‘n Bosnagaap wat kom nektar soek in ‘n aalwyn se blom. Dit het ek nog nooit tevore gesien nie en min ander mense het seker, raai ek.  Ongelukkig is my foto nie waffers nie.

Natuurlik voel ek soos ‘n aap dat ek nie ‘n beter foto geneem kon kry nie. Dalk eenvoudig net te onverwags gewees om hom uit die maroela te sien opduik en grasieus teen die jakkalsebessie se stam te sien afgly om by die aalwyn se blomme te kom . Hy begin toe vir dood te suig – sy nagereg van nektar na sy gewone dieet van boomgom, akkedissies, insekte en eiertjies, meen Tokkie. Die soettand!

‘n Ander toneeltjie wat ek nie voorheen gesien het nie, is deur Adèl Sieberhagen vasgelê, reg voor ons huis lyk dit:  twee kameelperdkalwers  van verskillende ouderdomme wat van weerskante aan en mamma drink. Sou dit twee sibbe van verskillende ouderdomme wees of verleen die moeder gasvryheid aan ‘n vreemdeling? Dit was Adèl se vraag op die Sabieparkblad.  Die antwoord ken ek nie.

Lyk vir my soos ‘n vul-stasie.  Iemand anders het gereken dis dalk ‘n padkafee.

’n Luiperdma en haar welpie is ook voor Tarlehoet opgemerk, aldus Ernst Bezuidenhout, parkhoof (ook trotse nuwe pa van dogter Luminer wat in die dae vir hom en Chenel gebore is).  Geen foto van die luiperds nie.

Koedoes het ons deur die jare groot plesier verskaf. ‘n Troppie van tot 10 het keer op keer kom water drink of net oor die werf geslenter, die groot bul altyd heel agter. ‘n Keer of wat het ons koedoes betrap wat die voels se pitjies uit die houer kom gaps met ‘n lang tong. By die pieknieplek het ons hulle dopgehou as hulle heen en weer oor die heining spring. Toe, ‘n jaar of drie gelede, vat hulle onverklaarbaar die pad. Een Sabieparkse dieresensus na die ander wys: koedoes – 0. Gister wanneer gewaar ons ‘n jong koei by die watergat; ongelukkig te laat vir ‘n foto. Tokkie gaan stap en sien koedoemis in Wildevylaan. Sou koedoes dalk weer hier nesgeskop het? En hoeveel?

Hier en by die piekniekplek verskaf die rustige njala-ooitjies (en ook bosbokkies)  aangename oomblikke. Hoop maar eersgenoemde vat nie ook pad nie.  Olifante kom steeds gereeld. ‘n Moedswillige jong bul het die paaltjieheining by die westelike uitkykplek platgeloop.  Apies raak al hoe stouter en lastiger.  Hulle gryp kos sommer van die tafel af.

Pas op, hier kom ‘n Tshokwane-situasie, waarsku Tokkie nadat sy gister twee broodrolletjies aan ‘n opportunistiese grypdief moes prysgee.

‘n Sabiepark-ervaring wat ek nie graag weer wil beleef nie, is ‘n poging om twee hiënas met strikke om die nek te lok en te verdoof met die oog op ‘n operasie. Urelank, tot ná middernag,  is vangste gesimuleer.  Oor en oor moes ons op die stoep sit en luister nie na strelende naggeluide nie, maar na die noodkrete op band van ‘n bok wat gevang is.  Toe lewer die hele tedoe niks op nie.  Twee hiënas is verdoof, maar nie die regte slagoffers nie!

(Elke vakansie het mos maar sy tema.  Hierdie ene is tot dusver die Vakansie van Groot Kuiers.  Daaroor skryf ek ‘n aparte volgende stuk.)

Deel dit: