Op my draaitafel vandag vir die Bulle: Rhapsody in blue. En vir die Haaie: Singing the blues.

Habana se drie was die rapsodie. Die Haai se verlore glorie in die laaste oomblik was genoeg om ‘n haaitenk met trane te vul.

Een tikkie briljantheid bring ‘n drie uit die bloute in die laaste sekondes en swaai die wedstryd. Soos Pierre Spies se drie destyds in die Vrystaatstadion toe hy die wippende bal hoog bokant sy kop met sy vingerpunte raakgevat het om die Curriebeker Pretoria toe te bring.

Daardie was Pierre Spies se eindstryd. Gister was Bryan Habana s’n.

Ek weet nie hoe kies die slim ouens die Speler van die Wedstryd nie. Vir my is dit die ou wie se naam onuitwisbaar aan ‘n wedstryd gekoppel sal bly – tot in die verre verskiet.

Wie anders as Bryan Habana kan dit na gister se oomblik van glorie wees? Maar ek wil nie hare kloof nie. Wil net soos ‘n eerbare Bul erken dat dit ‘n taai stryd was. Die Haaie kon wel gewen het. Trouens, op die dag se spel was die Haaie die beste span.

Hulle moes net daai bal uitgesool het – dan was hulle vandag die kampioene. Nou is al wat hulle het om te sool, hul eie agterente.

Maar dankie, Bulle, en dankie, Habana, vir die rapsodie in blou. Dis mooi musiek….

HvD

Deel dit: