In Sabiepark loop ons op die oomblik omkyk-omkyk. Dis ons weergawe van die “luiperd-loop”. ‘n Fris kalant het hier ingetrek en duik hier, daar en oral op. Hy is so tuis in Sabiepark soos ‘n hoender op ‘n winkelstoep.
Patson, ons eersteklas-handlanger, ag dit gerade om nie na ‘n dag se harde arbeid alleen langs die pad te gaan sit en wag op vervoer nie. Te gevaarlik!
By die hek moet jy ‘n vorm teken dat jy kennis neem van ta se teenwoordigheid. Dis dieselle meneer wat onlangs op Fickie Visagie se stoep afgeneem is. Die waarskuwing lui dat hy nie aggressief is nie, maar bly maar in jou pasoppens. Moenie met hom sukkel nie. Retireer stadig – wat in omstandighede dalk ‘n uiters moeilike opdrag kan wees om uit te voer!
Die waarskuwing by die hek sluit ook die spesie olifant in. Onlangs was hier twee Grootvoete wat deur die draad gebreek het tussen die piekniekplek en die brug. Maar hulle is darem weer uit, terug Wildtuin toe.
Teen die regte rampokkers – die hienas en die bobbejane – word ‘n mens nie gewaarsku nie.
Die voorhoede van eersgenoemde was al eergisteraand op ‘n inspeksie in loco. Kom doen blykbaar ‘n opname oor wat hier te knaag is. Onlangs is Tokkie se tuinslang tot stukkies wors-lengtes (“anderhalf duimpie”) gereduseer.
Toe ek dit vir Patson wys, grinnik hy: “tsotsi”. Dis wat hulle is.
Die bobbejane was dadelik hier rond. Aan die trant van hul boggoms hoor ‘n mens dat hul duiwelsplanne smee.
Die goeie nuus is dat twee klein kameelperdjies slaag om te midde van al die bosgevare te oorleef. Die drie voor hulle was minder gelukkig.
Sabiepark is heerlik: groen, dikwels bewolk en met groot koeltekolle by Tarlehoet se voorstoep. Die swembadjie is gou reggeruk deur “Mev.Pool Doctor”. Drie paddareste is uitgevis, Tokkie suig aan haar “bos-kreely-kraupy” vir ‘n vale en handevol chloor doen dit res. Spiekeries. Min dinge kan lekkerder wees as om in die somer in die bos in jou eie swembadjie te kan induik.
Jy voel sommer dadelik tuis as nagapies die eerste aand kom piesang soek, olifante halflyf in die Sabierivier kom afkoel, die luidrugtige kakelaars by ontbyt opduik, die blou-apies die voels se pitjies kom gaps en die skuimpaddas se liefdesnessie bokant jou watergat hang.
Net Witnek bly weg. In sy plek kom ‘n kruppel duikertjie. Sy kanse op oorlewing lyk skraal…
Wat opval, is hoeveel bosbokkies hier rondloop. En oral is kleurryke spinnekoppe besig om reuse-ragfyn-webbe te spin.
Swak tydsberekening is aan die dag gele toe 30 buffels by die piekniekplek opdaag tegelyk met ses kameelperde by Tarlehoet. Ons is rivier toe om foto’s te neem. Van die kameelperde het Tokkie vir die tweeling sketse gemaak. Haar model was die langnek-karikatuur op die Tall Horse-wynbottel.
‘n Persoonlik plesier word deur die foto hierbo ge-illustreer. Dit is om my bosboeke, Buurman van die Wildtuin, Mayafudi en Mayafudi – memories of an elephant, oral op die rakke in die Wildtuinwinkels en ook by die Protea-hotel te sien. Dit was ‘n hele aardigheid toe Tokkie die foto neem. Klante kon nie verstaan wat al die opgewondenheid veroorsaak nie! (HvD)
