Die raaiselagtige buit van drie lyke uit ‘n begrafnisondernemer se besigheid op Kuruman herinner aan ‘n kaping lank gelede in Bloemfontein waarvan omstandighede ook taamlik bisar was.
Vir die slagoffer bewaar ek ’n dubbele dosis deernis in my hart.
Dié drommel se huwelik was aan’t wankel en sy geldsake beroerd. Die lewe het in die algemeen genadeloos gedruk. In sy broosheid word hy toe boonop deur sy bankbestuurder ontbied om onder vier oë oor sy oortrokke rekening te praat, deur sy vrou oor sy verwaarlosing van huwelikspligte geroskam, en deur die balju besoek oor ’n lang-termynverpligting wat stil-stil op die langebaan geskuif is.
Die stres van die driedubbele aanslag word uiteindelik te veel vir mens en bloed. Selfmoord skyn al uitweg te wees. Dalk huil iemand dan tog oor sy dood. Soete wraak!
Hy loop dae en tob oor die voortreflikste manier om ’n einde aan alles te maak. Uiteindelik val sy keuse op ’n beproefde metode: dié van die tuinslang. Hy gaan koop by ’n afslagwinkel met ’n seisoen-uitverkoping (op sy vrou se rekening) ’n netjiese nuwe stuk om aan sy geliefde ou Volkswagen kombi (’n Transporter) se uitlaatpyp te verbind.
Die tweede groot besluit is: waar? Vir selfmoord bied Bloemfontein nie baie eksotiese bestemmings nie. Voorgangers het sommer al op die Bultfonteinpad of die Jagersfonteinpad tot die daad oorgegaan, maar dit is darem só verbeeldingloos.
Maselspoort is dalk ’n opsie – ander het dié gewilde kuierplek met sy reuse-swembad en groot bome al met welslae vir daardie doel benut – maar dis ver uit die stad en ’n mens wil nie onnodig petrol uitry nie, al is dit dan ook vir so ’n kritieke taak.
Naval Hill bied nogal ’n aantreklike alternatief. Voordele is die sentrale ligging en die gedurige kom en gaan van besoekers. Hy besluit Naval Hill is die plek. Dit is ietwat afgesonder, maar darem nooit verlate nie.
Op ’n donker aand, met feitlik geen maan teen die swart lug nie, ry hy stadig Naval Hill op, soek vir hom ’n verlate parkeerplekkie onder ’n alleen-boom en spring aan die werk. Toe alles gereed is, en hy vir oulaas ’n sigaretjie aansteek, spoel ’n vredige rustigheid deur sy onstuimige gemoed.
Nadat hy die sterre bo hom en die stadsliggies onder hom ’n ruk in stilte betrag het, skakel hy die enjin aan en laat die geduldige masjien wat hom al op soveel ver paaie geneem het, egalig voortluier. Stadig, stadig sink hy in ’n diep slaap weg. Dieper en dieper.
’n Onaangename gewaarwording wag: snerpende koue wat deur murg en been sny; ook ’n seer lyf, soos een wat geruime tyd ongemaklik gelê het, boonop op harde klip. Herinneringe aan sy verskriklike bedruktheid, sy groot besluit en sy laaste paar uur in die kombi maal deur sy benewelde kop.
Sy oë fladder oop. Doer in die ooste breek die dag. Om hom is vaal winterveld, ’n ent verder ’n kameelperd wat met ’n lui tong ’n paar blaartjies van ’n boom stroop, sy oë nuuskierig op die vreemde, witgerypte figuur hier skuins voor hom.
Wat het van sy Transporter geword? Die ding kon tog nie net in die dun lug verdwyn het asof ’n bedrewe towenaar sy stokkie geswaai het nie. Dit dring tot hom deur dat misdaad waarskynlik vermoed moet word. Hy strompel Bayswater se polisie toe, verdwaal nog eers, maar bereik eventueel sy bestemming
Stamelend deel hy met ’n vaak konstabel die verhaal van sy abortiewe selfmoord en die daaropvolgende verdwyning van die voertuig wat in die voorgenome daad ’n kritieke rol sou moes vervul. Dié luister met die gewone “uhms” en “aahs”. Toe tref dit hom dat hy hier met ‘n nogal ongewone misdaadsituasie gekonfronteer word.
Hy staan half op uit sy stoel en roep geskok uit: “Jis, oom, toe sit die bliksems jou wragtig op jou sterfbed op jou voete.” Daarop slaan hy deernisvol sy arms om die mislukte selfmoordenaar en sê uit die diepte van sy hart: “Siestog, nou het oom nog meer worries!”