, man” – het sy tentmaats nogal gewoel, onthou ek. Ons ander, o.a. akademici, stadsraadslede en die nuwe redakteur, almal “softies”, was saans pê as die menasie slapenstyd sluit met ‘n laaste loopdoppie nog in die hand.
Om die trapleer verby 90 te bestyg, is nie kinderspeletjies, kan ek op 82 getuig. Ek salueer die merkwaardige militaris – ook stigter van die Vrouekollege op George en energieke bevelvoerder van 1 Valskermbataljon in Bloem – graag uit Melkbos op die bereiking van die mooi ouderdom. Op die foto hurk hy voor. Langs hom is Colin Hickling, latere burgemeester. Ek staan regs agter hulle met die streephemp.
Ons avontuur is, soos al die ander, afgeskop met die “voorreg” om met die “Flossie” – ‘n enorme Hercules C-130BZ – van die lugmagbasis Waterkloof, by Pretoria, na Ondangwa karwei te word. Alle manlike passasiers – ongeag postitel – moes maar, as dit hoog bokant Afrika daarop aankom, teen wil en dank die dou van die lelie skud in daardie vreemde pypgedoente wat ingewydes lillies of the fields noem; ’n ontwerp wat volgens sanger en akteur Lochner de Kock die “oupa is van alle vuvuselas … net stiller.” Doep het gedemonstreer hoe maklik dit is om te korrel.
(Vir vroue – ‘n skaarser spesie op sulke uitstappies – is lyksakke verskaf vir privaatheid. Dit kon nie kamoefleer wat binne aan die gebeur is nie.)
In “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n Joernaal van scoops en skandes” (Naledi, 2023) vertel ek stories oor sulke grensbesoeke, onder meer van Beeld-kollega Twakkies Laubscher, al lank saliger, se nagtelike ekskursie om ’n skeppie Zambeziwater by sy Skotse watertjies te voeg.
’n Keer was Jane Raphaely van Fair Lady saam – die enigste vrou in die geselskap. Die vraag het ontstaan: by wie sou sy in ’n tent intrek? Sy het Ebbe Dommisse van Die Burger en Fritz Joubert van Sarie gekies. Vir haar het die twee kollegas seker die ordentlikste van die klomp gelyk; hopelik was dit ’n goeie keuse.
PG du Plessis, dramaturg, skrywer, storieverteller, redakteur van Hoofstad en televisiepersoonlikheid van formaat, was by geleentheid ‘n tentmaat. Hy was ‘n voorbok by die vuur. As laataand onder die Afrikasterre om ‘n vuurtjie in afgesonderde boskampe soos Omega met ‘n glasie of twee “hooligan juice” ter hand diep stories gesels is, was die naweekboer van die plaas Semoer in die distrik Rysmierbult in die ou Wes-Transvaal van die liefste om nog ‘n stomp kameeldoring op te gooi en van die traagste om hom van die gemoedelikheid los te skeur. (“Hooligan juice” is ‘n mengeldrankie bestaande uit roomys, melk, rum en coco-ricolikeur. Heerlik.)
Ek vertel ook hoekom ek agter my naam kan skryf OFD, die Orde van Fort Doppies. Maar dis nou vir jou ‘n ander storie.
* “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” kan sonder ekstra koste by jou voordeur afgelaai laat word deur op naledi.co.za te klik of Tertia Swart by 078 648 8616 / tertia@naledi.co.za te nader.