Party mense kan dink dis vervelig. Van my 83 jaar op aarde is ‘n kenmerk egter my lang verbintenisse. Ek en my kerk (amper 70 jaar), ek en my bank ( oor die 60 jaar), ek en vrou (amper 60 jaar ), ek en my rugbyspan (amper 60 jaar), ek en my werkgewer (amper 50 jaar) – ons kom ‘n la-a-a-a-a-ng pad saam. Ook my politieke party sou die lys kon haal – toe gaan hy tot niet.
Gister is nog ‘n verbintenis van 50 jaar verseĆ«l. ‘n Afvaardiging van die Afrikanerbond het my sertifikaat kom oorhandig vir ‘n halfeeu se lidmaatskap van die trotse organisasie. So welaangenaam en verrykend soos daardie verbintenis was /steeds is, so welaangenaam was die besoek. My sertifikaat is klaar geraam en vervang die een met die syfer 40 op my “gedenkmuur” in die woonkamer.
Op die foto is van links Nico Burger, sekretaris van die Kaapse gebiedsraad, die uwe met sy sertifikaat, Nico Stofberg, voorsitter van die gebiedsraad en lid van die nasionale raad, en Dirk Rossouw, sekretaris van die Melkbos-afdeling.
Van besonderse betekenis vir my is dat ek en Nico Stofberg – al is hy 10 jaar jonger as ek – in die 60’s in Bloemfontein saam in die tuig was, gebind deur dieselfde lojaliteite, strewes en ideale. Hy was later burgemeester van Pretoria. Hy het mooi geleer daardie tyd!
Deel dit: