‘n Staatspresident wat in sy ampswoning se studeerkamer met ‘n knipmes aan ‘n skaapkop wegle, moet ‘n kleurryke karakter wees. Wel, Oom Jim Fouche was een. Kleurryker kom staatspresidente nie.
Wilhelm Jordaan se storie in Van Alle Kante (knipsel hierbo) – wat vir my verrassend en in ‘n mate ontnugterend was, omdat ek altyd geglo het met my oud-redakteur Oom Bart Zaaiman se nuussin het niks geskort nie – het my eie herinneringe aan daardie joviale boer van Rouxville met die bont onderbaadjies en die tamaaie dasknope geprikkel.
My Jim Fouche-storie is nie een wat nooit geskryf of gepubliseer is nie. Trouens, dit was op die voorblad. Ongelukkig. Dit moes liewer nie in die koerant gewees het nie – vir die eenvoudige rede dat dit ver van die kol was.
Oom Jim was nog minister van verdediging toe hy ‘n senior verjaardag – kon dit 70 gewees het? – in Rouxville se stadsaal vier. ‘n Menigte gelukwensers het vir die watertand-midagete opgedaag – ook Hennie van Deventer, spesiale verteenwoordiger van Die Volksblad.
In sy toespraak vertel die Vrystaatse edelman (maar ons het die “edeles” mos darem nie in berigte “edeles” genoem nie, Jorrie!) – van die skipbreukeling wat op ‘n eiland uitgespoel het. Die ou het lank gelukkig op die eiland gewoon. Toe kom ‘n skip waarmee hy kon huis toe gaan. Vir die eilandbewoners se hy toe: “Dit was lekker hier en ek was gelukkig onder julle, maar ek moet nou huis toe gaan, na my vaderland toe.”
In daardie stadium was Oom Jim se stem al krakerig en kon ‘n nattigheid op die wang bespeur word. Toe kom hy met sy toepassing. Die politiek, se hy, is vir hom so ‘n eiland. Dit is lekker en hy is gelukkig. Maar dit word tyd om huis toe te gaan, terug na sy “vaderland”, na Babel toe. Toe juig die Rouxvillers en stroom die trane.
Babel was die naam van sy plaas in die distrik, en die jong Van Deventer dag hy het ‘n goeie storie: Jim Fouche wil uit die politiek; sy kop staan plaas toe. As ek reg onthou, was dit nog op die plakkaat ook – maar toe kom niks van die uittree-planne nie en word hy selfs later staatspresident. Wys jou net weer: ‘n mens moenie elke ding wat ‘n politikus kwytraak vir soetkoek opeet nie. Dan word jy die skaapkop!
‘n Ander mooi Oom Jim-storie is van ‘n vername kunsgeleentheid wat hy moes open. Die toespraak word vir hom geskryf deur ‘n taamlik aweregse kunsdosent. Oom Jim hou hom streng by die notas in sy hand, maar kyk skielik op: “Nou stem ek glad nie saam met wat ek hier se nie!”
Oor Wilhelm Jordaan (die latere sielkunde-professor) het ek ook ‘n woordjie op die hart: hy was een van die beste. Die akademie se wins was die joernalistiek se enorme verlies. En dis op ‘n manier my skuld dat hy een middag onwrikbaar besluit het om so radikaal van loopbaankoers te verander.
Daar was ‘n vliegtuigongeluk by Brandfort, en een van die oorledenes was ‘n bekende Bloemfonteinse sakeman, Rowley Roderick. Ek (nuusredakteur) stuur my beste verslaggewer na die toneel.
Toe Jorrie terugkom by die kantoor, was hy bleek om die kiewe. Die mensevernietiging wat hy op daardie ongelukstoneel moes aanskou, het hom diep ontstel. Dit is iets wat hy nooit weer wou sien nie, dankie.
Die ironie was dat Jorrie maar ‘n joernalis kon gebly het. Hy sou so ‘n toneel waarskynlik nooit weer gesien het nie, want hy was vir groter dinge uitgeknip as om oor die neerstorting van klein vliegtuie verslag te doen.
In elk geval, dis ‘n mooi storie wat hy met kleur en geur in Van Alle Kante van 29 Mei vertel – soos net ‘n eersteklas-joernalis dit kan doen.
Ek kan dit nie kleinkry nie dat Oom Bart nie sy skaapkop-storie wou publiseer nie – omdat dit nie pas by die “statuur van die amp” nie en oor wat “die mense” dan sou dink van ‘n staatspresident wat skaapkop eet, met ‘n knipmes nogal.
Nee, Jorrie, in daardie opsig was jou joernalistieke instinkte reg – jou skaapkopstorie was skitterende stof vir ‘n voorbladstoep.
Groete
HvD
