
Tot sesuur is slenterdrag in die haak. Ná ses is “smart attire” die vereiste in formele sit- en eetkamers. Op gala-aande, plus-minus elke derde aand, is dit wanneer die deftige tabberds en die strikdasse te voorskyn kom. Aanddrag is selfs te huur.
Nêrens elders op die Queen Mary 2 het ek die sesuur-metamorfose opnuut sterker beleef as in sy grootste restaurant, die Brittania, nie. Die ou wat jy netnou op dek sewe met oop sandale gesien het, daag op in ‘n Skotse rokkie met tossels en die streng dame met die ronde brilletjie met wie jy in die biblioteek skouer geskuur het, spog nou met avontuurlike veterbandjies en ‘n goue klont om die nek.
Ook nerens elders voel ‘n mens die romantiek van die glansryke jare 20 so tasbaar aan as in die yslike praalpaleis met sy 1 200 sitplekke en sy oorheersende art deco-styl wat doelbewus beklemtoon word nie. Van die reuse-materiaalafbeelding van die skip oor twee verdiepings as jy die Brittania betree, tot die koepeldak van gerookte glas, die swiepende mezzanine-balkon en die grasieuse dubbelstel “Gone-with-the-wind”- trappe verplaas jou vinnig in ‘n vergange era.Tussen die keurig-gedekte tafels met linnetafeldoeke en –servette en silwer messegoed swerm die charismatiese kelners in swart formele drag en wit handskoene. Die bedrywige swartspan plus al die maitre d’s en sommeliers dra by tot die energie wat die ikoniese plek uitstraal. Die atmosfeer is prikkelend en opwindend. Jy vou die spyskaart met afwagting oop.
Van die 16 000 borde koningskos wat daagliks uit die QM2 se kombuise van vlekvrye staal kom, is die meeste vir die Brittania bestem. In die restaurant word ontbyt, middagete en aandete in twee sessies bedien.Party tafels het plek vir tien. Die meeste vat vier. My en Tokkie se 487 was ‘n begeerlike tweemanstafel met ‘n onbelemmerde see-uitsig deur ekstra groot vensters. (Op ons Sydneyvaart 10 jaar gelede was dit 114, nader aan ‘n venster maar met twee tafelmaats.)
Die ontbyt-spyskaart is tradisioneel met varsgebak, elke denkbare eiergereg, drie soorte spek, worsies, southaring (kipper), skelvis, gerookte Noorweegse salm en wafels. Die ou man se kennismaking met ‘n “smoothie” was aangenaam.
Tipiese middagetegeregte was spaghetti carbonara, geroosterde swaardvismootjies, salm en Indonesiese rys.
Aandete is om oor huis toe te skryf. Dis ‘n vyfgangmaal met ‘n keuse uit iets soos ses voor-, tussen- en hoofgeregte (alles pure gourmet volgens my standaarde). Die beste biefstuk, skaap, eend en tongvis word opgedis. Een aand selfs springbokmedaljons. Garnale raak nie op nie.
Nageregte het eksotiese name soos dulche de leches. Jy kan darem Italiaanse roomys ook kies, of kaas en beskuitjies (‘n kleinerige porsie). Dan kom die koffie en petit fours.Glutenvrye en vegetariese kos is elke ete beskikbaar, Vir skaalbeheptes word selfs die bose kalorie- en vetinhoud van bepaalde geregte brutaal uitgespel. En ‘n sterretjie by ‘n gereg bring ‘n onheilspellende boodskap dat dit dalk die draer van iets onheiligs kan wees (selfs vis en pluimvee).
Die eerste gala-aand van elke skof word glasies sjampanje met komplimente van die kaptein uitgedeel.Na raakvatter-hoofkelner Petros en sy vroulike assistent Sai, albei vriendelike Filippyne, maak ek graag hier ‘n buiging. Hulle het hartlik, hulpvaardig en professioneel gebly al blink die sweet naderhand op die voorkop. ‘n Mens is spyt dat die treurige randwaarde ‘n rol moes speel in die paar-dollar-fooitjies wat na hulle kant toe is.