Van die aangename elemente van ons eienaarskap van Tarlehoet vir 25 jaar is die verbintenis wat dit meegebring het met die kerk in Skukuza, met ds. Carl en Sarah Louwrens en met die Skukuzaners (gemeenskap van Skukuza).

Dis ‘n vreugde om Sondae spesiaal vroeg op te staan en Skukuza toe te ry vir die diens om 08:30. Die atmosfeer in daardie kerkie is behaaglik intiem, en die boskarakter is treffend. Dit spreek jou aan.  Soms kry jy as bonus op die pad soontoe luiperds of leeus.

Ons het ook kennis gemaak met die gemeente se unieke Paasdienste op die indrukwekkende Mathekenyane-Granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop, langs die H1-1 suide toe. Treffend is dit om op kampstoeltjies hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig toesak, en om die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk.

Aand-geleenthede op die Granokoppie eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente bring opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier. Ook die Kers-sangdiens en die tradisionele agterna-kuier om die kospotte onthou ons met behae.

Die tradisionele half-marathon met sy kermis-atmosfeer die eerste Saterdag van Augustus is ‘n lekker okkasie.  Die gemeente verkoop kerrie en rys op ‘n groot skaal.  Tokkie het al gehelp om op Tarlehoet se beskeie gasstofie vleis en rys gaar te maak.  ‘n Keer is die rys in ‘n yslike “ryskoffer” Skukuza toe vervoer.

Die gemeenskap word deur Tokkie as ‘n “uitgebreide familie” beskryf. Soos hulle kan saamstaan en saamwerk, is ‘n openbaring.  Die voorreg om aanhaaklede van daardie “uitgebreide gesin” te wees, kon ons op opwekking-Sondag op 9 April opnuut intens beleef toe ds. Carl, nou emeritus, soos vanouds die erediens gelei het. Sy boodskap oor die Emmaus-gangers was, soos al sy boodskappe, vars en prikkelend.

Sondagaand kon ons die saamkuier met die Louwrense voortsit danksy ‘n uitnodiging van Jimmy en Lida Pressly van Skukuza vir ‘n laatmiddag-geselligheidjie op die Granokoppie. Dit is ook deur Fritz en Esmarie Rohr bygewoon.  (Fritz, ‘n wapensmid, se verbintenis met Tarlehoet is die “elektriese leeslamp” op die soldervlak.)

‘n Saliger skemertyd kan ek my skaars bedink met die Krugerwildtuin aan jou voete en die son wat rooi bal maak in die verre weste. Natuurlik het ons ook ‘n glasie geklink op die Van Deventers se verbintenis van 25 jaar met Sabiepark en Skukuza. Die fees duur voort!

Oor die stylvolle piekniekkos uit die Presslykombuis kan ‘n mens net ‘n loflied aanhef. Absoluut heerlik.

Later vanmiddag verwag ons die Louwrense in Sabiepark. Hulle kom twee nagte oorslaap.  Gaan ons kuier!

Deel dit: