Olifante steek op die foto hierbo die Sabierivier oor van die Krugerwildtuin na Sabiepark. As Nationwide se vliegtuie op skedule is, is dit waar Tokkie en ek moremiddag (Woensdag) hierdie tyd (16:00) sal wees.

In salige Sabiepark, ons Bosveld-Eden. Tot 27 Maart sal elke webjoernaal op HvD se Blog die Sabiepark-adres dra. Maak u dus maar klaar vir stories uit die bos. As dit u verveel, bly liewer weg!

Met die bos se geur as’ t ware in my neusgate vertel ek net gou van ‘n ander Hennie van Deventer – eienaar van ‘n Bosveld-lodge naby Hoedspruit – wat, indien moontlik, dalk nog meer bosbloed in sy are het as die uwe.

Volgens hom spog hy gereeld by buitelandse gaste dat daar nie bloed in sy are is nie, maar wel rooibokke en olifante wat die werk doen. Hy se ook,so na my hart, dat wat hy doen. nie regtig werk is nie – dis net ‘n Hemelse voorreg om daar te wees.

Van daardie Hennie kry ek uit die bloute nou die dag ‘n boodskappie:

“Nou ja, ek moet seker eintlik se Oom Hennie, want te oordeel op die foto in die boek Buurman van die Wildtuin is ek op 42 ‘n bietjie aan die junior kant, alles met groot ‘respekte’ gese!

“My geboortename is Henrik Theunis van Deventer en ek is nogal vrek trots daarop. My oom met dieselfde name is dr. Hennie van Deventer van die Hervormde kerk in Pretoria.

“Ek woon in Hoedspruit en is ‘n Laevelder in murg en been. Ek is die operasionele eienaar van www.nyalasafarilodge.co.za . Loer gerus.

“Ek het onder meer vir 4 jaar staptoere in Kruger gedoen met wat toe die eerste konsessie was.

“Ek het al van u artikels en ‘goeters’ langs die pad raakgeloop en gister bogenoemde boek by Orpen gekoop.”

Ek het geantwoord:

“Lekker om ‘n brief van ‘n man met so ‘n soliede naam te kry, nogal uit die Bosveld wat ook in my bloed is. My tweede tuiste is nie verniet Sabiepark daar langs die Krugerhek nie, wat ek juis van 5 Maart af weer besoek. My voete jeuk om weer Bosveldgrond onder hulle te voel.

“Ek weet van jou, o.m. uit die Kruger Times. Het egter nie geweet jy en dr. Hennie is verwant nie. Ek het hom al ontmoet. Hy het jare gelede een oggend met ontbyt in die Dorpshuis-hotel in die Kaap oorgestap om blad te skud.

“Ek is ‘n Jakob Hendrik – ‘n ou familienaam wat alterneer met Johannes Cornelius. Jy hoef nie Oom te se nie, maar ek is darem al 67. Die tyd drafstap vinnig.”

Hennie Hoedspruit laat weet vervolgens hy is besig met sy eie boek oor sy wedervarings in die bos die afgelope 20 jaar. Dit is in Engels en hy sal vir my ‘n uittreksel of wat aanstuur. Dit gaan ‘n “anderse” boek wees met ware ervaringe, fiksie en lewenswaarhede wat deur ‘n grysaard en wysheer, die Sjangaan Winston Ndlopvu, rondom ‘n kampvuur vertel word.

My antwoord:

“Ek sal brand om van jou (of Winston se) stories te lees. Stuur gerus. Voorspoed met die boek. Dit klink opwindend.

“Hoop jy geniet Buurman. Hy’s al ‘n paar jaar uit, maar het pas eers in die Wildtuin op die rak gekom.

“Ek sal beslis op jou webblad ‘n draai gooi. As jy hierdie Van D’s van nader wil leer ken, kan jy my webwerf besoek by www.hennievandeventer.com . Dit bied hope skakels, o.m. na my albums, wat spesiale Sabiepark- en Wildtuin-albums insluit. Ek skryf ook ‘n blog. Dit is by www.hennievandeventer/blog.html .

“Op Beeld se webblad, www.beeld.com, in die rubriek My Storie is verskeie HvD-bydraes met ‘n Bosveld-hoek, o.m. een met die titel Vyf Wildtuin-juwele.”

Nogal vreemd ne dat lede van die bosbroederskap – en dit twee genante – mekaar, van alle plekke, so op die internet moet raakloop, As ander Hennie sy oe uitvee, staan ek dalk nog in die volgende drie weke voor hom by Nyala Safari Lodge!

As dit gebeur,, sal ek hier rapporteer. Hou intussen duim vas dat Nationwide voorspoedig vlieg! (HvD)

Deel dit: