Oudregter Leonora van den Heever, pas oorlede op ouderdom 99, het verkies om as Leo van den Heever bekend te staan. Watse “leeu” was die formidabele vrou nie – ‘n Panthera leo van toontjie tot kroontjie.

Sy was nie persoonlik aan my bekend nie, maar as koerantman in haar era het ek weldeeglik van die baanbrekervrou uit Bloemfontein kennis geneem. Sy is in 1969 as Suid-Afrika se eerste vroulike regter in Kimberley aangestel; tot in daardie stadium ‘n eksklusiewe manlike vesting.

Ek was toe nuusredakteur van Die Volksblad in die buurstad Bloemfontein en het nuuskierig ons Noord-Kaaplandse verteenwoordiger, Jan Scholtz, oor die vreemde verskynsel van ‘n vrou op die regbank uitgevra. Sy antwoord was tipies van die reguit Boesmanlander: ”Kyk, buurman, hierdie tannie vat nie stront van kabouters nie.”

In 1991 het sy die eerste vroulike appèlregter geword.  Ek was toe redakteur van Die Volksblad en lid van die Bloemfonteinklub waar die geregtelike hoofstad se regslui gekuier het. Die jaloesie onder manlike aspirante was ‘n ope geheim aan die lang kroeg. Die minister van justisie wat haar aangestel het, die Vrystater Kobie Coetsee, is nogal kwalik geneem.

Haar reputasie as gedugte, vlymskerp en spitsvondige regspreker het vinnig amper legendariese afmetings aangeneem. Hieroor het Kobus Muller, ‘n prokureur van Pretoria, ‘n insiggewende staaltjie meegedeel.

Hy het vertel:  “In 1994 / 95 was ek in die Appèlhof met n strafappèl. Ons moes begin, en net nadat my advokaat homself op rekord geplaas het, het sy begin deur n paar inleidende opmerkings te maak oor die saak.

“Ons het maar net sit en luister. Die ander twee regters het geen opmerkings gemaak nie. Daarna, sonder dat die advokaat iets verder kon sê, het sy die staatsadvokaat geroep om te betoog. Dit was n duidelike teken dat sy haar besluit geneem het. Die ander twee regters het steeds niks gesê nie. Die staatsadvokaat het aangedui dat in die lig van haar opmerkings hy niks kan sê wat iets aan haar standpunt sal kan verander nie. ‘n Baie kort Appèlhofverrigtinge!”

Met haar aftrede in 1996 het haar alma mater, die Universiteit van Pretoria, haar met die Kanseliersmedalje bekroon en in 1997 het die Universiteit van Stellenbosch ‘n eredoktorsgraad in die Regte aan haar toegeken.  Albei vererings was waarskynlik ook vroulike eerstes, maar hieroor raai ek.

Haar pa, die digter Toon van den Heever, was  ook ’n appèlregter – en ‘n Hertzogpryswenner. Hy was, soos ek later, ‘n Kollegeman op Tukkies. Hy was een van die eerste inwoners. Sy berig oor die beeld van Oom Paul het hy in Kollege geskryf nadat hy na ‘n laataand-kuier die bus verpas en op sy lang tog terug koshuis toe met dapper en stapper verby die beeld gestap het.

Na bewering het pa en dogter met mekaar Latyn gepraat – slim mense! Dit verbaas nie dat sy self ‘n kinderboek of twee gepubliseer het en kortverhale vir tydkrifte geskryf het nie – wel onder ‘n skuilnaam. Haar ma, Max, was ‘n vlieënier, self uitsonderlik daardie tyd.

‘n Gemeenskaplike vriendin, Frances Hoexter, weduwee van wyle appèlregter Gustav Hoexter, vertel aan regter Leo is met haar aanstelling in die Appèlhof, soos die gebruik maar met die junior is, die kleinste kantoortjie toegeken – en dié wás klein.  “Ag, “merk sy toe op, “al het ek nou die besemkas vir ‘n kantoor gekry, ek is darem in!”

Regter Leo se niggie was Laura Rautenbach, ’n bekroonde beeldhouer en ’n Springbok-hokkiespeler op haar dag. Dié het ‘n borsbeeld van haar gemaak. Regter Leo is in haar skik daarmee huis toe en spog dadelik by die huishulp: “Kyk hier, wie’s dit?”  Geen reaksie. “Kyk mooi, dis iemand wat jy goed ken.” Steeds geen reaksie.  “Kyk van hierdie kant af.” Oplaas: “O, dis Jan van Riebeeck!”

Van Laura Rautenbach staan ‘n stinhoutbeeld van ‘n gesin van vier rondom ’n boek in ons voorportaal op Melkbosstrand.  Op ‘n rak in die woonkamer staan ‘n opgevoude stinkhout-koerant uit haar ateljee. Aan albei heg ek groot waarde.

As eerbetuiging aan een van Suid-Afrika se merkwaardigste vroue van my tyd het ek ná ontvangs van haar doodsberig albei haar niggie se beelde liggies gaan aanraak.

 

 

Deel dit: