Dat die ouderdom nie vir sissies is nie, is ‘n holrug-geryde uitdrukking, maar die ou wat dit uitgedink het, het geweet waarvan hy praat.

Gewoonlik word daarmee verwys na die onvermydelike ophoping van skete, kwale en mankemente wat by die meeste van ons voorkom soos die jare nader of verby die Bybelse kerf van 70 kruip (as kruip hier die regte woord is). Hierdie 66-jarige (67-jarige op 3 Januarie 2008 ) voel egter die las van die ouderdom nie net in die pyne aan die lyf waarmee hy soggens opstaan nie. Soms is die pyne van sukkel om aan te pas by allerlei “nuwighede” amper nog erger.

Een van daardie klas pyne is hoe ons deesdae ons taal self afskeep. Ons blameer maklik ander vir Afrikaans-onvriendelike houdings, maar dan sien ons die balk van taalverwaarlosing in ons eie oog nie raak nie.

Ek verwys onder meer na die spontane slapheid wat ingetree het in die informele kommunikasiesfeer. Dit is iets waaraan ons almal in ‘n mindere of meerdere mate skuldig is. Ons struikel oor modewoorde soos cool, stunning, awesome, amazing en daardie ou vabond commitment.

Ons wend ons tot gebruikswoorde soos township, struggle, blind date, nerd, venue, comic en laptop wat almal al amptelik of half-amptelik hul staan gekry het.

Afrikaans drink ook op ‘n ander wyse gereeld aan die agterspeen. Hier verwys ek na die strewe tot politieke korrektheid wat sommige van ons in so ‘n stewige greep beet het. Nadat Afrikaans tot een van 11 ampstale gereduseer is, swaai Engels mos die septer. Ons eie mense buig al hoe meer voor Koning Engels.

Daardie kniebuigings kom in diverse verskyningsvorme. Mense glo skynbaar dat politieke korrektheid van hulle vereis om met ‘n vreemdeling altyd eerste Engels te praat en om ter wille van een Engelsman in ‘n geselskap net Engels te praat.

Nou die aand in Bloemfontein in ‘n toespraak met die goue jubileum van daardie stad se Afrikanerklub het ek ‘n voorbeeld daarvan genoem: die prestige-byeenkomste van maatskappye wat pilare van Afrikaans was, maar waar Afrikaanssprekendes deesdae verkies om hul toesprake – en selfs hul tafelgeselse – tot hul tweedetaal-Engels te beperk.

Toe ek Sondagaand 25 November by die NG gemeente Melkbosstrand (hierbo geskilder deur Mare Bruwer) se Kerssangdiens uitstap, het daardie toespraak by my bly spook. Wat ‘n mooi, sielsverheffende diens was dit nie – maar hoekom al die Engels?

Ek soek nie baklei nie – “ moenie skiet nie, dis ons mense!”. Dat ek, soos ou Genis doerietyd, beswaard is, kan ek egter nie wegsteek nie. Beleefdheid en bedagsaamheid is immers een ding, maar die behoefte om in ‘n Afrikaanse gemeente van ‘n Afrikaanse kerkverband darem so oor te hel Engels toe begryp ek nie. Was 90% of meer van die vol gepakte kerk nie Afrikaanse mense nie?

Sal in ‘n Vlaamse kerk soveel Frans opklink, in ‘n Franse kerk soveel Engels, in ‘n Duitse kerk soveel Italiaans of in ‘n Zoeloekerk soveel Xhosa?

Hoekom teken ons dan petisies oor die inkrimping van Radiokansel (uit en uit Afrikaans) se uitsaaityd?

Miskien is dit die ouderdom wat my onsensitief maak vir nuwe eise en omstandighede. Maar dan vra ek mooi: wil iemand dit nie tog vir my die saak so probeer verduidelik dat vir my ook lig opgaan nie? (HvD)

Deel dit: