Vir vandag se stukkie moes ek uit twee opskrifte kies. Die een wat eerste by my opgekom het, was Tot siens, Thabo. Ons twee se paaie het in 1988 in Londen gekruis en ‘n vreemde band het tussen die wellewende ANC-diplomaat van destyds en die Afrikaanse koerantredakteur van Bloemfontein ontstaan.
Ondanks al die water wat in die see geloop het, het ek nog ‘n gevoel vir die man en kry ek seer oor sy vernedering aan die hand van ‘n klomp willewragtigs soos die Malemas. Vavis en Nzimandes wat met dreigemente, beledigings en rou emosie hul primitiewe politiek bedryf. Ek wou graag ietsie persoonliks skryf oor die pad wat ek en Thabo Mbeki saamgeloop het – tot op ‘n punt.
Die opskrif hierbo – Pik se trein – was derhalwe aanvanklik die tweede keuse. ‘n Herlees van die kwiksilwer oud-minister se optimistiese oorborreling in vanoggend se Burger het dit egter skielik vir my meer relevant laat lyk om by sy uitsprake aan te knoop as om oor die “goeie ou dae” twintig jaar gelede nostalgies te raak.
Aan my verhouding met Thabo het ek immers in my loopbaanboekie Kroniek van ‘n Koerantman ‘n hele hoofstuk gewei onder die opskrif Twee kanne koffie. Wat hierdie blog betref, volstaan ek dan met ‘n “tot siens”, met waardering vir sy waardige uitvaart en met ‘n onderskrywing van Marinus Wiechers se TV- opmerking van nou die aand dat hy Suid-Afrika “nooit in die skande gesteek het deur met AK 47’s te dans nie.” (Marinus is ‘n intelligente, skerp en insiggewende kommentator – luister maar gerus na hom!)
Maar dan: Pik se trein. Almal wat vanoggend onseker, verward en dalk ietwat besorg voel, sal geen beter troos vind as in die spraaksame oud-minister se kommentaar oor die ANC se opspraakwekkende paleisrevolusie nie. Hy bevind naamlik “ons trein is nou op die regte spoor gerangeer”.
Ja-nee, nadat Pik daar agter Magalieskruin sy kristalbol geraadpleeg het, sien hy net ‘n beter Suid-Afrika verrys met minder misdaad, werkskepping, asook beter onderwys, paaie en gesondheidsdienste. “Ek sien ‘n nuwe Suid-Afrika kom ….!”
Ongelukkig vergeet Pik skoon wie dryf daardie trein. Is dit Jacob Zuma of nie?
As dit Zuma self was, glo ek daar was al klaar genoeg rede om die hart vas te hou. Zuma se instinkte is veel meer van Afrika as die van Mbeki. Dit sou interessant wees om te weet watter bestemmings hy oral vir daardie trein in gedagte het.
Maar nou sit ons met ‘n gevaarliker situasie as ‘n Jacob Zuma se hand op die stange. Want die Zuma-trein is onherroepelik gekaap! Zwelenzima Vavi, Julius Malema, Blade Nzimande – hulle is die manne voor in die lokomotief. En die arme Zuma? Hy sit met ‘n pistool teen die kop. Hy gaan moeilik roer as hy nie na die kapers se “goeie advies” wil luister nie.
Dit was mos al van Polokwane af duidelik wie slaan nou die tamboere in die enjinkamers van die ANC. Hierdie naweek het dit nog duideliker geword. Hoe harder jy met massa-aksie en ander ontwrigtings kan dreig, des te swaarder weeg jou woorde. Of dink Pik Botha en andere wat soos hy dink, nie daardie aggressiewe kamerade is nou in ‘n magsposisie nie?
‘n Onuitstaanbare mannetjie soos Malema se tjank moes lankal afgetrap gewees het. Maar wie sou dit waag? Nie Jacob Zuma nie; hy het maar saam getoi-toi omdat dit sy politieke agenda pas – of so het hy gemeen. Nou is daardie politieke agenda grootliks uit sy hande geruk, vrees ek, en die trein dalk op pad na spore wat die land nog gaan laat sidder.
Die opskrif bo die rubriek van Die Burger se redakteur, Henry Jeffreys, is vanoggend: “Les ook vir Zuma in Mbeki se harde val.” Die redakteur snap klaarblyklik beter wat “politieke twakpraatjies” is – sy woorde – en wat nie as party ander mense. Ek dink daardie les vir Zuma kan in vier woorde opgesom word: “Hou jou rug gedek.”
Mense soos Pik Botha grond hul positiewe verwagtinge waarskynlik aan ‘n amperse verligting dat die Mbeki-era ten einde kom, omdat daar, soos dit gestel word, “die laaste tyd maar min gebeur het” en nadat die sogenaamde stille diplomasie in Zimbabwe Suid-Afrikaners erg gefrustreer het. Hulle dink nie daaraan dat ‘n Zuma-bewind – met totaal ander waardes wat dan gaan oorheers – ons nog met ‘n seer hart na Thabo Mbeki kan laat verlang nie.
Henry Jeffreys haal vir Samuel Huntington aan dat die eintlike transformasie van Suid-Afrika eers gaan kom die dag as die “Westerlinge” van die toneel verdwyn. Vir my lyk dit of daardie transformasie-dag nou aangebreek het.
Die nuwe Zuma-era gaan onteenseglik ons eerste ware Afrika-era wees. Zuma self moet egter maar stilletjies wonder op watter wilde Afrika-spore drywers soos Vavi, Malema en Nzimande (met Jeremy Cronin as ‘n “token white” stoker) “Pik se trein” nog gaan voortstu. (HvD)
