Vir naastenby almal wat oud genoeg om te onthou, beteken die datum 11 September ‘n dag van verskrikking soos hulle op geen ander dag in hul leëeftyd beleef het nie. Presies 22 jaar gelede het alle hel in New York losgebars.
Die indrukwekkende tweelingtorings van die Wêreldhandelsentrum aan die voet van Manhattan is in ‘n ongekende tereur-aanval gelyk gemaak met die grond – “Ground Zero” – vliegtuie is links en regs gekaap en sowat 3 000 mense het ‘n wrede dood gesterf. (ook by die Pentagon in Washington en in Pennsilvanie is mense dood.)
Die ondenkbare het inderdaad op 11 September 2001 gebeur. In my herinneringe is ook iets van veel-veel geringer omvang: ‘n aand in Boston saam met Nieman-vriende. Ons gesels oor my land, Suid-Afrika, en die oplaaiende spanning oor sy beleid van “afsonderlike ontwikkeling” – “apart-hate”, soos hulle dit uitdruk.
“Julle Amerikaners moet Suid-Afrika ophou druk,” waarsku ek in ‘n oomblik van bravade.
“Maar julle kan ons tog niks doen nie,” se Rod Decker, ‘n mormoon van Salt Lake City, Utah.
“Moenie so seker wees nie. Ons sit eenvoudig ‘n bom in een van SAL se Boeings en gooi hom op New York.”
Ek wonder of Decker en die ander ook op elke 11 September daardie lighartige, ligsinnige opmerking onthou.
  • Die foto van Tokkie is in 1976 geneem van die veerboot van Manhattan na Staten Island toe — die beste winskopie daardie dae vir ‘n besoeker aan New York wat sy dollars tel. In hul volle glorie troon die tweelingtorings nog hier.
Deel dit: