My wrewel oor die onbekookte borgskap-projek van SA Toerisme stort ek vanoggend in ‘n brief in Die Burger en Volksblad uit. Ek skryf:
Veronderstel vir een vlietende oomblik Temba Khumalo van SA Toerisme se beoogde borgskap van Tottenham Hotspur is nie ‘n lugkasteel nie.
Alles werk aanvanklik uit. Suid-Afrika se naam beland op die lippe van sokkerliefhebbers wêreldwyd. Die poorte gaan oop en oorsese toeriste stroom in hul derduisende na die nuut ontdekte mekka.
Nou kom hulle hier. Hulle kan hul oë nie glo oor al die verval wat hulle in die mooi land waarneem nie: strande gesluit weens die gereelde storting van rou riool, berge ontsierende rommel oral, besige paaie gepokmerk met gevaarlike slaggate, waterkrisisse, ens.
Hulle maak kennis met beurtkrag. Hul voorland: verkeersopdammings by af verkeersligte , donker restaurante met toe deure, allerlei bedrywighede wat op die mees ongeleë tye tot stilstand knars.
Hulle kyk rond vir openbare vervoer. Al wat op hul pad kom, is wisselvallige busdienste en oorlaaide taxi’s wat met fluitende bande verbysnel.
Van die nuwe generasie toeriste word slagoffers van die tierende geweld. Huurmotors word helderoordag in stedelike gebiede gekaap. Gastehuise word snags aangeval. By die Numbihek van die Krugerwildtuin word ongelukkiges voorgekeer en beroof. Koeëls fluit om party se koppe. Die ongelukkigstes word gewond, of erger.
Ontnugterdes se stories kom in oorsese koerante of word van mond tot mond oorgedra. Die boodskap gaan uit: Pas op vir Suid-Afrika – daar gaan dit woes.
SA toerisme sit met ‘n hand vol vere. Die borgskap verkry berugtheid as ‘n peperduur misoes. Meer nog: die mislukking word die teen-produktiefste reklameveldtog wat nog aangepak is.
Kom laat ons lang trane huil oor sulke roekelose drome.
Deel dit: