Piekniek by Pretoria se Fonteine was nogal ‘n Nuwejaarsaktiwiteit wat jare her groot aftrek gekry het. Families (bedoelende families, nie gesinne nie) het vroeg op Nuwejaarsoggende voltallig daarheen opgeruk met hul komberse, waatlemoene, polonie en gemmerbier vir ‘n dag se ontspanning saam met broers, susters swaers, skoonsusters en elkeen se kinders .
Ma, Baby, was ‘n nooi Visser van Jacobsdal met drie susters, Antie Dinah, Antie Minnie en Antie Susie. Met hul onderskeie eggenote, Tony, Martiens, Willie en Danie, en kinders, Hennie – dis nou ekke – Christo en Cules, Lina, Elsa en Ria, Ben en Elise, Bertus, Susanette en Visser was die Visserclan en hul aanhangsels nogal ‘n gedugte span wat ‘n fris oppervlak Fonteine-grond beslaan het.
My storie handel nie oor die pieknieks self nie – daarvan het ek bra vae rekolleksies – maar met ‘n komplikasie wat een betrokke Nuwejaar in die 50’s konsternasie, verontwaardiging, verwyte, verleentheid, trane en ook heelparty onderdrukte lagbuie veroorsaak het.
Dit was die dae van die uitskop- onderrrokke met vele lae wat ‘n meisiekind se romp soos ‘n kerkklok om haar onderste stellasie laat uitdy het. Elise en Susanette – amper ewe oud – was in die tienerstadium wanneer in-die-mode-wees een van die grootste behoeftes en prioriteite van menswees is.
Neefs Bertus (later predikant op Reivilo) en Ben was weer in die motorfiets-stadium. Albei het verkies om met hul ysterperde piekniek toe op te ruk.
Elize kondig uit die bloute aan aan sy ry saam met neef Bertus as sy passasier. Antie Minnie gooi wal. Elize laat haar egter nie van haar avontuurlike voorneme afsien nie. Maar o wee, toe Bertus wegtrek, pluk die agterwiel van sy BSA op die een of ander onverklaarbare manier gulsig die onderrok in, laag vir laag.
Uiteindelik: Daar staan Elize in haar skamele onderklere, stomend van ontsteltenis, ook skaamkwaad oor haar koppigheid. Sy moes haastig ander klere gaan aantrek. Bertus moes op sy beurt die jaartse materiaal uit die wiel ryg. Wat ‘n gesukkel!
Die hele dag was daarna maar maar vir sommige ‘n surigheid. Vir ander was die toneeltjie weer heel vermaaklik. Hulle kon nie ophou om agterlangs te giggel nie.