Slaan maar oor, slaan maar oor as die Sage van die Ongepubliseerde Brief jou al ‘n pyn gee op ‘n plek wat in ‘n ordentlike webjoernaal net onder die uiterste provokasie by sy kort naam in plat Afrikaans genoem word.
Moet darem net die volgende ontwikkelinge rapporteer:
(i) Nadat sienswyses oor-en-weer in e-posse uitgeruil is, het ek en Liza Albreht, Redakteur van By, akkoord bereik oor Saterdag se hantering van my repliek in By. Liza is ‘n oulike meisie met ‘n verfrissende benadering van: erken jou foute en stel dit reg.
(ii) Volksblad het vandag my eerste brief gepubliseer – wel taamlik mosterd na die maal nadat die reaksies Saterdag al sy lesers met tsoenamigeweld getref het, maar darem ook met ‘n aanvaarbare verduideliking hoe die vurk in die hef steek. Die brief is as hoofbrief geplaas (foto hierbo) wat natuurlik niks minder as reg is nie. Verligte Afrikaner se frontaanval op die uwe was immers Saterdag in By oor die breedte van die blad bo-aan bladsy twee gepleister met die nogal smalende opskrif: Nee, vriend, Hennie, jy was mos nie Max du Preez nie!
Asof Max se klein blaadjie met sy beperkte sirkulasie van plus-minus 5 000 per week nou waarlik op pad na ‘n nuwe bedeling die brug sou laat bewe het – maar dis ‘n ander storie.
Iets wat in hierdie dae tot my deurgedring het, is dat bloedmin van die koerantgeskiedenis van die jare na 80 in boeke opgeteken is. Dis ‘n leemte, en selfs gerekende geskiedskrywers soos Giliomee en Mbenga het as gevolg daarvan in ‘n slaggat getrap.
My eie Kroniek van ‘n Koerantman is al lank uit druk. Maar hy’s darem in heelparty biblioteke op die rak en staan ook in die Navorsingsentrum van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument.
Niks wat in daardie boekie staan, is nie die waarheid nie – al se die “Verligte Afrikaners” van die huidige generasie nou ook wat. Glo my maar, daardie kroniek is so juis as kan kom.
Maar wag, ek het my voorgeneem om nie weer onnodig opgewonde te raak nie. Na al die bakleiery van die laaste paar dae gaan ek en Tokkie liewer netnou fliek: Edith Piaf se La Vie en Rose in die Cinema Nouveau by die Waterkant. Die Mossie van Parys – ek is mal oor haar, veral oor Milord en Les Trois Cloches (die drie klokke). Dis op ‘n langspeler wat Jan-Jakob de Jager vir my en Tokkie as trougeskenk gegee het.
Hommage a Piaf – ai, hier sak die nostalgie weer op die ou gryse toe soos digte mis… (HvD)
