Sestien maande gelede, op 18 Mei 2023, het ek op hierdie blad ‘n kans betreur wat ek laat glip het. Waarskynlik is die geleentheid vir altyd verlore, het ek my lot bekla.Maar vir woorde soos “vir altyd” of “nooit” moet ‘n mens maar lugtig wees.
Op Vrydag, 27 September, kom die kans toe weer. ’n Verbluffende siklus word daardie dag in my lewe voltooi: van ‘n treppie (perdekarretjie) tot ‘n ten volle elektriese spogmotor het ek nou in my 83 (amper 84) jaar op aarde gery.
Met die treppie het my Oom Danie du Plessis my as vyfjarige en my weduweema op Kaallaagte kom haal as ons met die Oranje-Snel van Kimberley kom om by hulle op hul plaas in die distrk Paul Roux te kuier. Die seuntjie het hom van die agterste bankie verwonder aan die spogperde wat ons so ligvoet en kopspelend op die plaaspad karwei (en aan die groot speekwiele).
Vrydag het Johannes Moses my in Kusweg, Melkbosstrand, vir ’n kort plesierrit met ‘n Volvo XC40 geneem. Die ou man het hom verwonder aan al die knoppies en nuwerwetsighede, die afwesigheid van ‘n enjin en die blitsige versnelling toe Johannes so effens vetgee.
In Mei was dieselfde Johannes met dieselfde Volvo by my huis. Hy het ‘n pakkie vir een van die grootbase kom haal. Eers toe die Volvo geluidloos oor die bultjie verdwyn, besef ek: ek kon ten minste gevra het om tot op die hoek saam te ry het ter wille van ‘n historiese ervaring.
Vrydag het Johannes vir Ton Vosloo Melkbos toe gebring vir ’n ete. Ek sou nie weer met ‘n mond vol tande staan nie. Trouens, Johannes het my en die oud-voorsitter van Naspers saam voor die Volvo afgeneem – as iemand dalk dink dat ek lieg.
Die spesiale ervaring skep die geleentheid om oor die wiele in my lewe na te dink.
Los die babawaentjie en die driewiel maar daar. Van die perdekar (1946) tot die ossewa (in 1948 op ‘n plaas buite Kimberley) tot haas elke denkbare voertuig van die volgende sewe dekades plus is op my lys.
Praat van motorfietse dan onthou ek veral my oom Willie Smith. ‘n diamantspeurder, se forse syspan-model. As hy die pad vat, het die wind deur jou hare gespeel.
Vragmotors het ek elke dag gery toe ek in 50’s ‘n jaar in die skooltjie op die myndorpie Enyati in Noord-Natal was. Soggens het ek en my niggies Lina en Elsa Maritz op Boshoek langs die pad gaan staan. ‘n Steenkoolvragmotor laai ons dan op. Smiddae was dit dieselfde storie terug. Die Studebakers was my gunsteling.
Vir openbare vervoer het, buiten die trein, regte, egte outydse trems, trolliebusse, stedelike dubbeldekkers en moderne My City’s gesorg – ook een van die 50’s se ou half-bus-half-vragmotor-gevaartes van die SA Spoorweë. Die verskeidenheid luukse-toerbusse en minder-luukse-toerbusse in verskei lande was enorm.
Motors? Onmoontlik om almal te probeer onthou. Die eerste was my pa se 1938-Plymouth. Nou ry ek ‘n redelik resente BMW X1. Tussenin was daar stasiewaens, SUV’s, sportmotors (‘n Tukkievriend se Karmann-Ghia), sedans, limousines, kombi’s, allerlei bussies, kewers, jeeps, Londense taxi’s – selfs ‘n Goggomobiel. Daar was V8’s, sessilinders, 4 x 4’s, wankelenjins en wat nog.
In ‘n renmotor was ek darem nie. Aan ‘n tydren het ek wel in die 60’s deelgeneem in ‘n Ford Zephyr. Minder suksesvol – ek, nie die Zephyr nie.
Amper vergeet ek my oom Marthinus Maritz se Chevvie met sy “dickey seat” (weet nie wat dit in Afrikaans genoem word nie). Vir oningeligtes: dit was ‘n oopslaan-sitplek waar jy nou die kattebak vind. Gewoonlik plek vir twee mense.
Van hom lees ek op Google: Dickey seats in early motor cars – sometimes called ‘mother-in-law seats’ – were inherited from horse-drawn carriages, where they were customarily occupied by servants or by guards on mail coaches. Originally they were called simply ‘dickeys’; the Oxford English Dictionary traces the first use of the term back to 1801.
Skoonma se sitplek! Die bynaam het ek nooit gehoor nie. En my skoonma was buitendien ‘n engel. Sy was welkom binne die motor.
Maar ek dwaal. Eintlik wou ek maar net sê: In watter era was ek nie bevoorreg om te leef nie en watter revolusionêre veranderings het ek nie alles in my leeftyd beleef nie. ‘n Ten volle elektriese motor – dit het nie te lank gelede nie geklink soos ‘n verbeeldingsvlug van ‘n wetenskapfiksie-skrywer. En nou maak hulle al karre wat hulleself bestuur. Keer voor!