Vanoggend het Julie se leeu-telkaart vir Sabiepark se piekniekplek op agt gestaan. Toe kom die vuilbaarde weer – die negende dag … en die maand is nog nie verby nie.

Ons is so skuins voor 12:00 saam met Eric en Sannie Wiese en Hennie en Babs Conradie van Kaapstad piekniekplek toe. Eric en Hennie is oud-kollegas by Naspers. Hulle het hier langs gery op pad van Sabie-Sand na die Kruger-wildtuin.

Drie leeus le toe op die groot rots in die son en bak en ‘n paar ander – ook die welpies – stap onder rond. Hier is die foto van die drie. In ‘n stadium was sewe op die rots, verseker Tokkie my. Dit was toe ek besig was om lense te verwissel vir ‘n “spanfoto” van die Van Deventers, Wiese en Conradies.

‘n Luiperd het ook vanoggend by die piekniekplek aangesuiker gekom. Vir hom was ons te laat.

By die huis het twee bloukuifloeries darem kom bad – dis ook pragtig om te aanskou.

Van al die vorige leeu-opwinding van Julie word in die blog hieronder vertel. (HvD)

Deel dit: