In my redakteursdae was dit een ou grappie wat altyd goed afgegaan het: dat redakteurs die korrels van die kaf skei … dan publiseer hulle die kaf.
Mag ek dan as een oud-redakteur aan ‘n ander sê: “Max, jou “Intrapslag” in Saterdag sy By was in daardie opsig ‘n redakteur waardig!” Ek verwys na Max du Preez, stigter-redakteur van Vrye Weekblad, se wydlopende frontaanval (vol “kaf”) op die uwe onder die nogal pedantiese opskrif: “Waarheid in die mond hou die gees gesond”.
Die versoeking was enorm om in die volgende By op die “intrap” te reageer – omdat Max, laat ons maar sê in ‘n paar slegte slaggate trap.” Ek kan rapporteer dat daardie versoeking gelukkig weerstaan is. Ek wil regtig nie weer “sa” sê vir jaghonde soos Dagga-Dirk Uys en andere wat graag so ‘n trapskrum sal instorm nie.
By bied Max ruimhartig ‘n volblad om my te loop n.a.v. ‘n kort, feitelike, nie-emosionele briefie die vorige week waarin ek o.m. meedeel dat Naspers, in die besef dat ‘n groter verskeidenheid stemme in die media noodsaaklik is, reeds in die jare negentig ook aan Vrye Weekblad hulp verleen het. ‘n Afgetrede senior amptenaar, Jan Prins, is vir daardie doel op ‘n ongeslaagde reddingstog na Johannesburg gestuur.
Max se enigste direkte reaksie op my brief som ek soos volg op:
(i) Naspers het Jan Prins nie gestuur om Max du Preez te gaan help nie, maar Vrye Weekblad. (Hy beweer ook dit was ingevolge ‘n ooreenkoms wat aan my onbekend is – dalk het ek net vergeet.)
(ii) Vrye Weekblad het nie verkrummel, soos ek beweer nie, hy’t ‘n duur lastersaak verloor.
Geeneen van besware verander klaarblyklik een jota of titteltjie aan die juistheid van my onweerlegbare feitelike stelling nie. Naspers het inderdaad Jan Prins gestuur om te gaan probeer red wat te redde is. Wat (i) betref, was die noem van Max du Preez of Vrye Weekblad tog klaarblyklik om’t ewe. Wat (ii) betref, is die keuse van die woord “verkrummeling” maar net n ander manier om te sê die blad het tot niet gegaan. Sou Max die woord “inploffing” verkies het?
Kom ons laat hierdie aspek maar daar. Dit bring ons net weer tot die punt van ‘n volgende vrugtelose perspolemiek wat tot nêrens kan lei nie – iets waarvoor ek op ‘n gryse 67 jaar werklik nie meer die lus of energie het nie.
Dat smalend na my verwys word as iemand “wat graag en gereeld met sy dapperheid en integriteit as koerantredakteur spog” (met die duidelike sinspeling na my integriteit), gaan sit egter nie in my klere nie. Al roep ek ongraag “getuies vir die verdediging” in en al besef ek dat ek my daarmee blootstel aan verwyte van “jakkals prys sy eie stert”, haal ek tog graag ‘n paragrafie of twee aan uit die commendatio met die toekenning van die Phil Weber-medalje, Naspers se hoogste prys, aan my in 1997.
In die commendatio, voorgedra deur Ton Vosloo, word onder meer gestel dat Hennie van Deventer “as meningsvormende redakteur …. die boodskap van hervorming dikwels teen groot verset in (moes) oordra. Hy het dit met oortuiging gedoen, hoewel hy dikwels onder die kritiek en selfs ernstige dreigemente van politici en ander weerbarstiges moes deurloop … In eie kring was die reaksie op Die Volksblad se standpunte soms openlike vyandigheid”
My tweede getuie is James McClurg, gesaghebbende gewese ombudsman van die Argus-groep. Een van sy memorabele stellings is dat Die Volksblad, “batting on the sticky wicket of the conservative OFS, has shown consistent courage”. En meer persoonlik: “Its present editor, J.H. van Deventer, resolutely dispenses reformism to one of South Africa’s more conservative communities.”
Nog meer te verwelkom was die retoriese vraag van sy kant: “When historians turn their eyes on this era, will they reserve a chapter for the contributions of the verligte Afrikaans press towards change in South Africa? If not, an injustice will have been done.”
Deur Vosloo en McClurg hier aan te haal, beweer ek hoegenaamd nie dat ek en my kollegas van die turbulente dekade tagtig bo kritiek verhewe is nie. Bepaald nie. Ook Max du Preez het die goeie reg om ons oor sekere ommissies by te kom.
Ons KON inderdaad beter baie gevaar het met die oopkrap van magsvergrype; dit het ek al in my loopbaanboekie Kroniek van ‘n Koerantman in 1998 erken: Ek haal aan uit die boekie: “En ja, hoewel nooit doelbewus mislei of toegesmeer is, of, nog erger, meegedoen is om menseregte te skend nie, wens ten minste hierdie redakteur tog vandag dat hy meer gedoen het om gruwels wat agter die skans van apartheid gepleeg is, oop te krap en te onthul”
Die groot kloof tussen die takserings deur beoordelaars soos Ton Vosloo en James McClurg (hierbo) en die Max du Preez’s van die nuwe generasie is klaarblyklik die konteks waarin na my en my kollegas van daardie tyd se politieke rol gekyk word. Feit is: ons was as redakteurs gewikkel in die dinamiek van die destydse Afrikanerstryd. Van links was ‘n erge bedreiging vir die veiligheid van die staat. Van regs was daar politieke verharding.
So hewig was die aanslag van regs dat my provinsie, Die Vrystaat, op die nippertjie in die skoot van die Konserwatiewe Party geval het.
Dat ons ons hervormingspolitiek moes verkondig teen die opstandige sin en wil in van ‘n groot gros van ons eie lesers, begryp ons huidige kritici glad nie. Dat die behoud van geloofwaardigheid en invloed by die breë Afrikanerdom ons uiteindelik gehelp het om ‘n deurslaggewende rol in die keuse tussen konfrontasiepolitiek en versoeningspolitiek te speel, gaan ook by hulle verby. Daarom dat hulle kans sien om, soos Max in sy “Intrapslag”, sommer ‘n hele loopbaan met een veeghou tot betekenisloos te reduseer.
Dankie tog dat ek as sulke branders oor my breek, kan terugval op Ton Vosloo se beoordeling van my loopbaan by my aftrede toe hy die volgende gesê het: “Ek wil hom dus beskou as een in ‘n ry van befaamde Naspersers wat blywende bakens gelaat het.”
Dankie vir die geduld om tot hier te lees! (HvD)
